Esra 3:2-8

Esra 3:2-8 DB

Jesua seun van Josadak, saam met die priesters en Serubbabel seun van Sealtiël saam met sy helpers, het daar vir die Here ’n offerplek gebou. Hulle wou op die altaar offers vir die Here bring soos Moses dit voorgeskryf het. Hulle was maar bang vir die ander volke wat ook in die land gebly het. Hulle het nogtans die altaar op die plek gebou waar die tempel vroeër gestaan het. Hulle het elke oggend en elke aand vir die Here offers op die altaar gebring. Hulle het die fees van die hutte gevier, soos dit vir hulle in die wet voorgeskryf is. Hulle het elke dag van die fees die offers gebring wat vir daardie dag voorgeskryf is. Na die fees het hulle begin om gereeld daar vir die Here te offer. Hulle het ook gereeld die offers vir die sabbat en die fees van die nuwemaan gebring en vir al die verskillende ander feeste wat vir die Here gehou word. Hulle het weer begin om soos vroeër vrywillige offers vir die Here te bring. Van die eerste dag van die sewende maand af het hulle dus begin om weer gereeld daar by die plek waar die tempel was, vir die Here te offer. In daardie stadium was die hoeksteen van die nuwe tempel nog nie op sy plek gesit nie. Hulle het mense gehuur wat geweet het hoe om klippe vierkantig te kap waarmee hulle die tempel kon bou. Hulle het ook by die Sidoniërs en Tiriërs die dinge geruil wat hulle nodig gehad het. Hulle het by hulle kos, drank en olyfolie geruil vir sederhout wat die Sidoniërs in die Libanonberge gaan kap het. Hulle het van die boomstompe vlotte gemaak en dit in die see vir hulle na Joppe toe gebring. Dit was wettig. Die opdrag van Kores, die koning van Persië, het hulle toegelaat om dit te doen. Serubbabel, Jesua, al die ander priesters en die Leviete en almal wat teruggekom het, het met die bouwerk begin. Dit was in die tweede maand van die tweede jaar nadat hulle by die plek in Jerusalem aangekom het waar die tempel vroeër gestaan het. Hulle het mans uit die familie van Levi wat ouer as twintig jaar was, aangestel om te kyk dat die ander reg bou.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid