Leesplan inligting

Oor Niks BeangsVoorbeeld

Anxious for Nothing

DAG 1 VAN 5




Wees Altyd Bly in die Here


Angs is 'n stortreën van "wat as'e". Wat as ek nie die transaksie sluit nie? Wat as ons nie draadjies vir die kinders se tande kan bekostig nie? Wat as my kinders skewe tande kry? Wat as skewe tande hulle daarvan weerhou om vriende te hê ... 'n loopbaan ... 'n huweliksmaat? Angs is die lewe in 'n mineur toonleer met majeur bekommernisse.


Is jou hart swaar van bekommernis? Het jy 'n bietjie kalmte nodig? Indien wel, is jy nie alleen nie. Om angs en bekommernis te oorwin, verg 'n bietjie werk van jou kant af, maar dit is nie God se wil dat jy 'n lewe van voortdurende angs lei nie. God het sy kinders lief. Hy hou toesig oor jou wêreld. Hy hou jou lewe dop.



In Filippense 4:4 bied Paulus raad wat as 'n "voorskrif" teen angs en bekommernisse beskou kan word. Interessant genoeg begin hierdie voorskrif met 'n oproep: "Wees altyd bly in die Here." Paulus het elke hulpmiddel tot sy beskikking gebruik om sy lesers se aandag te trek. Eerstens gebruik hy 'n werkwoord sodat mense weet hulle moet iets doen, hulle moet "voortdurend, uit gewoonte bly wees!" Asof die werkwoord nie genoeg is nie, het hy die vervaldatum verwyder: "Wees altyd bly in die Here." Nog steeds was dit nie vir hom genoeg nie en herhaal hy die opdrag: "Ek herhaal: Wees bly!"



Hoe moet jy egter hierdie opdrag gehoorsaam? Deur die opperheerskappy van God te erken. Die mees gespanne mense is beheervrate. Hoe meer hulle probeer om die wêreld te beheer, hoe meer besef hulle dat hulle nie kan nie. Die lewe word dan 'n kringloop van angs, mislukking; angs, mislukking; angs, mislukking. Wanneer jy erken daar is reeds Iemand op die hemelse troon, laat jy toe dat die Here beheer oorneem. God kalmeer dan jou vrese — nie deur die probleem te verwyder nie — maar deur sy Goddelike krag en teenwoordigheid te openbaar. Jou angs neem af namate jou begrip van God, jou Vader, toeneem.



Volgende keer wat jy die toekoms vrees, moet jy liewer jouself verbly in die Here se opperheerskappy. Wees bly oor wat Hy bereik het. Wees bly dat Hy in staat is om te doen wat jy nie kan doen nie. Vul jou denke met gedagtes oor Hom. Waar ander die probleme van die wêreld sien en hul hande begin wring, moet jy daardie probleme sien en jou knieë buig. Verhef jou denke doelbewus met gedagtes oor jou koning. Moenie in jou probleme verstrengel raak nie. Waag dit om te glo dat goeie dinge sal gebeur. Ondersoek wat jou geloof onderhou en maak seker dat jou geloof in God gevestig is om te kan vertrou dat Hy in beheer is.



Besef ook dat God jou van die skuldgevoelens en moeras van spyt bevry het wat dalk jou angs veroorsaak. Skuldgevoelens wat nie besleg is nie, kan jou in 'n mens verander wat wegkruip, hardloop, ontken en voorgee. Skuldgevoelens kan die lewe uit jou siel suig. Genade herstel egter daardie lewe en help jou om God se vergifnis te vertrou. Die resultaat is die vermoë om ongehinderd bly te wees, met vertroue in God se opperheerskappy.



Jou Vader se hande is oop, plaas jouself dus geheel en al in sy sorg. Terwyl jy dit doen, sal jy agterkom dat dit moontlik is — ja, moontlik! — om oor niks angstig te wees nie.



Reageer



Hoe is vreugde 'n keuse? Hoe lyk vreugde in die Here vir jou?



Hoe sou jy beskryf hoe jy in God se beheer oor jou lewe vertrou? Noem 'n paar maniere waarop jy God se oppermagtige hand in jou lewe al sien werk het.



Hoe kan deur elke dag tyd in God se teenwoordigheid deur te bring, jou help om jou altyd in die Here te verbly?


Dag 2

Aangaande hierdie leesplan

Anxious for Nothing

Topverkoper skrywer Max Lucado ondersoek God se behandelingsplan vir angs wat in Filippense 4:4–8 gevind word. Terwyl jy hierdie voorskrif volg — ​​om God se goedheid te vier, om sy hulp te vra, jou bekommernisse by Hom ...

More

Ons wil graag vir Max Lucado, HarperCollins en Thomas Nelson bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.thomasnelson.com/9780310087311/anxious-for-nothing-study-guide/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid