Leesplan inligting

Die Boek van Kolossense: Is Jesus Genoeg?Voorbeeld

Die Boek van Kolossense: Is Jesus Genoeg?

DAG 5 VAN 5

Is Jesus genoeg vir jou lewensdoel?

Ons het sekerlik almal al telefoongesprekke op ʼn ongemaklike wyse afgesluit of emosioneel oorreageer wanneer ons iemand by die lughawe groet. Die manier waarop mense totsiens sê openbaar baie keer wat vir hulle belangrik is. Net so openbaar die manier waarop Paulus sy brief aan die Kolossense afsluit God se begeerte dat ons doelgerig moet lewe, met 'n lewensdoel voor oë.

Naby aan die einde van sy brief maak Paulus die volgende gewigtige stelling: “Pak alles gemotiveerd aan. Werk soos vir die Here en nie soos vir mense nie. Weet dat die Here julle met ’n erfdeel sal beloon. Die Eienaar vir wie julle werk, is Christus!” (Kolossense 3:23-24). Sally Lloyd-Jones sê: “Die Koninkryk van God is enige plek waar God as Koning gedien word.” In Kolossense 3 en 4 illustreer Paulus hierdie stelling met verskeie voorbeelde (werk, familie, kerk). Hy is beskrywend eerder as voorskriftelik in 'n poging om sy lesers se verbeelding te prikkel en hulle te laat droom oor hoe die wêreld sal verander as hulle elke area van hulle lewe aan God sou wy.

In Kolossense 3:22 en 4:1 skets Paulus 'n prentjie van hoe ons God heelhartig moet dien deur ons werk wanneer hy beide slawe en eienaars aanspreek (dink: werknemers en werkgewers). Ons beskou gereeld ons beroep deur wêreldse oë: 'n salaris wat verdien moet word, kollegas wat vermy moet word, take wat afgehandel moet word voordat ons die naweek bietjie kan ontspan. Jesus het dit egter alles kom verander. Jou werksplek moet eintlik jou bedieningsveld wees met jou uitnemendheid en toegewydheid wat getuig van die God wat jy aanbid.

In Kolossense 3:18-21 moedig Paulus ons aan om Jesus die middelpunt van ons families te maak deur hulle selfopofferend lief te hê. Dinge sal verander soos wat jy jou huwelik, ouerskap en wyer familieverhoudings aan Jesus oorgee. Daar gaan vir seker uitdagings wees, maar jy sal ongekende vreugde begin ervaar.

In Kolossense 4 help Paulus ons om in te sien hoe God se doel deur die kerk uitgeleef kan word as ons Jesus die middelpunt van alles maak. Hy noem 'n paar mense op die naam en verwys na hulle as “medediensknegte van die Here”. Epafras het, byvoorbeeld, volhard in gebed vir die Kolossense. Verbeel jou iemand het ook so onverpoos vir jou gebid. Dink daaraan om dieselfde weldaad ook aan iemand anders te bewys deur ernstig vir hulle te bid. Dit is baie meer vervullend en opwindend om 'n aktiewe deelnemer – eerder as 'n passiewe toeskouer – in God se koninkryk te wees.

Kort nadat Disney World voltooi is, het iemand vir Mike Vance (die direkteur van Disney Studios) gevra: “Is dit nie jammer dat Walt Disney dit nooit gaan sien nie?” Vance het egter geantwoord: “Hy het dit gesien – dis waarom dit hier is.” Vra God om jou die maniere waarop Hy sy koninkryk deur jou kan uitbou, te sien. Daar is geen beperking op wat God in en deur jou kan doen as jou lewe totaal en al oorgegee is aan Jesus nie. Vra jouself voortdurend af: Is Jesus genoeg vir my kerk? My lewe? My redding? My karakter? My lewensdoel? Mag jou lewe spreek van 'n klinkende ja op hierdie vrae en mag jy die oorvloedige lewe lei wat Jesus deur sy dood vir jou bewerk het.

Hierdie leesplan is aangepas uit die reeks “The Book of Colossians: Is Jesus Enough?”, op RightNow Media. Vir meer inligting, besoek: https://www.rightnowmedia.org/af/get-access

Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Die Boek van Kolossense: Is Jesus Genoeg?

Daar was nog nooit ʼn meer indrukwekkende persoon as Jesus van Nasaret nie. Is Hy egter genoeg? Genoeg vir jou redding, jou karakter, jou lewensdoel? Genoeg vir jou hele lewe? In hierdie vyf-dag leesplan gebruik Jo Ströhf...

More

Ons wil graag Doxa Deo bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.doxadeo.org/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid