Leesplan inligting

Kom Sit By MyVoorbeeld

Come Sit With Me

DAG 5 VAN 7

Die Vader het nooit bedoel dat ons die las moet dra om ander mense se menings oor ons te verander nie. Hy het ook nooit bedoel dat ons verantwoordelik moet wees vir ander mense se emosionele laste, hul sonde en wonde nie.


Ek het geleer om gesonde grense te stel en ek moes vir God krag vra om die waarheid te praat met mense in my lewe wat my skade berokken het. Dit was nie vir my maklik nie. Dalk is dit ook nie vir jou maklik nie. My pa het ons verlaat toe ek sewe was. My ma was nie 'n liefdevolle mens nie. Sy het my verbaal en emosioneel mishandel en het my altyd my keuses laat bevraagteken. My ma het my beheer deur my skuldig te laat voel en dan het ek my liefde aan haar bewys deur die dinge te doen wat sy wou hê.


Ek het egter 'n liefdevolle hemelse Vader wat al daardie dinge herskryf het. Te danke aan Jesus, hoef ek nie in al die pynlike en vernietigende gedragspatrone uit my verlede vasgevang te bly nie. Jesus ontmoet ons net daar waar ons is en nooi ons in 'n nuwe lewe saam met Hom.


Op my reis na genesing, het ek al die ou-ingewortelde, ongesonde gedragspatrone herken wat ek gebruik het om mense mee te paai wat my skade aandoen. Ek was verkeerdelik onder die indruk dat as ek hulle genoeg liefhet, beter versorg, of vriendeliker teenoor hulle was, dan sou hulle nie meer skadelik wees nie. Jy kan egter nie ander mense verander nie, maar jy kan gesonder maniere aanleer om moeilike verhoudings te hanteer.


Met hierdie vyf wenke kan jy mense hanteer wat jou skade aandoen:


1. Moenie stilbly nie. Jy maak saak. Vertel iemand van die persoon in jou lewe wat jou skade aandoen.


Dit is nie jou werk om die persoon wat jou seergemaak het te beskerm nie. Jy moet jouself beskerm. Jy is liefde waardig. Die eerste tree om jouself te beskerm, is om die waarheid te praat. Jy het jou allerbeste gedoen om daardie persoon te beskerm wat jou wond of gewond het. Om egter in stilte te ly, is nie wat ons liefdevolle Verlosser vir ons begeer nie.


2. Skep grense. Selfs as jy skuldig voel, beteken dit nie dat jy skuldig is nie.


Deur hul woorde of gedrag wil die persoon beheer oor die bose kringloop van jul verhouding en lewe neem. Wanneer jy grense stel, sal hulle ontsteld raak en dinge sê wat jou skuldig laat voel om jou sodoende binne jou vrese, passiwiteit en stilte te hou. Net omdat die persoon jou daarvan beskuldig dat jy nie omgee nie, oorsensitief is of selfsugtig, beteken dat dit waar is nie. Jy hoef nie jou grense te verduidelik nie. Jy het die vryheid om jou eie grense te stel en jou welstand te beskerm.


3. Werf ondersteuning en oefen selfs rolspel gesprekke.
Om selfversekerd te wees en standpunt teenoor 'n skadelike persoon in te neem, is dalk 'n nuwe, vreemde en effens vreesaanjaende ervaring as jy nog nooit toestemming gehad het om so op te tree nie. Weet jy nie wat om te sê of waar om te begin nie? Dis in orde. Moenie skaam wees om 'n liefdevolle vriend se hulp te vra om 'n draaiboek te skryf en jou gesprek om grense te stel met jou te rolspeel nie. Ons het almal hulp en ondersteuning nodig om nuwe gedragspatrone te oefen en ons eie te maak. Dit is wat ek doen.


4. Beperk die tyd wat jy met mense deurbring wat jou skade aandoen.


Mense wat jou emosioneel seermaak, is gewoonlik baie goed om te intimideer, te manipuleer en jou aan jou gesonde verstand te laat twyfel — werk dus sagkens met jouself. Dit is tog so maklik om verward, angstig en bang te voel, of te vries wanneer jy by die persoon is, daarom moet jy jou tyd by die persoon beperk. Wanneer die gesprek oorweldigend raak, moet jy uitwys wat die persoon gedoen of gesê het en hoe dit jou laat voel het; ook wat jou optrede vorentoe gaan wees en die veranderinge wat jy gaan maak. Moenie die persoon se toestemming hiervoor vra nie. Jy vra nie vir hom of haar om saam te stem nie. Jy sê net wat jou grense nou is.


5. Treur oor jou verwagtinge en drome wat jy begrawe het.
Ek moes treur oor van my verwagtinge en drome vir die ideale vriend, mentor en ma, sodat ek kon groei in die dogter van 'n liefdevolle hemelse Vader. Dit is vir God belangrik dat ons Hom met die waarheid vertrou, selfs as dit ons seermaak. Ons kan krag-gevulde rus ervaar wanneer ons die laste, wat ons eintlik nooit moes gedra het nie, aan God oorgee.


Mense vra my soms of ek my ma vergewe het vir die dekades van verbale en emosionele mishandeling. Ek is deur die harde werk om te treur en om te gesond te word. Ek het my ma vergewe. Sy was my hele lewe en ek het haar liewer as wat enigeen sal verstaan.


Dit is so dat net een mens nodig is om te vergewe, maar twee mense is by versoening betrokke. Om 'n ouer, huweliksmaat, vriend, mentor of pastoor te vergewe, beteken nie dat ons die grense vir skade, vrees, intimidasie of manipulasie oopmaak nie. Ons kan begin om gesonder keuses te maak ter wille van onsself wat die ou, pynlike gedragspatrone verbreek. Ons kan ophou om mense in ons lewens in staat te stel om skade aan te rig sodat hulle ook voor God met die waarheid van hul eie gebrokenheid te staan kan kom.


— deur Bonnie Gray


Dag 4Dag 6

Aangaande hierdie leesplan

Come Sit With Me

Menswees is moeilik. Om met ander mense in verhoudings te wees is selfs nóg moeiliker. Of jy jou weg deur politieke of godsdienstige verskille voel, met giftige mense te doen het of met jou eie onvergewensgesindheid, is ...

More

Ons wil graag dankie sê vir Baker Uitgewers wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting, besoek: https://bakerbookhouse.com/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid