Leesplan inligting

Lewe Veranderd: Deur Jou DroefheidVoorbeeld

Living Changed: Through Grief

DAG 1 VAN 5

Om Vasgevang te Voel

Voel jy ooit asof niemand verstaan waardeur jy gaan nie? Asof hulle nie weet hoe om jou te troos nie en uiteindelik is jy die een wat probeer om hulle te laat beter voel? Of selfs erger: dit voel of almal aangegaan het met hulle lewens en jou agtergelaat het.


As jy in rou of pyn vasgevang voel, is ons bly jy is hier! Die beste ding wat jy kan doen is om jou na die Woord van God te keer vir hoop en genesing.


Ons weet uit eie ervaring hoe afgesonder 'n mens kan voel wanneer jy 'n geliefde verloor, maar ons belowe jou, jy is nie alleen nie. Baie mense was al waar jy nou is — Jesus inkluis. Hy weet ook hoe hartverskeurende verlies voel.


Die Johannes-evangelie vertel die verhaal van Jesus se goeie vriend, Lasarus, se dood. Toe Jesus aanvanklik uitgevind het dat Lasarus siek is, het Hy nie onmiddellik gejaag om sy vriend se lewe te red nie. Hy wag 'n paar dae voordat Hy die reis aanpak en teen die tyd dat Hy daar aankom is Lasarus reeds dood. Indien jy vertroud is met die verhaal, weet jy dat Jesus toe vir Lasarus uit die dood opgewek het. Voordat Hy dit doen, huil Jesus.


Lasarus se dood was nie 'n verrassing vir Jesus nie. Ons weet dit, want voordat Hy vertrek het om Lasarus te besoek, het Jesus aan sy dissipels gesê dat hulle vriend se siekte nie op die dood sou uitloop nie. Hy het verduidelik dat wat hulle sou deurgaan wel sou uitloop "op die openbaring van die wonderbaarlike mag van God, sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan word" (Johannes 11:4). Selfs al het Hy geweet dat Lasarus sou opstaan, was Jesus aangedaan en het Hy gehuil.


God sien nie neer op jou droefheid nie. Hy sluit by jou aan in jou pyn. Hy sit by jou en huil saam met jou, net soos Jesus saam met Maria en Marta gehuil het toe hulle, hulle broer verloor het. Dit is nie sonde om hartseer te wees wanneer jy iemand naby aan jou verloor nie. Dit is 'n natuurlike, nodige emosie waarmee ons God self persoonlike ervaring het.


Wanneer jy voel asof niemand jou verstaan nie, onthou: God verstaan. Hy is voortdurend en deurgaans by jou. Hy sal jou nooit verlaat nie. Jou hartseer sal Hom nooit ongemaklik maak nie. Hy sal nooit van jou pyn vergeet nie. Hy sal nooit aanbeweeg of jou agterlaat nie. Hy is naby, leun dus teen Hom vir troos.


Vader, dankie vir u nabyheid wanneer ek seer het. Baie dankie dat U altyd presies weet wat ek nodig het en vir u genade waarmee U my so ruimhartig toevou — veral te midde van moeilike tye. Herinner my asseblief dat ek nooit alleen is nie en dat U altyd by my is. Help my om op my laagtepunte na U uit te reik. U is my troos en my vrede.
Amen.


Dag 2

Aangaande hierdie leesplan

Living Changed: Through Grief

Om 'n geliefde te verloor is hartverskeurend. Dit is 'n verskriklike pyn wat niemand kan verstaan nie, tensy hulle self in jou skoene gestaan het. Hierdie 5-dag leesplan is geskryf deur vroue wat self verlies ervaar het ...

More

Baie dankie aan Changed Women's Ministries wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting besoek asseblief: http://www.changedokc.com

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid