Leesplan inligting

Wees Veilig by GodVoorbeeld

Wees Veilig by God

DAG 1 VAN 7

Jy is ’n kind van God

Die Boodskap gee die laaste deel van vers 12 só weer: “Jesus het vir hulle gedoen wat nodig was om God se kinders te word.”

Oordenking

Wanneer jy jou lewe saam met God begin, ís jy ’n kind van God. Hierdie feit bepaal jou bestaan, doen en behoort.

Kom ons staan eers stil by jou bestaan en doen, want op ’n manier kan dié twee nie eintlik geskei word nie. Wie jy is (bestaan), bepaal hoe jy optree (doen).

Wat maak kinders so uniek anders as volwassenes? Wat maak dit so lewensveranderend om te hoor dat jy ’n kind van God is?

  • Kinders is afhanklik. Hulle het hulle ouers nodig en kan dikwels nie sonder hulle hulp klaarkom nie. Dis hoe ons altyd voor God, ons hemelse Ouer, behoort te wees. “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel” (Matt. 5:3).
  • Kinders het ’n kort geheue. Hulle dra nie wrokke of griewe rond nie. Jesus se beginsel om 70 x 7 keer te "vergewe" (Matt. 18:21-22), geld vir hulle. Hulle is sterk op vergifnis. In hierdie voetspore kan ons gerus stap.
  • Kinders besit die vermoë om hulle te verwonder. Die lewe is vir hulle nog wonderlik. Dít waarby geloof staan en val – die onmoontlike is vir God moontlik (Luk. 1:37) – is vir hulle werklikheid. Dit moet vir ons ook so wees. Soos Walter Brueggemann, die Ou Testamentiese teoloog, gesê het: “As jy nog nie glo dat God die onmoontlike kan doen nie, glo jy nog glad nie.”

Dit is sommer net ’n paar verskille tussen kinders en volwassenes. Maar om te weet jy is ’n kind van God, het ook alles te doen met jou “ek behoort”-gevoel.

Ons almal voel soos Tiemie in PG du Plessis se Siener in die suburbs gesê het: “’n Mens wil nie soos ’n hond vrek nie. Jy wil van geweet wees.” Om ’n kind van God te wees is om te weet jy behoort. Dis om te weet jy is deel van die familie van God en Hy is jou Ouer – die volmaakte Een met die oop arms en die breë glimlag.

God is die volmaakte Ouer wat jou áltyd liefhet, jou troos en in al jou behoeftes voorsien. God is die Een wat in Jesus Christus steeds vir jou wys hoe lief Hy jou het.

Jý is kind van God!

Word stil

Here

Dankie dat ek 'n kind van God kan wees – net soos ek is. Dankie dat U my Ouer is wat my dra, troos en luister wanneer ek na U roep en dat u genade geen einde het nie. Hou my vas en dra my in u liefde.

Amen

Dag 2

Aangaande hierdie leesplan

Wees Veilig by God

Hierdie leesplan wil jou vertel oor jou bestaan, wat jy doen en aan wie jy behoort sodat jy elke dag kan hoor hoe jou hemelse pa in jou oor fluister: “Goeie genade, jy is spesiaal!” Omdat God jou oorlaai met sy genade. H...

More

Ons wil graag vir Bybel-Media bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://www.biblemedia.org.za/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid