Leesplan inligting

In Jesus Is Jy...Voorbeeld

In Jesus Is Jy...

DAG 1 VAN 29




Welkom by ons In Jesus Is Jy ... studie. 


Wie is ek? Waarom is ek hier? Maak ek saak? 


Dit is vrae wat ons almal al die een of ander tyd gevra het. Deur die loop van ons lewe probeer ons verstaan wie ons is, waarom ons geskep is en wat ons doel in die lewe is. Nie een van hierdie vrae kan beantwoord word sonder ‘n begrip van wat ons identiteit is nie. 


As ons nie weet wat ons identiteit is nie, kan ons nie leef soos ons bestem is om te leef nie. Dit is maklik om ons identiteit deur ons gesin, loopbaan, vriende, stokperdjies of nasionaliteit te definieer. Ons identiteit word dikwels bepaal deur ons optrede, woorde of reputasie. 


“Iemand wat aan Christus behoort, is 'n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.” –2 Korintiërs 5:17


In Christus het ons net een identiteit wat saak maak. Ongeag hoe ons onsself definieer, ons identiteit in Christus bly onveranderd. Hy het ons van sonde vrygemaak, ons uit die duisternis gered en van skande verlos. Deur Hom word ons God se kinders genoem, aangeneem in God se familie en burgerskap gegee in Christus se Koninkryk. In Christus is ons gered, verseël, vergewe, uitgekies, geseën en bekragtig.


In Christus Is Jy ... is ‘n vier weke lange Bybelstudie oor ons identiteit in Christus. Ons kan, deur te fokus op die waarheid wie ons is in Christus, wat Hy deur sy offergawe vir ons gegee het, en hoe ons as sy kinders verseël is, ons ware identiteit verstaan. Namate ons geloof groei, kan ons versekering en vertroue toeneem van wie ons in Hom is. 





S.O.A.P.


Hier by Love God Greatly Afrikaans, gebruik ons die SOAP-metode vir ons Bybelstudies. Die SOAP-metode maak dit vir jou moontlik om dieper te delf in die verse en meer te sien as wanneer jy net eenvoudig die verse lees en dan aangaan. Ons wil jou aanmoedig om jou tyd te gebruik om die daaglikse verse te S.O.A.P. en self te sien hoeveel meer jy uit jou daaglikse stiltetyd sal kry.




Wat beteken S.O.A.P.?


S – Die S staan vir Scripture – jy skryf die teksverse neer ... jy sal verbaas wees om te sien wat God aan jou sal openbaar in sy Woord deur net die tyd te neem om die verse neer te skryf!


O – Die O staan vir Observation – wat sien jy in die verse wat jy lees? Wie is die gehoor? Is daar ‘n herhaling van woorde? Watter woorde staan vir jou uit?


A – Die A staan vir Application – Dit is wanneer die Woord van God persoonlik word. Wat sê God vandag vir my? Hoe kan ek dít wat ek nou net gelees het, in my eie lewe toepas? Is daar iets wat ek moet doen? Watter veranderinge moet ek maak?


P – Die P staan vir Prayer. Bid die Woord van God terug na Hom toe. As Hy iets aan jou geopenbaar het gedurende hierdie tyd in sy Woord, bid daaroor. Bely as Hy vir jou op sonde in jou lewe gewys het.





Inleiding:


Identiteit word gedefinieer as wie of wat 'n persoon of iets is. Dit is maklik om ons identiteit te definieer deur ons gesin, ons loopbaan, ons vriende, ons stokperdjies of ons nasionaliteit. Ons bepaal dikwels ons identiteit deur ons optrede, ons woorde of ons reputasie (wat ander van jou dink en die werklikheid). Ons skep 'n identiteit beide bewustelik en onbewustelik. Ons het almal 'n unieke identiteit, maar dit kan moeilik wees om vas te stel hoe ons identiteit gevorm is of hoekom ons onsself op 'n bepaalde wyse definieer. Dit kan moeilik wees om te weet of ons identiteit eg is, en of ons vir onsself 'n valse identiteit gegee het.


Ons kan nie ons volle potensiaal uitleef sonder om ons ware identiteit te ken nie. In Christus het ons 'n veilige, onveranderlike identiteit. Hy het sy stempel op ons lewens afgedruk deur sy lewe, dood en opstanding. Sy werk aan die kruis het ons verander, ons gemerk as sy eie.


Deur die offer van Christus kan ons nuut gemaak word. Hy het die prys vir ons sondes betaal, sodat ons sonder skuld en skande kan leef. Hy het ons sonde bedek en ons 'n nuwe mens gemaak. Ons is vergewe in Hom, vrygespreek deur sy offer. Ons is verlos uit ons vorige lewenswyse, beseël as syne vir ewig.


Hoewel dit dikwels die moeilikste vir ons is om te glo, bly ons identiteit in Christus vas. Hy het ons gekies. Hy het ons verlos. En Hy sal ons nooit laat los nie. As ons gekies het om ons geloof in Christus te plaas, is ons God se kinders en is ons vir ewig veilig in Hom.


Terwyl jy jou identiteit in Christus bestudeer, vra God om voortdurend sy liefde vir jou te openbaar. Vra Hom om dele van jou lewe te ontbloot waar dit moeilik is om sy waarheid te glo. Dis God se begeerte dat jy sal weet wie jy in Hom is. Kom ons soek saam in sy Woord na die waarheid van wie ons in Jesus is.

Dag 2

Aangaande hierdie leesplan

In Jesus Is Jy...

Wie is ek? Waarom is ek hier? Maak ek saak? As ons nie weet wat ons identiteit is nie, kan ons nie leef soos ons bestem is om te leef nie. Ons kan probeer om ons identiteit deur ons gesin, loopbaan, vriende, stokperdjies...

More

Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://LoveGodGreatly.com

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid