Leesplan inligting

God se Woord vir jouVoorbeeld

God se Woord vir jou

DAG 1 VAN 7

’n Goddelike liefdesbrief


Terwyl ek vir meer as sestien maande oorsee gestasioneer was, ver van my vrou af, was haar briewe vir my baie kosbaar. Wanneer ek ’n liefdesbrief van Cynthia ontvang het, het ek nooit gesê: “Ag, dis maar net ’n brief van my vrou af. Dis gaaf,” en dan met my take voortgegaan nie. Is jy nou laf? Ek het gesê: “Wag so ’n bietjie!” En dan was daar die “reuktoets”. Ai, man! Dit ruik presies soos haar parfuum. Ja, dis sy!


In een brief het sy so begin: “Liewe Charles.” Maar sy het haar vorige brief begin met: “My liefste, dierbaarste Charles.” Maar hierdie keer het sy net geskryf: “Liewe Charles.” Waarom die verandering? Wat beteken dit? Wat het gebeur? Het iets verander? Onthou, wanneer jy ’n liefdesbrief lees, bestaan daar nie so iets soos ’n onbelangrike woord nie. Ek het my onttrek na ’n stil plek en haar woorde hardop gelees sodat my ore kon hoor wat my mond sê. En ek kon haar stem deur die reëls hoor.


Ek moet natuurlik byvoeg dat ek haar briewe herhaaldelik gelees het. Party briewe het ek agt, tien, dalk selfs twaalf keer gelees. Al wat ek van haar gehad het, was haar liefdesbriewe aan my. Hulle het altyd vir my meer gesê as bloot die feite en gebeure daarin. Hulle het gevoelswoorde ingesluit. Hulle het iets uiters belangrik vir my beteken omdat ek op ’n eensame plek was — omring deur my medesoldate, ja, maar baie ver van die huis af. Ek het elke greintjie van my vrou se emosie uit elke brief wat ek ontvang het, getap. Ek het haar wêreld betree. Ek het toegelaat dat haar woorde in my gedagtes bly draal. Ek het absoluut gelewe vir haar liefdesbriewe!


Jy moet die Bybel ook lees as God se liefdesbrief aan jou. Lees die woorde oor en oor. Lees hulle hardop. As jy in my Bybelstudietyd teenwoordig was, sou jy gehoor het hoe ek gesprekke met God het oor wat Hy geskryf het. Ek praat met Hom en ek het interaksie met sy woorde. Dit is hoe ek die Skrif leer ken — en die manier hoe ek God leer ken het!


DINK-TYD


Hoe lees jy die Bybel — as ’n verpligting of as ’n liefdesbrief? Hoe kan jou sienswyse van God se Woord verander as jy dit sien as die korrespondensie van God wat jou innig liefhet?

Dag 2

Aangaande hierdie leesplan

God se Woord vir jou

“Die Bybel is meer werd as alle ander boeke wat al ooit gedruk is” (Patrick Henry). Charles Swindoll wys jou hoe om die waarhede in dié belangrike Boek jou eie te maak en in jou lewe toe te pas. Jy sal daagliks geestelik...

More

Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief:  https://cumbooks.co.za

 

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid