Leesplan inligting

Die Feestye van die HereVoorbeeld

Die Feestye van die Here

DAG 1 VAN 5

DIE HEILIGE SAMEKOMSTE


Ons lees in die boek Levitikus dat die Here met Moses gespreek het rakende die heilige samekomste: “Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: Die feestye van die HERE wat julle moet uitroep as heilige samekomste – dit is my feestye” (Lev 23:2).  


Die feestye is God se heilige samekomste waartydens die mense gerus en fees gevier het. Die betekenis van die woord feestye soos beskryf in Levitikus 23:2, is die woord móed, wat letterlik beteken “an appointment, a fixed time or season, a cycle or year, an assembly, an appointed time, a set time or exact time” (Strongs Concordance of the Bible). 


Die feestye was dus méér as net feesvieringe en dui op ‘n bepaalde tyd of afspraak. Die woord feesviering in Hebreeus is “chag” wat “festival – to move in a circle, to march in a sacred procession, to celebrate, dance, to hold a solemn feast or holiday” (Strongs Concordance of the Bible). Hierdie feestye en feesvieringe moes ook op ‘n baie spesiale plek gehou word, soos ons sien in Deuteronómium 16:15 “Sewe dae lank moet jy vir die HERE jou God fees hou op die plek wat die HERE sal uitkies; want die HERE jou God sal jou seën in al jou inkomste en in al die werk van jou hande; en jy moet net maar vrolik wees”. Hier sien ons ook die hart van die fees, naamlik: “Jy moet net maar vrolik wees”!


Wat die feeste en feesdae betref, sien ons vanaf die vroegste tye is die Joodse jaar gekenmerk deur groot feeste – die feeste van die Here. Sommige feeste is deur God bepaal om saam te val met die seisoene, om die volk te herinner dat God voortdurend vir hulle sorg en om hulle ‘n geleentheid te bied om aan God hul dankbaarheid te betoon. Op ander feeste is die groot gebeurtenisse in die geskiedenis van Israel gedenk, die geleenthede toe God op ‘n onmiskenbare wyse ingetree het om sy volk te verlos. Al die feeste was geleenthede van heelhartige vreugde en genieting van God se goeie gawes, en terselfdertyd plegtige byeenkomste om die Here se vergewing en reiniging te vra.


Die doel van die feeste was geestelik, ‘n groot en heerlike ontmoeting tussen God en sy volk. Baie keer sou God gedurende dié tye sy profete stuur wat hulle skerp uitgespreek het teen diegene wat die feeste tot blote formaliteite en leë rituele verlaag het.


Daar was waarskynlik baie plaaslike feeste (Rig 21:21), maar al die Joodse mans moes die drie groot nasionale feesvieringe bywoon. Die feestye word volgens Deuteronómium 16:14-17 beskryf: “Drie maal in die jaar moet al jou manne voor die aangesig van die HERE jou God verskyn op die plek wat Hy sal uitkies; op die fees van die ongesuurde brode en op die fees van die weke en op die huttefees; en hulle mag nie met leë hande voor die aangesig van die HERE verskyn nie”.

Dag 2

Aangaande hierdie leesplan

Die Feestye van die Here

Ons lees in die boek Levitikus dat die Here met Moses gespreek het rakende die heilige samekomste: “Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: Die feestye van die HERE wat julle moet uitroep as heilige samekomste...

More

Ons wil graag Raymond Lombard Ministries bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.raymondlombard.com/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid