Leesplan inligting

Nuwe LeweVoorbeeld

Nuwe Lewe

DAG 2 VAN 12

'n NUWE LEWE - NUUTGEBORE 


'n Nuwe geboorte is jou enigste sleutel tot die Ewige Lewe. Sonder 'n nuwe geboorte is jy vir ewig afgesny van 'n lewe in God wat net in Jesus Christus te vinde is. 


God het jou met die LIEFDESBLOED van Jesus gekoop! 


God het van die begin af gekies om jou onvoorwaardelik lief te hê, maar wanneer jy Jesus Christus jou Here en jou God maak, sal God jou nie los soos wat jy is nie; Hy sal jou núút maak, jou herskep en van jou 'n algehele nuwe mens maak. Jou ou lewe sal verbygaan, alles sal nuut word. (2 Kor. 5:17) 


God het Jesus, sy Seun, vir 'n spesifieke doel aarde toe gestuur: 



  • om God aan die mens te openbaar (Joh. 1:18) 

  • om die werke van die duiwel te verbreek (1 Joh. 3:8b) 

  • om die mens uit die mag van die duisternis te verlos en te hervestig in die koninkryk van die Seun van sy liefde. (Kol. 1:13-14)


Hoe word ek deur God se  onvoorwaardelike en onbeperkte LIEFDE gered?  


Ek moet Jesus, sy Seun, as my persoonlike Here en Verlosser aanneem. 


“Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. Hulle is dit nie van nature nie, nie deur die drang van 'n mens of die besluit van 'n man nie, maar God is hulle Vader.” (Joh. 1:12-13) 


Hulle word NúúTGEBORE uit God! 


Hierdie nuwe geboorte kom nie van 'n natuurlike vader of op 'n natuurlike wyse nie, maar van God die Vader, deur die Heilige Gees. Dit vind plaas die oomblik wanneer jy sê: “Jesus, ek neem U as my persoonlike Here en Verlosser aan.” 


Jy kan selfs net sy Naam in erkenning en afhanklikheid aanroep: “Jesus!” of “Jesus, red my!” (Rom. 10:13) 


Nikodemus, 'n vername Jood en 'n goeie godsdienstige leier, het in die nag na Jesus gegaan. Soos baie mense het hy verwag dat sy goeie lewe vir hom 'n plek in die hemel sou verdien wanneer hy die dag te sterwe kom. Hy was egter nie heeltemal seker nie en het dus besluit om Jesus hieroor uit te vra. 


Jesus het hom reguit geantwoord: “Dit verseker Ek jou: As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.” (Joh. 3:3) 


Daar moet dus 'n natuurlike geboorte sowel as 'n bonatuurlike GEBOORTE plaasvind. 


Elke mens verkry toegang tot die aarde deur 'n natuurlike geboorte. As jy in Suid-Afrika gebore word, is jy 'n Suid-Afrikaanse burger. Dit is wat in jou identiteitsdokument aangeteken word. 


Om toegang tot die hemel te verkry, moet jy opnuut gebore word. Jy moet 'n geestelike geboorte ondergaan om 'n hemelse identiteitsdokument te ontvang. Die Bybel noem dit die “Boek van die Lewe” (Openb. 20:15). 


Jesus verduidelik aan Nikodemus dat die nuwe geboorte 'n geestelike geboorte is en dat dit 'n geestelike verandering in jou lewe meebring. Hierdie nuwe geboorte kan slegs plaasvind wanneer jy Jesus Christus as jou persoonlike Here en Verlosser aanneem. 


“...want julle is wedergebore (nuutgebore), nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike saad, deur die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly.” (1 Pet. 1:23) 


Heb. 7:16 noem dit “die onvernietigbare lewe”.

Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

Nuwe Lewe

Het jy al gewonder wat dit beteken om ‘n Christen te wees? Hierdie leesplan is ideaal vir diegene wat Jesus op ‘n lewensveranderende manier wil ontmoet en op soek is na antwoorde op die moeilike vrae waarmee hulle worste...

More

Ons wil Lewende Woord bedank vir hierdie plan. Besoek gerus vir meer inligting: https://lewendewoord.co.za/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid