Leesplan inligting

Leef deur geloofVoorbeeld

Leef deur geloof

DAG 5 VAN 5

GELOOF SOOS ’N KIND


Ons ken almal die storie van toe Jesus vyf duisend gevoed het met net vyf brode en twee visse. (Johannes 6:1-14) ’n Klein seuntjie het vir Jesus alles gegee wat hy gehad het, sodat Jesus almal kon voed wat kom luister het na Sy prediking. Het jy al jou vyf brode en twee visse vir die Here gegee? 


Die Here stel dit duidelik dat ons geloof soos ’n kind moet hê. Jesus het gesê: “Wie die koninkryk van God nie soos ’n kindjie aanvaar nie, sal nooit daar ingaan nie.” (Lukas 18:17) 


Ons moet almal glo dat God die onmoontlike kan doen. As jy ’n volwasse man of vrou vra of dit moontlik is om vyf duisend mans, plus nog hul vrouens en kinders, met net twee visse en vyf garsbrode te voed, sodat almal meer as genoeg te ete het en daar boonop nog oorskiet is, sal hulle vir jou sê dat dit onmoontlik is. Hulle sal ook reg wees. Dit is inderdaad onmoontlik en dit is presies waarom dit ’n wonderwerk genoem word. 


Ons moet ons twee visse en vyf garsbrode na die Koning van die konings neem, sodat Hy dit kan vermenigvuldig. In Matteus 17:20 sê die Here: “As julle geloof selfs so klein soos ’n mosterdsaadjie was, sou julle vir hierdie berg sê: ‘Skuif soontoe,’ en hy sal dit doen. Ja, niks sal vir julle onmoontlik wees nie.”


Ons moet geloof in die Here hê, dan sal Hy dít wat ons Hom gee, vermenigvuldig. Gee jou lewe, jou gesin en jou visie vir die toekoms onvoorwaardelik vir Jesus en Hy sal dit vir jou teruggee in volle maat, ingestamp, geskud om plek te maak vir meer, tot oorlopens toe vol. (Lukas 6:38)


GEBED: Liewe Here, U het sedert die Bybelse tyd, tot nou toe, al oor en oor bewys dat U ’n wonderwerker is en dat niks vir U onmoontlik is nie. Vermeerder my geloof, o Here. Amen.

Hierdie 5-dag leesplan is geneem uit GENADE IN OORVLOED deur Angus Buchan en Christelike Uitgewersmaatskappy. 

Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Leef deur geloof

Deur geloof in God word lewens verander, seën ontvang en hoop aangevuur. Geloof in God is die begin van ’n nuwe lewe vol verwondering oor God se grootheid en mag. In hierdie leesplan sal jy die krag van geloof ervaar en ...

More

Ons wil graag Angus Buchan en Christelike Uitgewersmaatskappy bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Besoek gerus vir meer inligting: https://www.cumbooks.co.za/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid