Leesplan inligting

Dít Het Jesus Nooit Gesê Nie Voorbeeld

Dít Het Jesus Nooit Gesê Nie

DAG 8 VAN 21

DIE LEWE IS SOMS TEEN JOU


ROMEINE 8:31-32


Jy hoor elke dag baie stemme in jou kop, maar gelukkig beteken dit nie daar is êrens ’n skroef los nie! Die oomblik wat jy wakker word in die oggend, word jy gebombardeer met die eerste stem. Jy dink, ai, dis ’n moeilike vergadering wat wag. Later dink jy die verkeer gaan seker weer ’n nagmerrie wees. Jy bekommer jou oor wat van die kinders gaan word en oor die geweld in ons land. Dan onthou jy van die rekening wat nog betaal moet word. En so gaan dit aan. 


As jy aanmekaar sulke negatiewe stemme hoor, dan is dit presies hoe jou toekoms gaan wees. Dink ’n bietjie oor jou lewe. Dit wat jy vandag is, is die somtotaal van al die stemme wat jy in die verlede geglo het. Jy het ’n stem gehoor, daarvolgens geleef en besluite geneem, en uiteindelik het jy so opgetree. 


Miskien voel jy op die oomblik ver van God af. Jy dink Hy hoor jou nie of Hy is kwaad vir jou en straf jou met slegte omstandighede. Jy het ’n warboel emosies binne-in jou, daarom sê jy ’n klomp negatiewe goed oor jouself en julle verhouding. 


Deesdae luister die jongklomp graag met oorfone na musiek. Miskien is jou kinders ook so: as julle die langpad vat, het elkeen oorfone op en niemand hoor eers as jy praat nie! Dalk is jy soos ek – ek gebruik sommer die oorfoontjies wat ek saam met my selfoon gekry het om na ’n preek of musiek te luister. 


As jy hierdie klein oorfoontjies op het, dan hoor jy steeds die motors wat toet en alles wat om jou gebeur. Dan kry jy mos daardie duur oorfone wat al die geluide blokkeer – jy hoor net wat jy wíl hoor. As jy dit in jou iPod sit hoor jy net daardie liedjie waarna jy wil luister. Hulle noem dit noise reduction-oorfone. 


Het jy geweet die hemelse “oorfone” het ook so ’n funksie? As jy hierdie oorfone op het, hoor jy nie die duiwel se leuens nie. Jy steur jou nie aan wat dalk kán gebeur en wat jy kán verloor of wie miskien kan doodgaan nie. Daar is geen what ifs nie. As jy die regte, positiewe woorde glo, sal dit ontkiem, groei en vrug dra in jou lewe. 


Jy voel dalk jy moet bid vir die vergadering wat later plaasvind, of die lang reis Kaap toe, anders gaan jy heeltemal alleen wees. Maar lees weer die skrifgedeelte. Hy is vír jou en by jou. Jy hét dit seker al baie gehoor en gelees, maar jy het dit weer vergeet. Jy sien, dis die probleem – sodra jy eenkeer ’n teksvers gelees het, sluit jy jouself af wanneer jy dit weer hoor. Jy moet dit juis oor en oor lees. Memoriseer dit – sit daardie “oorfone” op en maak jou kop vol daarmee. As jy in die middel van die nag wakker skrik en ’n geluid in die huis hoor, moet jy dit kan opsê. Jy moet die vrees verdryf met die regte woorde. 


Partykeer voel dit dalk vir jou asof jy op jou eie aansukkel, want kyk hoe lyk jou omstandighede. Jou bankrekening is leeg, die kanker is terug of jou man wil steeds van jou skei. Jy weet mos hoe dit is: As die eerste slegte ding gebeur, dan dink jy, ag, slegte goed gebeur. As die tweede slegte ding gebeur, dan dink jy: sjoe, dis nie lekker nie. Maar so na die vyfde, sesde ding wat gebeur, begin jy vra: Nou wat het ek dan verkeerd gedoen? 


Gelukkig sê die kruis reeds alles wat jy moet weet. Die ergste is gedoen, die res hier op aarde is net tydelik. Jy ken mos die beginsel: As jy die Comrades-maraton wil hardloop en jy het voorheen 80 km gehardloop, is dit maklik om nog 5 km by te sit. So, die kruis wys reeds vir jou Wie is aan jou kant. Van daar af is dit maklik om al die ander dinge te kry. 


Dit beteken nie alles sal altyd maanskyn en rose wees nie. Jy sal nie skielik elk maand meer geld kry of gesond word nie. Daar sal nie noodwendig ’n wonderwerk gebeur nie. Maar jy kan vashou aan die belofte: hierdie is net tydelike dinge waaroor jy in elk geval geen beheer het nie. Jy is nie aan jou eie lot oorgelaat nie – die belangrikste is reeds gedoen! 


’n Entjie verder in hierdie hoofstuk lees ons Jesus sit langs God en pleit vir ons. Is dit nie die mooiste woorde nie? Wanneer jy moeg en geïrriteerd is en nog ’n vergadering moet hanteer, word daar vir jou gepleit. Wanneer jy soveel pyn het dat jy vir niks kans sien nie, word daar in die hemel vir jou gepleit. 


Die Een wat alles weet, is nie kwaad vir jou nie – inteendeel! Selfs terwyl jy besig is om vir iets te bid, kan jy sommer al klaar dankie sê. Watter stemme voer jou denke, jou emosies, jou hart? Met wie se oorfone luister jy? 

Dag 7Dag 9

Aangaande hierdie leesplan

Dít Het Jesus Nooit Gesê Nie

Daar word baie keer verkeerdelik geglo of oorgedra wat hulle dink Jesus gesê het. Mense glo dan iets wat nie altyd waar is nie. In hierdie leesplan deur skrywer Andries Enslin: “Dít het Jesus nooit gesê nie” word feit en...

More

Ons wil graag Andries Enslin en Carpe Diem Media bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek gerus: https://lewensentrum.org.za/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid