Leesplan inligting

Dít Het Jesus Nooit Gesê Nie Voorbeeld

Dít Het Jesus Nooit Gesê Nie

DAG 2 VAN 21

GOD IS NET OP SEKERE PLEKKE  


Partykeer sien ’n mens ’n mooi sonsondergang en jy kry ’n gevoel: Iemand is hier. ’n Ander keer is jy weer in die middel van die stad en dis net geboue en motors wat ry en toeters wat blaas. En dan dink jy, o, nee, Hy is beslis nie hiér nie. 


In die Nuwe Testament is daar ’n verhaal van die Samaritaanse vrou by die put wat vra waar sy moet aanbid. Haar voorouers het op daardie berg aanbid, maar die mense sê die plek is eintlik in Jerusalem. Die antwoord wat sy kry is dat dit nie noodwendig op een van die twee plekke is nie, want God is Gees, daarom is Hy oral. 


Jou Vader is nou by jou – saam met jou in die motor op pad werk toe, besig om saam met jou in die kombuis kos te maak. Hy sien waarna jy op die rekenaar en TV kyk en hoor elke gesprek wat jy het. As jy só daaraan dink, dan verander jou manier van leef sommer dadelik! 


Baiekeer dink ons daar is sekere dinge wat jy nooit in die kerk sal doen nie, maar dan doen jy dit by die huis. Sê nou daar is ’n funksie in die kerksaal. Dan kom iemand en sê: “Ons mag nie wyn op die tafels sit nie.” Hoekom mag ek dit dan by die huis doen? Ek mag iets sê by die huis, maar sodra ek by die kerk kom, is ek skielik ’n ander mens. Baie mense sê Sondag is ’n spesiale dag. Maar kom ek surprise jou. Maandag is ook spesiaal – elke dag is spesiaal. 


Goed, daar ís iets soos ’n “meer tasbare” heilige teenwoordigheid op ’n spesifieke plek. Ek was ook al by sulke geleenthede waar ek sommer hoendervleis gekry het en net gewéét het die plek is spesiaal. Jy kan daardie gevoel op ’n berg kry, terwyl jy iets lees, in jou kamer – waar ook al. Maar dit sê nie Hy is meer teenwoordig daar en minder hier nie. Dit sê net daardie teenwoordigheid is meer tasbaar. 


Dis wat met Moses by die brandende bos gebeur het: Hy ervaar ’n sekere teenwoordigheid – iets spesiaals. En kyk wat sê Jakob toe hy wakker word nadat hy gedroom het: “Sowaar! Die Here is op hierdie plek, en ek het dit nie eers geweet nie!” Hoeveel keer moes jy bloot besef jy was nie alleen in daardie situasie nie. Maar jy het

dit nie eers geweet nie. Jou Pa is in die motor, in die belangrike vergadering, en oral by jou. Soms vergeet jy dit net! 


Onthou jy vir Elia? Die vyand kom om hom aan te val en die koning wil hom gevange neem. Hy bid vir sy dienskneg dat sy oë sal oopgaan, en toe sien hy die ruiters van vuur rondom hom en sê: “Meer is aan ons kant as wat aan hulle kant is.” Hy het nie eers geweet wie is almal daar om hom te help nie! 


Jy het seker ook al gebid: “Wees asseblief met my kinders, wees by my ouers, wees vandag by my.” Maar dit sou beter wees om te bid: “Ek weet U is by my. Maak asseblief my oë oop sodat ek dit sal sien en sal weet.

Dat ek dit sal beleef en voel, en elke oomblik bewus sal wees van U teenwoordigheid.” 


As jy iets moois sien is dit maklik om te weet Wie is hier teenwoordig, kyk hoe mooi is hierdie blommetjie. Hy is ook teenwoordig in die aakligste prentjies waaraan jy kan dink. So, moenie wonder waar was God toe dit gebeur het nie. Oefen om te sê, goed, daardie dag, op daardie spesifieke tyd, het mense gekies om sekere goed te doen, maar – Hy was steeds daar. 


Sjoe, dit sal darem baie geloof, gebed en oefening vra, nè! Maar kan jy dink wat kan gebeur as ons dit al hoe meer doen? Daardie tasbare teenwoordigheid wat ’n mens baiekeer net in ’n kerk kry, sal in ons huise inkom, op die sportveld en op die strand. Ons sal oral daaraan herinner word, want almal oefen om dit raak te sien. 


Dis soos die man en vrou wat in die bakkie gery het. Die vrou vra vir haar man: “My man, onthou jy nog hoe styf het ons altyd teen mekaar gesit toe ons pas getroud was?” En die man kyk verbaas na haar en antwoord: “Maar Vrou, ek sit nog op dieselfde plek, dis jý wat weggeskuif het!” Só hou die beste Bestuurder die stuurwiel van jou lewe vas en is daar waar hy nog altyd was. Dis jý wat soms wegbeweeg – dis dalk jy wat intussen verander het. 

Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

Dít Het Jesus Nooit Gesê Nie

Daar word baie keer verkeerdelik geglo of oorgedra wat hulle dink Jesus gesê het. Mense glo dan iets wat nie altyd waar is nie. In hierdie leesplan deur skrywer Andries Enslin: “Dít het Jesus nooit gesê nie” word feit en...

More

Ons wil graag Andries Enslin en Carpe Diem Media bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek gerus: https://lewensentrum.org.za/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid