Leesplan inligting

Daaglikse Juwele - Behou jou kroon as 'n dogter van die KoningVoorbeeld

Daily Jewels- Aligning Your Crown As A Daughter Of The King

DAG 5 VAN 7

  Dag 5: Kleedrepetisie



Kleedrepetisie: die laaste oefening voor 'n optrede, waar alles presies gedoen word soos vir die regte vertoning.



As kind was ek baie lief vir die teater. Regdeur my universiteitsjare het ek aan vertonings deelgeneem. Ek het daarvan gehou om my in 'n karakter in te leef vir die duur van die toneelstuk. Dit waarvan ek egter die meeste gehou het, was die "kleedrepetisie", want dit het my selfvertroue gegee vir die openingsaand. Tydens die kleedrepetisie kon ons al die laaste kinkels uitstryk, totdat ons alles reg kon doen. Ek wens baie kere dat daar ook 'n kleedrepetisie vir die lewe was. Ons sou vir 'n werk kon "oefen" voordat ons besluit of ons daarvan hou. Miskien sou ons selfs sonder om emosies te betrek, eers saam met iemand kon kuier voordat ons besluit om vriende te word, sodat niemand hoef seer te kry nie. Sou dit nie wonderlik wees om 'n voorskou van jou lewe te kon sien nie, dan kon jy dit perfek uitleef as dit uiteindelik werklik gebeur.



Ek het jare lank met onsekerheid geworstel, meestal omdat ek nie van die onbekende hou nie. In my laat twintigerjare, terwyl ek my seuns grootgemaak het, onthou ek 'n dagboekinskrywing waarin ek God gevra het om vir my 'n "teken te gee". Ek het toe geen idee gehad waar Hy wou hê ek moes dien of werk of hoe om aan 'n verhouding te bou nie. Ek het skaars die berg wasgoed oorleef en nie geweet wat my volgende tree sou wees nie. Ek was in 'n "wagkamer", maar die Here het gou aan my openbaar dat dit 'n "voorbereidingskamer" was. Die werklikheid is dat hierdie lewe NIE 'n kleedrepetisie is nie. Ek het verskeie kere geworstel en was selfs depressief, omdat ek nie selfvertroue gehad het oor wat sou volg nie. Ek glo waarlik dat ek soms oomblikke met God gemis het, weens my houding en onsekerhede. God was egter die hele tyd daar en wou my die pad wys. 



Het jy ook al so gevoel? Het jy ook al onseker oor die onbekende gevoel? Om te wag beteken egter nie dat jy niks doen nie, dit beteken jy is aan die ontwikkel. God se krag is in die proses aan die werk en soms is die voorbereidingskamer die enigste plek waar ons gedagtes, harte en siele onderrig kan word. Jou doel in die lewe is nie om die "volgende" ding te vind om na te streef, of hoe om volgelinge te werf nie. Jou doel het inderwaarheid niks met jou te doen nie, maar alles met hoe God die gawes kan gebruik wat Hy jou gegee het. Die wagkamer is vir opleiding, kry dus 'n paar versnapperinge en die Bybel en maak gereed om te leer en hoe om alles te gebruik wat God in jou ingeweef het nog voor jou geboorte. 



Indien jy op God bly fokus en geduldig voorberei, sal die volgende deur oopgaan en jy gereed wees vir wat Hy ook al vir jou het. Dames, soms moet ons konsentreer op die mense wat saam met ons wag, in plaas van op dit wat ons mis. Die kort gesprekke, vinnige groet by die kruidenierswinkel en bemoedigende teksboodskappe, kan presies die doel wees wat God daardie dag vir jou het. Kyk rond, wees voorbereid en gereed om te ontwikkel in alles wat God wil hê jy moet wees. 



Ons kan nie iets voor die tyd oefen om dit perfek te doen nie. Ons moet dus kies om God te vertrou. Indien Hy jou wys wat volgende week gaan gebeur, hoef jy mos nie met Hom te praat of op Hom te vertrou nie, want dan "weet" jy alreeds wat gaan gebeur. Kom ons vra die Here wat ons in hierdie tydperk nodig het om te leer en te groei, wat ons dan na die volgende een toe sal help. 



Daaglikse Gebed:



Hemelse Vader,



ek bid dat U my ingesteldheid sal verander terwyl ek in 'n "wagtydperk" is. Help my om eerder te konsentreer om in die vrou te ontwikkel waarvoor U my geroep het om te wees, in plaas daarvan om te wag vir die "volgende deur" om oop te gaan. U is die deur en ek bid dat ek reguit in u arms kan instap, deur middel van u Woord en gebed. Jesus, U is my doel. Ek bid dat ek iemand in die wagkamer mag bemoedig en hom of haar herinner dat God groot dinge vir hulle voorberei. Dankie Jesus, vir elke tydperk en vir die proses waarin ek kan wees. Ek vertrou dat U 'n goeie werk in my doen. In die Naam van Jesus. 



Liefde,



U dogter






Moenie vandag jou kroon vergeet nie!


Dag 4Dag 6

Aangaande hierdie leesplan

Daily Jewels- Aligning Your Crown As A Daughter Of The King

Kyk 'n bietjie rond. Daar is altyd 'n juweel te vinde, te midde van die chaos. Daaglikse Juwele is 'n 7-dag oordenking wat jou uitnooi om jou kroon, as 'n dogter van die Koning, te behou. Kom saam met my op 'n skattejag ...

More

Baie dankie aan "Beautifully Designed" wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting besoek asseblief: https://beautifullydesigned.com/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid