Leesplan inligting

Leef, wees lief, doenVoorbeeld

3-Day Reading Plan: Live Love Does

DAG 1 VAN 3

Toe ek in die kleuterskool was, het ons elke middag geslaap. Ek weet, dit klink so vervelig, nѐ? Ek het ook so gedink. Die enigste ding van slaaptyd waarvan ek gehou het, was dat ek gehoop het ek kry 'n spesiale werkie. Elke dag het die juffrou iemand gekies om die "wakkerword-feetjie" te wees. Die wakkerword-feetjie het vlerke aangesit, kinders op hul skouers getik met die towerstaffie en aangekondig dat dit tyd was om wakker te word. Ek het gedink dit was die wonderlikste werk op aarde, en ek kon nie wag dat my beurt kom nie.



Eendag het my beurt aangebreek — die juffrou het my gekies om die wakkerword-feetjie te wees! Dis uiteindelik my kans! Ek gaan die beste wakkerword-feetjie op aarde wees, het ek by myself gedink.



Ek het die feetjievlerke aangesit, die towerstaffie gegryp en in die klas rondgeloop om my werk te doen. Ek was egter so opgewonde, dat ek nie versigtig geloop het nie. Ek het in die klas rondgehardloop en my vriende op hul skouers getik, en toe op iemand se neus getrap. My juffrou was ontevrede. Omdat ek nie goed geluister en instruksies gevolg het nie, het sy my towerstaffie en vlerke weggeneem.



Ek moet jou die waarheid vertel; dit het aaklig gevoel. Ek het nie bedoel om iemand seer te maak nie, ek was net te opgewonde om my werk te doen en het vergeet om te kyk waar ek trap. 



Het dit al met jou gebeur? Het jy al jou beste probeer om die regte ding te doen, maar dit dan net opgemors? Ons het almal al nou en dan dinge opgemors en dit voel glad nie lekker nie.



Wat ek later in my lewe van Jesus geleer het, is dat wanneer ek iets verkeerd doen, hoef ek nie aan te hou sleg voel nie. Toe Jesus sy vriende gekies en hulle gevra het om tyd saam met Hom deur te bring, het Hy nie na die slimste of die gewildste in die skool gegaan nie. Hy het nie eens vir mense gesoek met gesogte werke of mooi huise, wat 'n klomp geld verdien nie. Hy het definitief nie mense gesoek wat altyd na hulle juffrouens geluister het of dié wat nog nooit foute gemaak het nie.



Die Bybel sê, Jesus was by 'n meer en het 'n paar vissermanne gesien en hulle gekies om sy beste vriende te wees. Ek wed jou daardie vissermanne het soveel probleme op skool gehad, dat hulle nie eens meer skool toe gegaan het nie! Hulle het seker ook nie die meeste van die tyd hulle nette aan die regte kant van die boot uitgegooi nie, maar Jesus het hulle nogtans uitgekies.



Jesus het ook 'n tollenaar gevra om Hom te volg. Niemand het van tollenaars gehou nie, want hulle het mense se geld gesteel. Jesus het inderwaarheid so baie tyd met mense deurgebring wat groot foute gemaak het, dat mense lelike dinge oor Hom agter sy rug begin sê het. Jesus was egter nie gepla oor hoe dit sou lyk as hy mense liefhet wat foute gemaak het nie. Hy wou hê mense wat al foute gemaak het, moes weet dat Hy nogtans van hulle hou. Hy het selfs hulle foute gebruik om te bewys hoe lief Hy hulle regtig gehad het. 



Dis soms maklik om te dink dat as ons foute maak, ons nie werd is om liefgehê te word nie, of dat mense net dink aan die foute wat ons gemaak het. Wat ek nie geweet het toe ek my een fout in die kleuterskool gemaak het nie, is dat God se liefde vir ons nie verander wanneer dit sleg gaan met ons nie. God het ons lief, ongeag wat ons doen, en as gevolg van Jesus, definieer God ons nie volgens ons foute nie.



Daardie dag toe ek die wakkerword-feetjie was, was nie die enigste slegte dag op skool nie. Skool was altyd vir my moeilik en soms wou ek moed verloor. Maar weet jy wat? Ek het nie. Ek het geglo dat Jesus my liefhet, al het ek gesukkel, want die stories wat ek oor Jesus gelees het, het bewys dat Hy nie mense raakgesien het as gevolg van die foute wat hulle gemaak het nie. Hy het gesien wie hulle kon word, al kon hulle dit nie self sien nie.



Wat ek, as 'n mislukte wakkerword-feetjie nie geweet het nie, was dat as ek sou aanhou, ek eendag 'n prokureur sou word. Ek sou die geleentheid kry om kinders regoor die wêreld te help, deur 'n nuwe skool te stig waarheen hulle kon gaan. Die een reël vir die kinders in ons skool is: ons gee altyd ons beste, maar as ons foute maak, onthou ons hoe lief Jesus ons het — dit maak nie saak wat gebeur nie!



Jesus het geweet dat foute nie mense kon keer om belangrike dinge te doen nie. Onthou jy nog die vissermanne wat Hy by die meer ontmoet het? Hulle het toe oral heengegaan en mense van Jesus vertel. En die tollenaar? Hy het 'n kerk begin. Kan jy dit glo? Dit het alles gebeur omdat Jesus hulle vertel het wat hulle besig was om te word en hulle het Hom geglo. Die volgende keer as jy weer 'n fout maak, sê vir jouself: Ek is geliefd en ek behoort aan God ... en ek wonder wie ek gaan word met God se hulp.



Dis die antwoord:



Jy word 'n helper.



Jy word 'n leier.



Jy word liefde.


Dag 2

Aangaande hierdie leesplan

3-Day Reading Plan: Live Love Does

Bob Goff en Lindsey Goff Viducich se 3-dag leesplan: "Leer wat liefde doen", sal jou kind help om te leer hoe om in genade en liefde te leef! Hulle sal leer hoe om verantwoordelikheid te neem vir hulle foute (en hoe om a...

More

Baie dankie aan HarperCollings wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting besoek asseblief: http://bit.ly/2CWWuks

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid