Leesplan inligting

Die Wapenrusting Van GodVoorbeeld

Die Wapenrusting Van God

DAG 4 VAN 5

Feitlik elke seuntjie hou daarvan om “cowboys en crooks” te speel. Kinders wat voorgee om teen skurke te baklei, is egter iets heeltemal anders as ware oorlogvoering met regte wapens. Neem byvoorbeeld die eeue oue gebruik om brandende pyle in ‘n verrassingsaanval op jou vyand af te skiet. Hierdie taktiese strategie het die vyand dikwels onkant betrap. Dié pyle kon ‘n brand tussen die tente van die soldate veroorsaak het, die militêre linies uitmekaarjaag en die inwoners van die tente op die vlamme laat fokus in plaas van op die vyand wat hulle aanval. 


Brandende pyle was nie hoofsaaklik bedoel om dood te maak of te vernietig nie; hulle doel was om die vyand se aandag af te lei. 


Jou vyand wil jou aandag aflei, suster, sodat hy jou onkant kan betrap. Luister goed na my – hy skiet nie hierdie brandpyle van hom onnadenkend af nie. Nee, hy het sy strategie goed uitgedink. Hy het jou neigings en jou gewoontes noukeurig bestudeer; hy ken jou diepste vrese en jou swakplekke, en hy maak dit in die besonder sy teikens. Hy weet hy kan jou nie vernietig nie. Jy is vir ewig veilig in Jesus. Maar hy is vas van plan om jou aandag van jou weerbaarheid af te lei deur ‘n hele klomp brande in jou lewe aan te steek – onsekerheid, intimidasie, angstigheid, kommer of ‘n te besige program. Hy wil hê jy moet ongefokus wees sodat jy nie aandag sal gee wanneer hy jou van agter bekruip nie. 


In Efesiërs 6 het Paulus die gordel, borsharnas en skoene vir ons geskets as ‘n geestelike uniform wat alle gelowiges te alle tye moet aantrek. Oomblik na oomblik. Dag vir dag. Maar hy benader hierdie stuk van die wapenrusting, die skild, heeltemal anders. Hy gee aan ons opdrag om die skild te “dra”. 


Kyk so daarna: ‘n Teatersuster kan elke dag haar teaterdrag werk toe dra omdat dit haar uniform is. Maar wanneer die situasie dit vereis, sal sy ook ‘n stetoskoop, ‘n bloeddrukmeter, ‘n koorspen of enige ander toerusting wat sy nodig het in haar hand optel en na haar pasiënt toe dra om te gebruik. Net so moet ons ook ons daaglikse uniform aantrek wat God vir ons gegee het, maar ons moet ook bereid wees om ander dinge “op te tel” wanneer dit van ons gevra word. 


Die eerste deel van die wapenrusting wat ons moet optel, is die skild van geloof. Die oomblik wanneer ons aanvoel dat ‘n brandpyl iewens ons lewe binnedring, aktiveer ons ons geloof as ‘n skild van beskerming oor ons. 


Moenie die ironie hier mis nie. Die vyand skiet brandpyle op jou lewe af, veral wanneer jy gevra word om in geloof te leef. Hierdie pyle is spesifiek ontwerp om jou te verhoed om juis die een ding te doen wat die mag het om hulle te blus: om in geloof te leef! 


Geloof laat sy brandpyle rokend en skadeloos op die grond val. Wat vra God van jou om te doen? Doen dit! In geloof!  

Dag 3Dag 5

Aangaande hierdie leesplan

Die Wapenrusting Van God

Daar woed elke dag, die hele dag lank, ’n onsigbare oorlog om vroue. Dit kan nie gesien of gehoor word nie, maar dit kan in elke aspek van ’n mens se lewe gevoel word. ’n Toegewyde, bose vyand wil chaos veroorsaak in all...

More

Ons wil graag Christelike Uitgewersmaatskappy bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek gerus: https://www.cumbooks.co.za

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid