Leesplan inligting

Die Leerstellings Van GenadeVoorbeeld

The Doctrines Of Grace

DAG 1 VAN 5

Algehele Verdorwenheid


Algehele Verdorwenheid is die eerste van die Leerstellings van Genade en stel dit dat die mens nie van nature goed is nie. Elke deel van die mens is deur sonde en korrupsie gebonde. Hulle is nie in staat om deur hul eie krag enigiets te doen om God te behaag of met Hom versoen te word nie. Hulle is heeltemal onbekwaam om die keuse te maak om God te ken en lief te hê nie, of om enigiets van geestelike waarde uit te voer sonder om vooraf deur die Heilige Gees hernieu te word nie. Almal is ook daardeur geraak, want nie 'n enkele mens is meer of minder verdorwe as die ander nie. Ek onthou hoe verlig ek was toe ek dit hoor, want dit het uiteindelik sin gemaak hoekom ek begeer om te doen wat God nie behaag nie, maar herhaaldelik misluk het om myself te verander of daardie standaarde te behaal. 



Aan die anderkant, wat die leerstelling van algehele verdorwenheid nie beteken nie, is dat die mensdom so verdorwe as moontlik is en dit net nog 'n bewys van God se genade is. Selfs nie-Christene is in staat om lief te hê, vrygewig, vriendelik en gehoorsaam te wees. As ons sê dat alle mense verdorwe is, bedoel ons dat hulle nie in staat is — as gevolg van hul natuurlike en oorheersende sondige aard — om wat regverdig is te doen wanneer dit met God verband hou nie. Hulle is nie sonder enige deugde nie; maar hulle is in en uit hulself sonder die goedheid wat nodig is om in 'n regte verhouding met die Here te wees. As ons die keuse kry om die regte of die korrupte ding te doen, sal ons onvermydelik die korrupte ding kies. Ons moet ook daarop let dat die leerstelling van algehele verdorwenheid nie 'n verskoning is om so traag in ons stryd teen die vlees te wees nie. Heiligmaking vorm 'n onafskeidbare deel van 'n ware Christen se lewe. Die onderskeid hier is dat God vir die oorwinning verantwoordelik is. 



As hierdie leerstelling in die Bybel was, sou daar nie meer Christene wees wat dit aanvaar het nie? Ongelukkig is die waarheid dat ons huiwerig is om te erken ons kan op geen manier onsself red nie. Dit is maar moeilik vir ons om te aanvaar dat ons dit net nie self kan doen nie. Dit is die gewone raad wat aan ons gegee word, of hoe? Jy is waardig. Jy kan dit doen. Jy het niks anders as jouself nodig nie. Tog is dit nie volgens die Skrif waar van die Christelike lewe nie. 



Prediker 7:29 sê dat mense hulle met allerlei slimmighede besig hou — wat doelbewustheid aandui, in teenstelling met die idee dat ons bloot toevallig die verkeerde ding gedoen het. Ons lees in Psalm 143:2 en Romeine 3:23 dat niemand voor God regverdig is nie. 2 Kronieke 6:36 sê duidelik: "... want daar is nie 'n mens wat nie sondig nie ..." en Efesiërs 2:3 sê: " ... ons is vanselfsprekend vir God se straf bestem." In Genesis 8:21 staan: "... Van sy jeug af bedink die mens net slegte dinge ..." en Jeremia 18:9 sê ook: "Die hart is bedriegliker as enigiets anders, hy is ongeneeslik ..." Titus 3:3 sê ons is: "verslaaf aan allerlei begeertes en singenot" en Johannes 3:19 sê dat: "die mense eerder die duisternis as die lig liefgehad het ..." Dan sê Romeine 7:18: "Ek weet immers dat die goeie nie in my woon nie, nie in my sondige aard nie. Daar is by my wel die wil om die goeie te doen, maar ek doen dit nie."



Ons wanhoop egter nie. Ons algehele verdorwenheid beteken ons het 'n volmaakte Verlosser nodig om te doen wat ons nie vir onsself kan doen nie — en die goeie nuus in die evangelie is dat so 'n verlossing vir ons beskikbaar is in die Seun, Jesus Christus, wat die vleesgeworde heilige God is. Al is ons ellendig, kan ons steeds jubel en geheilig word. Laasgenoemde word deur Paulus bevestig in Romeine 7:24-25: "... Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos? Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here." Ek kan dit nie beter stel nie. Algehele genade is 'n leerstelling van genade omdat die oorvloedige genade van God self die enigste hoop is wat ons het. 



Deur Jessica Hageman



Besprekingsvrae vir jou joernaal:



  1. Wat is die menslike toestand? Is mense van nature goed of sleg?

  2. Lees Genesis 6:11, Romeine 3:23 en Efesiërs 2:1-3. In hierdie gedeeltes sien ons dat ons sonder God, korrupte, sondige en geestelik dooie mense is. Wat beteken dit om geestelik dood en kinders van die toorn te wees?

  3. Lees Genesis 6:5 en Romeine 3:10-18. Wat is die omvang van ons sonde? Hoe diep is die sonde in ons gewortel?

  4. God is regverdig, heilig en goed en ons skiet ver te kort aan sy wet. Wat is die gepaste reaksie? Behoort ons vrygestel te word of verdien ons straf?

  5. Ons besef dat ons verdorwenheid die oorsaak van ons veroordeling gevestig het. Dit help ons om te verstaan hoekom ons verlossing nodig het, maar ons kan nie onsself red nie. Wat is dus ons groot hoop? Waar kan ons dus ons verlossing kry?

  6. As gelowiges moet ons onmeetlik dankbaar wees, want ons is niks beter as enigiemand anders nie en behoort daarom nederige vreugde te ervaar — want Hy het ons gered omdat Hy ons liefhet. Wat moet ons reaksie hierop wees?


Klik hier om meer te lees oor Algehele Verdorwenheid


Dag 2

Aangaande hierdie leesplan

The Doctrines Of Grace

Hierdie 5-dag leesplan is 'n in-diepte studie oor die leerstellings van genade. T.U.L.I.P is 'n teologiese akroniem wat die opperheerskappy van God verhoog. Die verheerliking van God se genade, is die waarheid waaraan ui...

More

Ons wil graag vir Whole Magazine bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir verdere inligting kan jy hulle besoek by: http://www.thebiblicalcreative.com

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid