HOOGLIED 7:1-4
HOOGLIED 7:1-4 Bybel vir almal (ABA)
Hy sê: “Prinses, jou twee voete is baie mooi in jou sandale, jou heupe lyk soos juwele wat 'n ambagsman gemaak het. Jou naeltjie is soos 'n ronde bak, vol kruiewyn, jou lyf is soos 'n hoop koring met blomme rondom. Jou twee borste is soos twee jong takbokkies, soos die tweeling-lammers van 'n gasel. Jou nek is soos 'n toring van ivoor, jou oë is soos die damme by die stad Gesbon, soos die damme by die poort van Bat-Rabbim, jou neus is soos die toring op die Libanon-berg wat na die stad Damaskus kyk.
HOOGLIED 7:1-4 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
HOE mooi is u skrede in die skoene, o edele dogter! Die golwende lyne van u heupe is soos halssierade, 'n werk van kunstenaarshande. U nawel is 'n ronde kom — laat die gemengde wyn nie ontbreek nie. U liggaam is 'n hoop koring, omring deur lelies. U twee borste is soos twee lammers, tweelinge van 'n gemsbok. U hals is soos 'n ivoortoring, u oë vywers in Hesbon by die poort Bat-Rabbim; u neus soos die toring van die Líbanon wat na Damaskus toe uitkyk.
HOOGLIED 7:1-4 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Jou voete is so mooi in jou skoene, edel dogter, die rondings van jou heupe is soos juwele wat deur kunstenaarshande gemaak is. Jou naeltjie is 'n ronde kom waarin die kruiewyn nie ontbreek nie. Jou maag is 'n hoop koring met lelies omring. Jou twee borste is soos takboklammers, soos die tweeling van 'n ribbok. Jou nek is soos 'n toring van ivoor, jou oë soos die damme by Gesbon, by die poort van dié groot stad. Jou neus is soos die toring op Libanon wat na Damaskus toe kyk.
HOOGLIED 7:1-4 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Hoe mooi is jou voete in jou sandale, dogter van 'n edele. Die kurwes van jou heupe is soos ornamente – die werk van kunstenaarshande! Jou naeltjie is 'n ronde kelk – mag dit vol kruiewyn bly. Jou maag is 'n hopie koring, met narsings omsoom. Jou borste is soos twee jong bokkies, die tweeling van 'n ribbokooi. Jou nek is soos 'n toring van ivoor, jou oë soos die poele by Gesbon, by die poort van Bat-Rabbim. Jou neus is soos die toring van Libanon wat uitkyk oor Damaskus.
HOOGLIED 7:1-4 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Hoe mooi is jou voete met skoene, o prinsdogter! die gewrigte van jou heupe is soos edelstene, die werk van die hande van 'n listige werker. Jou naeltjie is soos 'n ronde beker wat geen drank ontbreek nie; jou buik is soos 'n hoop koring wat met lelies omring is. Jou twee borste is soos twee jong gemsbokke wat 'n tweeling is. Jou nek is soos 'n toring van ivoor; jou oë soos die vispoele in Hesbon, by die poort van Batrabbim; jou neus is soos die toring van die Líbanon wat na Damaskus kyk.
HOOGLIED 7:1-4 Die Boodskap (DB)
Hoe wondermooi is jy tog nie! Hoe fraai en fyn lyk jou voete nie in jou sandale nie. Jou heupe se rondings is die werk van kunstenaarshande. Jou naeltjie is so verruklik soos ’n beker vol wyn. Jou maag is so mooi soos ’n hoop koring met lelies omring. Jou borste is soos twee bokkies, die tweeling van ’n ribbok. Jou nek is so slank soos ’n ivoortoring. Jou oë is so helder soos die poele naby die poorte van Hesbon. Jou neus is soos die toring van Libanon van waar ’n mens Damaskus kan sien.
HOOGLIED 7:1-4 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Dogter van ’n prins, hoe pragtig is jou voete in jou sandale. Die rondings van jou heupe is soos juwele wat ’n kunstenaar met sy hande gemaak het. Jou naeltjie is soos ’n ronde houer waarin wyn nooit ontbreek nie. Jou maag is soos ’n hopie koring wat omring is met lelies. Jou twee borste is soos tweeling-takboklammers. Jou nek is so sierlik soos ’n toring van ivoor. Jou oë is soos die poele by Gesbon, by die ingang na Bat-Rabbim. Jou neus is soos die toring van die Libanon wat uitkyk na Damaskus toe.