HOOGLIED 7

7
Jong man:
1“Dogter van ’n prins,
hoe pragtig is jou voete
in jou sandale.
Die rondings van jou heupe
is soos juwele
wat ’n kunstenaar
met sy hande gemaak het.
2Jou naeltjie
is soos ’n ronde houer
waarin wyn nooit ontbreek nie.
Jou maag
is soos ’n hopie koring
wat omring is met lelies.
3Jou twee borste
is soos
tweeling-takboklammers.
4Jou nek
is so sierlik
soos ’n toring van ivoor.
Jou oë
is soos die poele
by Gesbon,
by die ingang na Bat-Rabbim.
Jou neus
is soos die toring
van die Libanon
wat uitkyk na Damaskus toe.
5Jou kop
is soos die Karmelberg,
so statig op jou lyf.
Die hare op jou kop
is soos koninklike purper.
Jou haarlokke
betower ’n koning.
6“Hoe mooi is jy!
Hoe bekoorlik is jy,
my liefste!
Hoe ’n plesier is jy!
7Jou lenige lyf
is soos ’n palmboom,
jou borste soos druiwetrosse.
8Ek het vir myself gesê:
‘Teen hierdie palmboom
wil ek uitklim
en sy dadeltrosse gryp.’
Laat jou twee borste vir my wees
soos druiwetrosse.
Laat jou asem vir my ruik
soos dié van appels,
9jou mond soos goeie wyn
wat tussen lippe en tande
glad na binne vloei.”
Jong vrou:
10“Ek behoort
net aan my liefling.
Hy smag na my.
11Kom, my liefste,
kom ons gaan uit na die veld,
kom ons gaan slaap
tussen die lelies#7:11 Of in die dorpies..
12Môre-oggend vroeg
gaan ons na die wingerde toe
om te kyk of dit al bot,
of die botsels al oop is,
en of die granaatbome al bloei.
Daar gee ek jou my liefde.
13Liefdesappels
versprei hulle geur,
en by ons deur
is daar vrugte, vars en ryp.
My liefling,
ek het hulle net vir jou gebêre.”

Tans Gekies:

HOOGLIED 7: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid