ROMEINE 1:1-4
ROMEINE 1:1-4 Bybel vir almal (ABA)
Ek, Paulus, skryf hierdie brief vir julle. Ek is 'n dienaar van Christus Jesus. Christus het my gekies om 'n apostel te wees en Hy het vir my die werk gegee om die goeie boodskap van God te bring. God het lank gelede vir die profete gesê hulle moet in die Ou Testament skryf dat Hy vir die mense die goeie boodskap belowe, die goeie boodskap oor sy Seun. Die Seun het mens geword, en Hy was van die nageslag van Dawid. Die Seun het gesterf, maar God het Hom weer laat lewe. Daarom het die Heilige Gees gesê Christus is die Seun van God wat alles kan doen. Ja, Hy is Jesus Christus ons Here.
ROMEINE 1:1-4 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
PAULUS, 'n dienskneg van Jesus Christus, 'n geroepe apostel, afgesonder tot die evangelie van God — wat Hy tevore beloof het deur sy profete in die heilige Skrifte, aangaande sy Seun wat gebore is na die vlees uit die geslag van Dawid en na die Gees van heiligheid met krag verklaar is as die Seun van God deur die opstanding uit die dode, Jesus Christus, onse Here
ROMEINE 1:1-4 Afrikaans 1983 (AFR83)
Van Paulus, 'n dienaar van Christus Jesus, geroep om apostel te wees, afgesonder vir die evangelie van God. Hierdie evangelie het Hy vooruit deur sy profete in die Heilige Skrif aangekondig, en dit handel oor sy Seun. As mens is Hy uit die geslag van Dawid gebore; op grond van sy opstanding uit die dood is Hy deur die Heilige Gees aangewys as die Seun van God wat met mag beklee is, Jesus Christus ons Here.
ROMEINE 1:1-4 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Paulus, 'n dienskneg van •Christus Jesus, 'n geroepe •apostel, afgesonder vir die evangelie van God, wat Hy reeds tevore deur sy profete in die heilige Skrifte beloof het aangaande sy Seun – wat na die liggaam uit die nageslag van Dawid gebore is, wat na die Gees van heiligheid op grond van sy opstanding uit die dood kragtig aangedui is as die •Seun van God – Jesus Christus, ons Here
ROMEINE 1:1-4 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Paulus, 'n dienskneg van Jesus Christus, geroep om 'n apostel te wees, afgesonder vir die evangelie van God, (Wat Hy vooraf deur sy profete in die Heilige Skrifte beloof het) aangaande sy Seun, Jesus Christus, onse Here, wat na die vlees gemaak is uit die geslag van Dawid; en met krag verklaar is dat hy die Seun van God is, volgens die gees van heiligheid, deur die opstanding uit die dode
ROMEINE 1:1-4 Die Boodskap (DB)
Van Paulus. Ek dien Christus Jesus. Hy het my aangestel as apostel. Dit is my taak om God se goeie nuus oral bekend te maak. Hierdie goeie nuus is al lankal deur God se boodskappers in die Bybel neergeskryf. Dit handel oor God se Seun, Jesus Christus. Hy is ons Here. Hy kom uit die nageslag van Dawid. Toe Jesus na sy kruisiging uit die dood opgestaan het, het die Heilige Gees aan Hom die heel belangrikste posisie in die hemel gegee. Hy is daar in die hemel triomfantlik as die Seun van God aangewys. Daarom besit Hy nou al die mag in die hemel en op die aarde.
ROMEINE 1:1-4 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Hierdie brief kom van Paulus. Ek is ’n dienskneg van Christus Jesus. Hy het my geroep om sy apostel te wees. Ek is afgesonder om God se Goeie Nuus te verkondig. Hierdie Goeie Nuus het Hy reeds lank gelede deur sy profete in die Skrif beloof. Dit gaan oor sy Seun, Jesus Christus. Wat sy menslikheid betref, is Hy uit die nageslag van Dawid gebore. Wat sy heilige Goddelikheid betref – sy opstanding uit die dood het kragdadig bevestig dat Hy die Seun van God is. Wat meer is, Hy is ook ons Here!