Romeine 1

1
1Paulus, 'n dienskneg van •Christus Jesus, 'n geroepe •apostel, afgesonder vir die evangelie van God, 2 wat Hy reeds tevore deur sy profete in die heilige Skrifte beloof het 3aangaande sy Seun –
wat na die liggaam
uit die nageslag van Dawid gebore is,
4wat na die Gees van heiligheid
op grond van sy opstanding uit die dood
kragtig aangedui is
as die •Seun van God –
Jesus Christus, ons Here, 5 deur wie ek die genade van my apostelskap ontvang het om tot eer van sy Naam mense uit al die heidenvolke tot geloofsgehoorsaamheid te bring, 6onder wie julle ook is, julle wat deur Jesus Christus geroep is –
7aan al die geliefdes van God wat in Rome is, geroepe heiliges:
Genade vir julle en vrede van God, ons Vader, en die Here Jesus Christus.
Paulus se gebed
8Heel eerste dank ek my God deur Jesus •Christus oor julle almal, omdat julle geloof oor die hele wêreld verkondig word. 9God, wat ek met my hele wese dien deur die evangelie van sy Seun, is my getuie dat ek gedurig aan julle dink 10en altyd in my gebede smeek dat die pad nou uiteindelik vir my oopgemaak sal word, as dit die wil van God is, om na julle te kom. 11Want ek begeer om julle te sien, sodat ek die een of ander geestelike gawe met julle kan deel om julle te versterk – 12of eerder, dat wanneer ek by julle is, ons wedersyds deur mekaar se geloof bemoedig kan word, ek deur julle geloof en julle deur myne.
Roeping van Paulus
13Ek wil nie hê dat julle hieroor onkundig moet wees nie, broers, dat ek my dikwels voorgeneem het om na julle te kom – alhoewel ek tot nou toe verhinder is – sodat ek ook onder julle 'n vrug kan verkry soos onder die ander heidene. 14Teenoor Grieke sowel as nie-Grieke, teenoor wyses sowel as onverstandiges, staan ek in die skuld – 15vandaar my hartsbegeerte om ook aan julle in Rome die evangelie te verkondig.
16Ek skaam my immers nie vir die evangelie nie, want dit is die krag van God tot verlossing vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood, maar ook vir die Griek. 17Want daarin word geopenbaar dat die •geregtigheid van God geheel en al op geloof berus, soos daar geskryf staan: “Die regverdige op grond van geloof sal leef.”
Straf van God oor die heidene
18Die toorn van God word vanaf die hemel geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van mense wat volhou om die waarheid deur ongeregtigheid te probeer onderdruk, 19 aangesien dit wat van God geweet kan word, aan hulle bekend is. God het dit immers aan hulle bekend gemaak. 20 Want sy onsigbare eienskappe, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, word van die skepping van die wêreld af in sy werke begryp en is duidelik sigbaar. Gevolglik is hulle sonder verontskuldiging; 21want alhoewel hulle God ken, het hulle Hom nie as God geëer of gedank nie. Inteendeel, hulle denke het sinloos geword en hulle onverstandige harte is verduister. 22 Alhoewel hulle beweer dat hulle wys is, het hulle dwaas geword. 23 Hulle het naamlik die heerlikheid van die onsterflike God verruil vir 'n afbeelding soos dié van 'n sterflike mens en van voëls en viervoetige en kruipende diere.
24 Daarom het God hulle deur middel van die begeertes van hulle harte oorgegee aan onreinheid, naamlik om hulle liggame onder mekaar te onteer 25– hulle wat die waarheid van God vir die leuen verruil het en geskape wesens aanbid en gedien het in plaas van die Skepper, wat tot in ewigheid lofwaardig is. Amen. 26 Daarom het God hulle oorgegee aan oneerbare drange, want hulle vroue het die natuurlike seksuele omgang verruil vir omgang wat teen die natuur is. 27 Net so het ook die mans die natuurlike seksuele omgang met die vrou laat vaar en vurig begin brand van begeerte na mekaar; mans het met mans skandelikheid bedryf en in hulleself die verdiende loon vir hulle afwyking ontvang.
28En omdat hulle dit as verwerplik beskou het om aan God erkenning te gee, het God hulle oorgegee aan 'n verwerplike denkwyse, sodat hulle onbetaamlik optree. 29Hulle is vol van elke vorm van onreg, boosheid, hebsug en kwaad: vol afguns, moorddadigheid, twisgierigheid, geslepenheid en kwaadwilligheid; hulle is skindertonge, 30 kwaadstokers, haters van God, brutaal, hooghartig en grootdoenerig, vindingryk om slegte dinge te bedink, ongehoorsaam aan hulle ouers; 31onverstandig, onbetroubaar, liefdeloos en sonder medelye 32– mense wat die voorskrif van God ken, naamlik dat die mense wat hierdie dinge doen, die dood verdien. Tog doen hulle dit nie net nie, maar praat hulle dit boonop goed wanneer ander dit doen.

Tans Gekies:

Romeine 1: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid