DIE OPENBARING 20:11-15
DIE OPENBARING 20:11-15 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN ek het 'n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het; en daar is geen plek vir hulle gevind nie. En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en 'n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke. En die see het die dode gegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dode gegee wat daarin was; en hulle is geoordeel, elkeen volgens sy werke. En die dood en die doderyk is in die poel van vuur gewerp. Dit is die tweede dood. En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp.
DIE OPENBARING 20:11-15 Bybel vir almal (ABA)
Toe sien ek 'n groot wit troon en ek sien vir God wat op die troon sit. Die aarde en die hemel was so bang vir God dat hulle weggehardloop het, 'n mens kon hulle nêrens sien nie. Toe sien ek die mense wat gesterf het, staan voor die troon, al die mense, grootmense en kinders. Iemand het die boeke in die hemel oopgemaak, ook die boek van die lewe. God het gekyk wat in die boeke geskryf is oor wat elke mens gedoen het, en toe het Hy die mense ge-oordeel. Ja, al die mense het weer begin lewe: die mense wat in die see gesterf het, en ook die mense wat gesterf het en wat in die doderyk was. God het gekyk wat hulle gedoen het en Hy het hulle almal ge-oordeel. Toe het God die dood en die doderyk in die see van vuur gegooi. Dit is die tweede dood. As iemand se naam nie in die boek van die lewe geskryf was nie, dan het God hom in die see van vuur gegooi.
DIE OPENBARING 20:11-15 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe het ek 'n groot wit troon gesien en die Een wat daarop sit. Die aarde en die hemel het voor Hom padgegee, en daar was nie meer plek vir hulle nie. Ek het die dooies, groot en klein, voor die troon sien staan, en die boeke is oopgemaak. Daar is ook 'n ander boek oopgemaak, dit is die boek van die lewe. Die dooies is toe geoordeel volgens wat daar in die boeke geskrywe staan oor alles wat hulle gedoen het. Die see het die dooies teruggegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dooies teruggegee wat in hulle was, en oor elkeen is geoordeel volgens wat hy gedoen het. Toe is die dood en die doderyk in die vuurpoel gegooi. Dit is die tweede dood, die vuurpoel. As daar gevind is dat iemand se naam nie in die boek van die lewe geskrywe staan nie, is hy in die vuurpoel gegooi.
DIE OPENBARING 20:11-15 Die Boodskap (DB)
Voor my oë het ek ’n groot, wit troon sien staan. Ek het Iemand op die troon sien sit. Die hemel en die aarde het voor Hom probeer wegkom, maar daar was nie ’n plek waar hulle kon wegkruip nie. Toe sien ek iets anders. Mense wat reeds dood en begrawe was - klein en groot - het voor die troon gestaan. Boeke is toe oopgeslaan. ’n Boek is oopgemaak waarin almal se name opgeskryf is wat vir ewig sal lewe. Daarin is boekgehou van wat die mense alles gedoen het. God het besluit wat met elkeen gaan gebeur op grond van wat in die boek staan. Die mense wat in die see verdrink het, het lewendig geword. Al die mense, hoe hulle ook al dood is, het lewendig geword en voor die troon verskyn. Elkeen moes God se oordeel aanhoor, volgens hoe hy geleef het. Daarna het God die moontlikheid van die dood ook vernietig. Die dood en die doderyk self is in die see van vuurvlamme gegooi. Dit is die tweede dood: om in hierdie see van vlamme verskroei te word. Nou wie presies beland in hierdie vlamme? As jou naam nie in die boek staan waarin die name staan van die mense wat vir ewig sal leef nie, is die vlamme jou voorland!
DIE OPENBARING 20:11-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Ek het toe ’n groot wit troon gesien en Iemand wat daarop sit. Die aarde en die hemel het van Hom af weggevlug, en daar was nie meer wegkruipplek vir hulle oor nie. Ek het ook die dooies, groot en klein, voor die troon sien staan. Daarna is die boekrolle oopgemaak. Daar is ook ’n ander boekrol oopgemaak, dit is die Boekrol van die Lewe. Die dooies is geoordeel volgens wat opgeskryf staan oor wat hulle gedoen het. Die see het die dooies teruggegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dooies teruggegee wat daarin was, en hulle is elkeen geoordeel volgens wat hulle gedoen het. Die dood en die doderyk is toe in die vuurpoel gegooi. Dit is die tweede dood – die poel van vuur. En as dit geblyk het dat iemand se naam nie in die Boekrol van die Lewe opgeskryf staan nie, is hy in die vuurpoel gegooi.