OPENBARING 20

20
Satan word vir duisend jaar gebind
1Ek het toe ’n engel van die hemel af sien kom met die sleutel van die bodemlose put terwyl hy ’n groot ketting in sy hand hou.
2Hy het die draak, die slang van die oertyd, dit is die duiwel en Satan, vasgegryp en hom vir 1 000 jaar gebind. 3Die engel het hom in die bodemlose put gegooi, dit toegesluit en dit bokant hom verseël sodat hy nie langer die nasies sou verlei totdat die 1 000 jaar verstryk het nie. Daarna moet hy vir ’n klein rukkie losgemaak word.
4Toe het ek trone gesien, en dié wat daarop sit, is die bevoegdheid gegee om te oordeel. Ek het ook die siele gesien van hulle wat onthoof is as gevolg van hulle getuienis aangaande Jesus en die boodskap van God. Dit is hulle wat nie voor die monster en sy standbeeld neergeval het in aanbidding nie, en nie die merkteken op hulle voorkop en op hulle hand ontvang het nie. Hulle het toe weer lewend geword en saam met Christus#20:4 Of die Messias, bedoelende Jesus Christus as die Messiaskoning. vir 1 000 jaar lank regeer.
5Die oorblywende dooies het nie weer lewend geword voordat die 1 000 jaar om was nie. Dit is die eerste opstanding.
6Geseënd en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding. Oor hierdie mense het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees, en sal saam met Hom die 1 000 jaar lank as konings regeer.
Satan word oorwin en in die poel van vuur en swael gegooi
7Wanneer die 1 000 jaar om is, sal Satan uit sy tronk losgelaat word. 8Hy sal dan daarop uit wees om die nasies tussen die vier hoeke van die aarde, die Gog en Magog#20:8 Name wat na vyande van God se volk verwys. Vgl Eseg 38:2; 39:1, 6., te verlei en om hulle byeen te bring vir die oorlog. Getallegewys is hulle so baie soos die sand van die see. 9Hulle het toe van oor die hele breedte van die aarde af opgetrek en die laer van hulle wat aan God toegewy#20:9 Grondteks laer van die heiliges. is, en die geliefde stad omsingel. Daar het egter vuur van die hemel af op hulle afgekom en hulle verteer.
10Satan wat hulle verlei het, is daarop in die poel van vuur en swael gegooi, daar waar die monster en die vals profeet ook reeds is. Daar sal hulle dag en nag vir altyd gefolter word.
Die boekrolle word oopgemaak vir die finale oordeelsaankondiging
11Ek het toe ’n groot wit troon gesien en Iemand wat daarop sit. Die aarde en die hemel het van Hom af weggevlug, en daar was nie meer wegkruipplek vir hulle oor nie. 12Ek het ook die dooies, groot en klein, voor die troon sien staan. Daarna is die boekrolle oopgemaak. Daar is ook ’n ander boekrol oopgemaak, dit is die Boekrol van die Lewe. Die dooies is geoordeel volgens wat opgeskryf staan oor wat hulle gedoen het. 13Die see het die dooies teruggegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dooies teruggegee wat daarin was, en hulle is elkeen geoordeel volgens wat hulle gedoen het. 14Die dood en die doderyk is toe in die vuurpoel gegooi. Dit is die tweede dood – die poel van vuur. 15En as dit geblyk het dat iemand se naam nie in die Boekrol van die Lewe opgeskryf staan nie, is hy in die vuurpoel gegooi.

Tans Gekies:

OPENBARING 20: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid