OPENBARING 1

1
Die openbaring van God deur Jesus Christus
1Dit is ’n openbaring wat van Jesus Christus af kom. God het dit aan Hom gegee om aan sy diensknegte bekend te maak wat binnekort moet gebeur. Hy het dit toe aan sy dienskneg Johannes gegee#1:1 Grondteks gewys. deur sy engel na hom toe te stuur. 2Johannes het getuienis gelewer van alles wat hy gesien het: wat God gesê het en wat Jesus getuig het.
3Geseënd is dié een wat die woorde van dié profesie lees#1:3 Of voorlees., asook dié wat dit hoor en gehoorsaam wat daarin geskryf staan, want die tyd van beslissing is naby.
Johannes se brief aan die sewe gemeentes in die provinsie Asië
4Hierdie brief kom van Johannes en is gerig aan die sewe gemeentes wat in die provinsie Asië geleë is. Genade#1:4 Of Onverdiende goedheid. en vrede aan julle, van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is; 5en van Jesus Christus, die betroubare getuie, die eerste wat uit die dood opgestaan#1:5 Of tussen die dooies uit opgestaan. het en wat heers oor die konings van die aarde.
Aan Hom wat ons liefhet
en ons deur sy bloed
van ons sondes verlos het,
6en ons laat deel in sy koninklike regering,
aan Hom wat ons priesters vir God,
sy Vader, gemaak het,
aan Hom behoort die heerlikheid en die krag
vir ewig en altyd. Amen.
7Kyk, Hy kom met die wolke! Elke oog sal Hom sien, ook hulle wat Hom deurboor het; al die nasies op aarde sal jammerlik oor Hom huil. Ja, amen!
8“Ek is die Alfa en die Omega,” sê die Here God, wat is en wat was en wat kom, die Almagtige.
Johannes ontvang ’n visioen van die verheerlikte Christus
9Ek is Johannes, julle medegelowige#1:9 Grondteks broer.. Deur ons hegte verhouding met Jesus deel ons saam in die swaarkry, maar ook in sy heerskappy en in die volharding. Dit het gebeur dat ek op die eiland Patmos beland het omdat ek die boodskap van God en die getuienis wat deur Jesus gelewer is, gepreek het. 10Op die Dag van die Here was ek in die greep van die Gees en het reg agter my ’n harde stem, soos ’n trompet, hoor 11sê: “Skryf wat jy sien in ’n boekrol neer en stuur dit aan die sewe gemeentes: na Efese, Smirna, Pergamum, Tiatira, Sardis, Filadelfia en Laodisea.”
12Ek het toe omgedraai om te sien wie se stem dit is wat met my praat. Nadat ek omgedraai het, het ek sewe goue kandelare gesien 13en in die middel van die kandelare Iemand soos die Seun van die Mens. Hy het ’n kleed aangehad wat tot op sy voete gehang het en ’n goue band was om sy bors vasgemaak. 14Sy kop en sy hare was wit soos wol, so wit soos sneeu, en sy oë soos ’n vuurvlam. 15Sy voete was soos gepoleerde koper wat in ’n smeltoond gloei en sy stem soos die geluid van baie waterstrome.
16In sy regterhand het Hy sewe sterre vasgehou en uit sy mond het ’n skerp swaard met twee snykante gekom. Sy gesig het helder geskyn soos die son in al sy felheid.
17Toe ek Hom sien, het ek voor sy voete neergeval soos ’n lyk. Hy het sy regterhand op my gelê en gesê: “Hou op om bang te wees, Ek is die Eerste en die Laaste, 18en die Lewende. Ek was dood en kyk, nou leef Ek vir altyd en Ek het die sleutels van die dood en die doderyk. 19Skryf op wat jy gesien het: wat nou besig is om te gebeur en wat hierna gaan gebeur. 20En dit is die geheim van die sewe sterre wat jy in my regterhand gesien het en die sewe goue kandelare: Die sewe sterre is die sewe voorgangers#1:20 Of boodskappers. Grondteks engele. van die sewe gemeentes en die sewe kandelare is die sewe gemeentes self.”

Tans Gekies:

OPENBARING 1: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid