PSALMS 91:1-16

PSALMS 91:1-16 Bybel vir almal (ABA)

Wanneer iemand veilig wil wees by die Hoogste God, wanneer hy wil hê die Almagtige moet hom beskerm, dan sê hy vir die Here: “By U is ek veilig, U is vir my soos 'n veilige plek in die berge. My God, ek weet U sal my beskerm.” Ja, die Here sal jou red van die vangnet waarin iemand jou wil vang, Hy sal jou red van die pes wat alles verwoes. Die Here sal jou beskerm soos 'n hen haar kuikens onder haar vlerke beskerm, Hy bly dieselfde, Hy sal vir jou wees soos 'n skild, soos 'n sterk muur om 'n stad. Jy moenie bang wees vir die dinge wat jou in die nag laat skrik nie, of vir die pyle wat mense in die dag na jou toe skiet nie. Jy moenie bang wees vir die pes wat in die donker kom nie, of vir die dinge wat in die dag alles verwoes nie. Wanneer 1 000 mense langs jou sterf, of 10 000, dan sal daar niks wat sleg is, met jou gebeur nie. Jy sal dit self sien, jy sal kyk hoe die Here die mense straf wat verkeerd doen. Jy het vir die Here gevra om jou te beskerm, jy glo dat jy veilig sal wees by die Hoogste God, daarom sal daar niks wat sleg is, met jou gebeur nie, en daar sal nooit siekte naby jou tent kom nie. Want die Here sal sy engele stuur om jou te beskerm oral waar jy gaan. Hulle sal jou dra, en jy sal nie jou toon teen 'n klip stamp nie. Jy sal leeus en slange doodtrap. Die Here sê: “Ek sal hom red omdat hy aanhou om lief te wees vir My. Ek sal hom beskerm omdat hy My ken. Hy sal roep en vra dat Ek hom moet help, en Ek sal doen wat hy vra. Ek sal by hom wees wanneer dit sleg gaan, Ek sal hom red en Ek sal hom belangrik maak. Ek sal hom lank laat lewe, baie lank, Hy sal weet dat Ek hom gered het.”

PSALMS 91:1-16 Die Boodskap (DB)

As jy na die allerhoogste God toe gaan dat Hy jou moet oppas, kan jy van een ding seker wees: Die almagtige God sal jou bewaar. Jy kan vir die Here sê: “U beskerm en bewaar my. U is my God op wie ek vertrou.” Dis die Here wat jou uit die moeilikheid kom haal as iemand jou met skelmstreke om die bos gelei het. Hy bly getrou aan jou. Hy sal jou verlos van enige gevaar wat jou lewe bedreig. Hy sal jou veilig oppas. Daarom kan jy by Hom gaan wegkruip. Met sy groot liefde keer Hy die gevaar af. Jy hoef nie bang te wees dat enige mag jou bedags of snags sal oorrompel nie. Geen bose gees sal jou onverwags in besit neem nie. Nie eens ’n gevaarlike siekte wat jou van agter af bekruip, of ’n epidemie wat jou oorval, sal jou kwaad kan aandoen nie. Al is die gevaar rondom jou so groot dat duisende mense langs jou doodgaan, ja, ook al sterf derduisende mense naby jou, sal jy niks oorkom nie. Jy sal staan en kyk hoe mense wat nie op die Here vertrou nie, platgetrap word. Dit is goed dat jy by die allerhoogste God gaan wegkruip. Ongelukke, rampe en ernstige siektes sal jou of jou huis nie tref nie. Hy self sal jou bewaar. Sy engele sal jou omring wanneer die Here vir hulle sê om dit te doen. Hy sal sê dat hulle jou moet beskerm. Hulle sal jou veilig in hulle hand vashou sodat jy nie seerkry nie. Jy sal nie eens jou toon teen ’n klip stukkend stamp nie. Jy sal oor jou vyande loop. Van een ding kan jy baie seker wees: as jy op die Here vertrou en elke dag op sy hulp staatmaak, sal nie eens die grootste gevare in die lewe jou ooit onderkry nie. Met die Here se hulp sal jy elke moeilikheid wat jou oorkom te bowe kom. Jy sal bo dit alles uittroon. Die Here sê self: “Iemand wat My liefhet, sal Ek uit enige gevaar bevry. Ek sal hom beskerm omdat hy My vertrou. Wanneer hy My om hulp vra, sal Ek hom help; Ek sal hom in enige krisis bystaan. In sy nood sal Ek hom help. So sal Ek eer aan hom bewys. Ek sal sy lewe vol maak met goeie dinge. Hy sal lank leef. Hy sal bly wees, want hy weet dat Ek graag help.”

PSALMS 91:1-16

PSALMS 91:1-16 AFR83PSALMS 91:1-16 AFR83PSALMS 91:1-16 AFR83PSALMS 91:1-16 AFR83PSALMS 91:1-16 AFR83PSALMS 91:1-16 AFR83

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid