Psalms 91

91
1Hy wat in die beskutting
van die Allerhoogste woon,
sal oornag in die skaduwee
van die Almagtige.
2Ek sê vir die Here:
“My skuilplek, my bergskuiling,
my God op wie ek vertrou!”
3Ja, Hy is die Een wat jou red
uit die net van die voëlvanger,
van die dodelike pessiekte.
4Met sy vlerke sal Hy jou bedek,
onder sy vleuels sal jy skuiling vind.
'n Skild en 'n skans is sy trou.
5Jy sal nie bang wees
vir die verskrikking van die nag,
vir 'n pyl wat oordag vlieg nie,
6vir 'n pessiekte
wat in die donker rondloop,
vir die epidemie
wat helder oordag verwoes nie.
7Daar kan duisend langs jou val,
en tienduisend aan jou regterkant,
naby jou sal dit nie kom nie.
8Jy sal maar net toekyk –
die vergelding van goddeloses
sal jy sien.
9Ja, U, Here, is my skuilplek.
Die Allerhoogste het jy
jou woning gemaak:
10Onheil sal jou nie oorval nie
en 'n plaag sal nie naby jou tent
kom nie,
11 want Hy sal sy engele
oor jou opdrag gee
om jou te beskerm op al jou paaie.
12 Op die hande sal hulle jou dra,
sodat jou voet nie teen 'n klip
stamp nie.
13Op leeus en horingslange sal jy trap,
jong leeus en slange sal jy vertrap.
14“Omdat hy My liefhet,
sal Ek hom bevry;
Ek sal hom beskerm
omdat hy my Naam ken.
15Hy sal My aanroep,
en Ek sal hom antwoord.
Ek sal by hom wees in nood;
Ek sal hom red en aan hom eer gee.
16Met 'n lang lewe sal Ek hom versadig;
Ek sal hom my verlossing laat ervaar.”

Tans Gekies:

Psalms 91: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid