MATTEUS 10:19-25

MATTEUS 10:19-25 Die Boodskap (DB)

“As hulle julle voor die hof sleep, hoef julle nie oor prokureurs of advokate bekommerd te wees nie. Julle hoef nie te wonder oor hoe julle julle gaan verdedig nie. God gaan julle verdedig. Wie weet beter as Hy wat om te sê? Wanneer julle beurt dus kom om iets te sê, sal die regte woorde wel daar wees. Dit sal nie julle woorde wees nie; die Gees van julle Vader sal self vir julle elke woord gee wat nodig is. “Die ergste van alles het Ek julle nog nie vertel nie. Dit sal nie net vreemde mense wees wat julle ernstige moeilikheid gaan gee nie. Dit sal tot gebeur dat ’n broer teen sy eie broer draai, of ’n pa teen sy kind. Glo dit of nie, sulke mense sal teen hulle eie bloedfamilie draai. Hulle sal selfs wil hê dat hulle doodgemaak moet word. Later sal die kinders selfs soos rebelle die mag in eie hande neem en sommer hulle eie pa en ma doodmaak.” “Julle wil seker weet waarom dit alles met julle moet gebeur. Wel, die antwoord is eenvoudig: omdat julle my vriende is. “Julle sal deur al hierdie mense gehaat word net omdat julle my kant gekies het. Maar moenie dat dit julle moedeloos maak nie. Julle het iets baie groters om na uit te sien. Die een wat deur al hierdie swaarkry heen steeds vas agter My bly staan, se plek is by God in sy nuwe wêreld bespreek. “Die kaptein van ’n span wen of verloor nie alleen nie; sy span wen of verloor saam met hom. Die kaptein se lot is almal se lot. Aanvaar daarom julle lot saam met My. Moenie ongelukkig wees as dieselfde dinge met julle gebeur wat met My ook gebeur nie. As hierdie mense die kaptein van die span vir ’n ‘duiwelskind’ uitskel, wat dink julle sal hulle die res van die span noem? “Al die probleme mag julle dus nie moed laat verloor nie. Die wêreld lê voor julle oop as sendingveld. As mense julle uit die een dorp wegjaag, is daar tien ander om na toe te gaan. Sowaar, daar is so baie werk dat julle nie eens behoorlik met die dorpe in Israel klaar sal kry voor die wederkoms nie. Julle kan nie net op een plek bly nie.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid