MATTEUS 1:18-19
MATTEUS 1:18-19 Bybel vir almal (ABA)
Dit is wat gebeur het voordat Jesus Christus gebore is: Sy ma, Maria, was verloof aan Josef. Hulle was nog nie getroud nie en hulle het nog nie saam geslaap nie, maar Maria het swanger geword. Dit is die Heilige Gees wat dit laat gebeur het. Josef, Maria se verloofde, was 'n goeie man. Hy was gehoorsaam aan die Wette van Moses en hy wou nie haar naam sleg maak by die mense nie. Daarom het hy besluit om sy verlowing met Maria te breek, maar hy wou dit vir niemand sê nie.
MATTEUS 1:18-19 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
DIE geboorte van Jesus Christus was dan só: Toe sy moeder Maria verloof was aan Josef, voordat hulle saamgekom het, is sy swanger bevind uit die Heilige Gees. En Josef, haar man, omdat hy regverdig was en onwillig om haar openbaar te maak, het hom voorgeneem om in die geheim van haar te skei.
MATTEUS 1:18-19 Afrikaans 1983 (AFR83)
Hier volg nou die geskiedenis van die geboorte van Jesus Christus. Toe sy moeder Maria nog aan Josef verloof was, het dit geblyk dat sy swanger is sonder dat hulle gemeenskap gehad het. Die swangerskap het van die Heilige Gees gekom. Haar verloofde, Josef, wat aan die wet van Moses getrou was maar haar tog nie in die openbaar tot skande wou maak nie, het hom voorgeneem om die verlowing stilweg te verbreek.
MATTEUS 1:18-19 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die geboorte van Jesus Christus het só gebeur. Toe Maria, sy moeder, reeds aan Josef verloof was, maar nog voordat hulle gemeenskap gehad het, het dit geblyk dat sy swanger geraak het uit die Heilige Gees. Omdat Josef, haar man, wetsgetrou was maar haar nie in die openbaar wou verneder nie, het hy besluit om in die geheim van haar te skei.
MATTEUS 1:18-19 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En die geboorte van Jesus Christus was so: Toe sy moeder Maria verloof was aan Josef, voordat hulle bymekaar gekom het, is sy swanger gevind van die Heilige Gees. Toe was haar man Josef, wat 'n regverdige man was en nie bereid was om haar 'n openbare voorbeeld te stel nie, van plan om haar in die geheim weg te sit.
MATTEUS 1:18-19 Die Boodskap (DB)
Nou kom ons by die verhaal van Jesus Christus se geboorte. Dit het so gebeur: Daar was ’n vrou met die naam Maria. Sy was verloof aan ’n man met die naam Josef. Op ’n dag het hy uitgevind Maria verwag ’n kind. Josef was baie omgekrap hieroor, want hy het geweet dat dit nie sy kind was nie. Natuurlik was dit die Heilige Gees wat Maria laat verwag het, maar Josef het dit toe nog nie geweet nie. Omdat Josef die wette van Moses goed geken het, het hy geweet dat dit ’n groot skande vir ’n ongetroude vrou was om ’n baba te verwag. Hy wou Maria nie verneder deur die verlowing in die openbaar te verbreek nie. Daarom het hy besluit om stilweg die verlowing te verbreek voordat almal van Maria se swangerskap te hore kom.
MATTEUS 1:18-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Dit is hoe Jesus Christus gebore is: Maria, sy ma, was verloof aan Josef. Nog voor hulle getroud is en hulle intiem verkeer het, het dit geblyk dat sy verwagtend was deur die Heilige Gees. Josef, haar verloofde, was in ’n dilemma. Aan die een kant was hy ’n wetsgehoorsame man; aan die ander kant wou hy haar die openbare skande spaar. Daarom het hy hom voorgeneem om die verlowing privaat te verbreek.