Matteus 1

1
Geslagsregister van Jesus
(Luk 3:23-38)
1Die geslagsregister van Jesus Christus, die •Seun van Dawid, die Seun van Abraham:
2 Abraham het Isak verwek,
Isak het Jakob verwek,
Jakob het Juda en sy broers verwek,
3 Juda het Peres en Serag by Tamar verwek,
Peres het Gesron verwek,
Gesron het Ram verwek,
4 Ram het Amminadab verwek,
Amminadab het Nagson verwek,
Nagson het Salmon verwek,
5Salmon het Boas by Ragab verwek,
Boas het Obed by Rut verwek,
Obed het Isai verwek
6en Isai het Dawid, die koning, verwek.
Dawid het Salomo by die vrou
van Urija verwek,
7 Salomo het Rehabeam verwek,
Rehabeam het Abia verwek,
Abia het Asa verwek,
8Asa het Josafat verwek,
Josafat het Joram verwek,
Joram het Ussia verwek,
9Ussia het Jotam verwek,
Jotam het Agas verwek,
Agas het Hiskia verwek,
10Hiskia het Manasse verwek,
Manasse het Amon verwek,
Amon het Josia verwek
11en in die tyd van die wegvoering na Babilon
het Josia Jojagin en sy broers verwek.
12Ná die wegvoering na Babilon
het Jojagin Sealtiël verwek,
Sealtiël het Serubbabel verwek,
13Serubbabel het Abihud verwek,
Abihud het Eljakim verwek,
Eljakim het Asor verwek,
14Asor het Sadok verwek,
Sadok het Agim verwek,
Agim het Elihud verwek,
15Elihud het Eleasar verwek,
Eleasar het Mattan verwek,
Mattan het Jakob verwek
16en Jakob het Josef verwek,
die man van Maria,
uit wie Jesus, wat bekend staan
as Christus, gebore is.
17Al die geslagte dan van Abraham
tot by Dawid
was veertien geslagte,
en van Dawid
tot by die wegvoering
na Babilon
veertien geslagte,
en van die wegvoering na Babilon
tot by die Christus
veertien geslagte.
Geboorte van Jesus Christus
(Luk 2:1-7)
18Die geboorte van Jesus Christus het só gebeur. Toe Maria, sy moeder, reeds aan Josef verloof was, maar nog voordat hulle gemeenskap gehad het, het dit geblyk dat sy swanger geraak het uit die Heilige Gees. 19Omdat Josef, haar man, wetsgetrou was maar haar nie in die openbaar wou verneder nie, het hy besluit om in die geheim van haar te skei. 20Terwyl hy daaroor nagedink het, het daar skielik 'n engel van die Here in 'n droom aan hom verskyn en gesê: “Josef, seun van Dawid, moenie bang wees om Maria as jou vrou by jou te neem nie, want wat in haar verwek is, is uit die Heilige Gees. 21Sy sal geboorte gee aan 'n seun, en jy moet Hom Jesus noem, want Hy sal sy volk van hulle sondes verlos. ” 22Dit het alles gebeur sodat wat die Here deur die profeet gesê het, vervul kon word:
23“Kyk, die maagd sal swanger word
en 'n seun in die wêreld bring,
en hulle sal Hom Immanuel noem” –
wat, as dit vertaal word, beteken ‘God is met ons.’
24Toe Josef uit die slaap wakker word, het hy gemaak soos die engel van die Here hom beveel het en haar as sy vrou by hom geneem. 25Hy het nie met haar gemeenskap gehad totdat sy aan 'n seun geboorte gegee het nie. En hy het Hom Jesus genoem.

Tans Gekies:

Matteus 1: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid