LUKAS 6:12-19
LUKAS 6:12-19 Bybel vir almal (ABA)
Nie lank daarna nie het Jesus na die berg gegaan om daar te bid. Hy het die hele nag tot God gebid. Toe dit dag word, het Hy sy dissipels na Hom toe geroep. Hy het twaalf van hulle gekies en Hy het hulle apostels genoem. Hulle name was: Simon, sy ander naam was Petrus, en ook sy broer Andreas, Jakobus, Johannes, Filippus, Bartolomeus, Matteus, Tomas, Jakobus seun van Alfeus, Simon die patriot, Judas seun van Jakobus, en Judas Iskariot wat later vir Jesus verraai het. Daarna het Jesus saam met die apostels van die berg afgegaan en op 'n gelyk plek gaan staan. Daar was baie van sy dissipels en baie ander mense wat gekom het uit die hele provinsie Judea, en van Jerusalem en van die stede Tirus en Sidon by die see. Hulle het almal na Jesus kom luister en hulle wou hê Hy moet hulle gesond maak. Daar was onrein geeste in party mense, en Jesus het daardie mense ook gesond gemaak. Almal wou graag aan Jesus raak, want daar het krag uit Hom gekom en die krag het almal gesond gemaak.
LUKAS 6:12-19 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN Hy het in daardie dae uitgegaan na die berg om te bid en die nag in die gebed tot God deurgebring. En toe dit dag geword het, het Hy sy dissipels na Hom geroep en twaalf van hulle uitgekies, wat Hy apostels genoem het: Simon wat Hy Petrus genoem het, en Andréas, sy broer; Jakobus en Johannes; Filippus en Bartholoméüs; Matthéüs en Thomas; Jakobus, die seun van Alféüs, en Simon wat Yweraar genoem word; Judas, die seun van Jakobus, en Judas Iskáriot, wat die verraaier geword het. EN Hy het met hulle afgeklim en op 'n gelyk plek gaan staan, en daar was 'n skare van sy dissipels en 'n groot menigte van die volk van die hele Judéa en Jerusalem en die kusstreek van Tirus en Sidon af, wat gekom het om Hom te hoor en van hulle kwale genees te word; en die wat gekwel was deur onreine geeste, is ook genees. En die hele skare het probeer om Hom aan te raak, omdat krag van Hom uitgegaan het, en Hy het almal gesond gemaak.
LUKAS 6:12-19 Afrikaans 1983 (AFR83)
In daardie tyd het Jesus uitgegaan na die berg toe om te bid en die hele nag deurgebring in gebed tot God. Toe dit dag word, het Hy sy dissipels nader geroep en twaalf van hulle uitgekies, wat Hy ook apostels genoem het. Hulle was Simon, wat Hy ook Petrus genoem het, en sy broer Andreas, Jakobus en Johannes, Filippus en Bartolomeus, Matteus en Tomas, Jakobus seun van Alfeus, Simon die Seloot, Judas seun van Jakobus, en Judas Iskariot wat die verraaier geword het. Hy het saam met hulle van die berg afgekom en op 'n gelykte by 'n groot aantal volgelinge gaan staan. Van die hele Joodse land en Jerusalem en van die kusgebied van Tirus en Sidon af was daar 'n menigte mense wat gekom het om na Hom te luister en van hulle siektes genees te word. Ook dié wat onder onrein geeste gely het, is gesond gemaak. Al die mense het Hom probeer aanraak, omdat daar krag van Hom uitgegaan het en Hy almal gesond gemaak het.
LUKAS 6:12-19 Die Boodskap (DB)
Kort daarna het Jesus een aand teen ’n berg opgeklim om te gaan bid. Hy het die hele nag in gebed tot God deurgebring. Die volgende dag het Jesus sy volgelinge na Hom toe geroep. Hy het toe twaalf van hulle uitgekies. Hierdie twaalf mans het Jesus sy apostels genoem, sy spesiale verteenwoordigers. Hulle name is: Simon (Jesus het hom Petrus genoem), Andreas, Petrus se broer, Jakobus, Johannes, Filippus, Bartolomeus, Matteus, Tomas, Jakobus, die seun van Alfeus, Simon (die mense het hom “ywerige Simon” genoem), Judas, die seun van Jakobus, en Judas Iskariot (hy het Jesus later verraai). Toe Jesus saam met hulle van die berg af kom, het Hy daar onder op die oop vlakte gaan staan. Baie van sy volgelinge en ’n hele klomp ander mense het daar na Hom toe gestroom. Van oor die hele Judea en Jerusalem, selfs van die kusgebied van Tirus en Sidon af, het mense in ’n groot massa na Jesus toe gekom. Hulle wou Hom hoor preek en ook van hulle siektes genees word. Jesus het dit toe gedoen. Mense wat deur bose geeste beset is, is deur Hom bevry. Almal het probeer om aan Jesus te raak. Hy was so vol krag dat Hy almal wat siek was, gesond gemaak het.
LUKAS 6:12-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Eendag kort hierna het Jesus na ’n berg gegaan om te bid, en Hy het die hele nag in gebed deurgebring. Teen dagbreek het Hy al sy dissipels bymekaargeroep en twaalf van hulle gekies om apostels te wees. Hier is hulle name: Simon (Hy het hom ook Petrus genoem), Andreas (Petrus se broer), Jakobus, Johannes, Filippus, Bartolomeus, Matteus, Tomas, Jakobus (seun van Alfeus), Simon (die Yweraar), Judas (seun van Jakobus), Judas Iskariot (wat Hom later uitgelewer het). Toe hulle teen die berghang afgekom het, het die dissipels saam met Jesus op ’n groot gelykte gaan staan, omring deur baie ander volgelinge en die skares. Daar was mense van oral oor Judea en Jerusalem en so ver noord as die kusgebied van Tirus en Sidon. Hulle het gekom om na Hom te luister en om genees te word, en Jesus het baie bose geeste uitgedryf. Almal het aan Hom probeer raak, want genesende krag het van Hom uitgegaan, en hulle is almal genees.