LUKAS 23:8-9
LUKAS 23:8-9 Bybel vir almal (ABA)
Herodes was baie bly om Jesus te sien, want hy wou graag vir Jesus ontmoet omdat hy baie van Hom gehoor het. Herodes het gehoop Jesus doen 'n wonderteken voor hom. Herodes het vir Jesus lank uitgevra, maar Jesus het hom niks geantwoord nie.
LUKAS 23:8-9 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En toe Herodes Jesus sien, was hy baie bly, want hy was al geruime tyd begerig om Hom te sien, omdat hy veel van Hom gehoor het; en hy het gehoop om een of ander teken te sien wat deur Hom gedoen sou word. En hy het Hom met baie woorde uitgevra, maar Hy het hom niks geantwoord nie.
LUKAS 23:8-9 Afrikaans 1983 (AFR83)
Herodes was baie bly om Jesus te sien. Omdat hy soveel van Hom gehoor het, het hy al 'n geruime tyd die begeerte gehad om Hom te sien. Hy het ook gehoop om Hom een of ander wonderwerk te sien doen. Hy het allerlei vrae aan Hom gestel, maar Jesus het hom niks geantwoord nie.
LUKAS 23:8-9 Die Boodskap (DB)
Toe Jesus by Herodes aankom, was hy bly. “Aha! Uiteindelik kry ek die man te sien van wie ek so baie gehoor het,” het Herodes gesê. “Nou toe, doen gou vir my die een of ander groot teken.” Jesus het egter net daar gestaan sonder om enigiets te sê. Herodes het Hom die een ding na die ander gevra, maar Hy het niks geantwoord nie.
LUKAS 23:8-9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Herodes was baie opgewonde om Jesus te sien. Hy het al vir ’n lang tyd die begeerte gehad om Jesus te sien omdat hy al soveel van Hom gehoor het. Hy het ook gehoop om te sien hoe Jesus die een of ander wonderteken verrig. Hy het Jesus vraag op vraag gevra, maar Hy het hom niks geantwoord nie.