Lukas 23

23
Jesus staan voor Pilatus
(Ook Matt 27:1-2,11; Mark 15:1-2; Joh 18:28,33-34,37)
1Die hele Joodse Raad het toe opgestaan en hulle het vir Jesus na Pilatus toe geneem. 2Hulle het begin om Jesus te beskuldig. Hulle het gesê: “Ons het uitgevind dat hierdie man ons volk opstandig maak. Hy sê die mense moenie belasting betaal aan die keiser nie. Hy sê ook hy is 'n koning, die Christus.”
3Pilatus het vir Jesus gevra: “Is jy die koning van die Jode?”
Toe antwoord Jesus vir Pilatus: “Jy sê self Ek is.”
4Pilatus het vir die priesterleiers en die mense gesê: “Ek dink nie hierdie man het enige iets verkeerd gedoen nie.”
5Maar die priesterleiers het aangehou om te sê: “Hy maak die mense opstandig, want hy het begin om vir die mense in Galilea verkeerde dinge te leer, en nou doen hy dit ook in die hele land Judea.”
Jesus voor Herodes
6Toe Pilatus dit hoor, vra hy: “Kom hierdie man van Galilea?”
7En toe hy hoor dat Jesus van Galilea kom waar Herodes koning is, het hy vir Jesus na koning Herodes toe gestuur. Herodes was ook vir die Paasfees in Jerusalem. 8Herodes was baie bly om Jesus te sien, want hy wou graag vir Jesus ontmoet omdat hy baie van Hom gehoor het. Herodes het gehoop Jesus doen 'n wonderteken voor hom. 9Herodes het vir Jesus lank uitgevra, maar Jesus het hom niks geantwoord nie. 10Die priesterleiers en die skrifgeleerdes was ook daar. Hulle het Jesus oor baie dinge beskuldig by Herodes. 11Toe het Herodes en sy soldate vir Jesus verneder en Hom gespot. Hulle het vir Hom deftige klere aangetrek en Herodes het Hom teruggestuur na Pilatus toe. 12Daardie dag het Herodes en Pilatus vriende geword. Voorheen was hulle vyande van mekaar.
Pilatus sê Jesus moet sterf
(Ook Matt 27:15-17,21-23,26; Mark 15:6-9,11-15; Joh 18:38-40; 19:16)
13Toe het Pilatus die priesterleiers en die leiers van die volk en al die mense bymekaargeroep. 14Hy het vir hulle gesê: “Julle het vir my hierdie man gebring en gesê hy maak die mense opstandig. Ek het geluister na wat hy sê, maar ek kon niks kry wat wys dat hy skuldig is nie. 15Herodes kon ook niks kry wat hy verkeerd gedoen het nie, want hy het vir Jesus teruggestuur na my toe. Jesus het niks verkeerd gedoen nie, ek kan hom nie laat doodmaak nie. 16Daarom sal ek hom laat slaan, en dan sal ek hom uit die tronk laat kom.”
17 18Maar toe het almal geskree: “Jy moet hierdie man wegvat. Ons wil hê jy moet vir Barabbas uit die tronk laat kom.”
19Barabbas was in die tronk omdat hy die leier was van mense wat in Jerusalem opstandig geword het teen die Romeinse regering, en omdat hy iemand vermoor het. 20Pilatus het weer met die Joodse leiers en met die mense gepraat, want hy wou graag vir Jesus uit die tronk laat kom. 21Maar die mense het geskree: “ Kruisig hom, kruisig hom!”
22Pilatus het 'n derde maal met die mense gepraat. Hy het gesê: “Sê vir my, wat het hierdie man gedoen wat verkeerd is? Ek kan niks kry waaroor hy moet sterf nie. Ek sal hom laat slaan, en dan sal ek hom uit die tronk laat kom.”
23Maar die mense het aangehou om hard te skree dat Pilatus vir Jesus moet laat kruisig. Hulle het so baie geskree 24dat Pilatus besluit het om te doen wat hulle vra. 25Hy het vir Barabbas laat uitkom, Barabbas wat in die tronk was omdat hy die leier was van mense wat opstandig was teen die Romeinse regering, en omdat hy iemand vermoor het. Pilatus het gedoen wat die mense gevra het, hy het gesê Jesus moet sterf, want dit is wat die mense wil hê.
Die soldate kruisig vir Jesus
(Ook Matt 27:31-33,35,37-39,41-42,44; Mark 15:20-22,24,26-27,31-32; Joh 19:17-19,29)
26Die soldate het vir Jesus weggevat. Daar het 'n man van buite die stad gekom, sy naam was Simon, hy was van die stad Sirene. Die soldate het hom gevat en hulle het Jesus se kruis op hom gesit. Hulle het vir hom gesê hy moet agter Jesus loop en hy moet die kruis dra. 27Baie mense het agter Jesus geloop. Party van die vroue het hulleself op die bors geslaan en hulle het oor Jesus gehuil. 28Toe draai Jesus om en sê vir hulle: “Vroue van Jerusalem, julle moenie oor My huil nie. Julle moet oor julleself huil en oor julle kinders. 29Julle moet weet, daar sal 'n tyd kom wanneer die mense sal sê vroue wat nie kinders kan hê nie, en ook vroue wat nooit kinders gehad het nie, is gelukkige mense.”
30Jesus het ook gesê: “In daardie tyd sal die mense vir die berge en die heuwels sê: ‘ Julle moet op ons val! Julle moet ons toemaak!’ 31Ek sê dit, want Ek is onskuldig, en kyk wat gebeur met My. Julle kan self dink wat sal gebeur met Jerusalem, Jerusalem wat skuldig is.”
32Die soldate het ook twee ander mans weggevat om hulle saam met Jesus te kruisig. Hierdie mans was skelms. 33Hulle kom toe by 'n plek, die plek se naam was Kopbeen. Daar het die soldate vir Jesus gekruisig. Hulle het ook die twee skelms gekruisig, een regs langs Jesus en die ander een links langs Hom. 34Toe sê Jesus: “Vader, U moet die mense vergewe wat My kruisig, want hulle weet nie wat hulle doen nie.”
Die soldate wat vir Jesus gekruisig het, het Jesus se klere gevat. Hulle het lootjies getrek om te besluit watter klere elkeen moet kry. 35Al die mense het daar gestaan en kyk wat gebeur. Die Joodse leiers het vir Jesus gespot. Hulle het gesê: “Hy het ander mense gered, nou moet Hy Homself red as Hy die Christus van God is, as God Hom gekies het om Koning te wees.”
36Die soldate het ook vir Jesus gespot. Hulle wou hê Hy moet suur wyn drink. 37Hulle het gesê: “As jy die koning van die Jode is, dan moet jy jouself red.”
38Bo-aan die kruis het hulle op 'n plank geskryf hoekom hulle vir Jesus gekruisig het. Hulle het daarop geskryf: “Hierdie man is die koning van die Jode.”
39Een van die skelms wat langs Jesus aan 'n kruis gehang het, wou vir Jesus verneder en hy het gesê: “O, jy sê jy is die Christus. Dan moet jy jouself red en ook vir ons.”
40Maar die ander skelm het gesê hy moet stilbly. Hy het gesê: “Is jy nie bang vir God nie? Want hulle straf jou soos hulle vir Jesus straf. 41Dit is reg dat hulle ons straf, want ons het verkeerde dinge gedoen. Maar Jesus het niks verkeerd gedoen nie.”
42Toe sê hy vir Jesus: “Jesus, dink aan my wanneer God vir U Koning maak.”
43En Jesus het vir hom gesê: “Ek sê vir jou, en dit is seker: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.”
Jesus sterf
(Ook Matt 27:45,50-51,54-55; Mark 15:33,37-41; Joh 19:29-30,25)
44Dit was omtrent twaalfuur die middag. Dit het donker geword oor die hele land. Dit was donker tot drie-uur die middag. 45Toe dit donker word, het die gordyn in die tempel van bo tot onder geskeur. 46En Jesus het hard gesê: “ Vader, Ek gee myself vir U.”
Nadat Jesus dit gesê het, het Hy gesterf. 47Die kaptein van die Romeinse soldate het gesien wat gebeur. Hy het God geprys en gesê: “Hierdie man was regtig onskuldig.”
48Daar was baie mense wat kom kyk het wat gebeur. Hulle was jammer dat dit gebeur het en hulle het hulleself op die bors geslaan. Toe het hulle teruggegaan na hulle huise in die stad. 49Maar al die mense wat vir Jesus geken het, ook die vroue wat saam met Jesus van Galilea gekom het, het daar gebly staan, 'n bietjie verder weg. Almal, ook die vroue, het gesien hoe Jesus sterf en wat alles gebeur.
Josef van Arimatea sit Jesus se liggaam in 'n graf
(Ook Matt 27:57-61; Mark 15:42-43,46-47; Joh 19:38,40-42)
50Daar was 'n man, sy naam was Josef. Hy was 'n lid van die Joodse Raad en hy was 'n goeie man wat gehoorsaam was aan al die Wette van Moses. 51Josef het gedink die Raad het verkeerd besluit oor Jesus. Josef het gekom van die Joodse stad Arimatea. Hy het ook gewag dat die tyd sal kom wanneer God Koning sal wees oor almal. 52Josef het na Pilatus toe gegaan en hy het vir Pilatus gevra of hy die liggaam van Jesus kan kry. 53Toe het Josef die liggaam van die kruis afgehaal en hy het dit in lap toegedraai. Hy het die liggaam in 'n graf gesit wat hulle in 'n rots gekap het. Hulle het nog nie voorheen iemand in daardie graf begrawe nie. 54Dit het alles op die Vrydag gebeur, en daarna het die Sabbatdag begin.
55Die vroue wat saam met Jesus gekom het van Galilea, het die graf gesien en hulle het ook gesien hoe Josef die liggaam van Jesus in die graf sit. 56Daarna het die vroue teruggegaan na die stad. Hulle het lekkerruik-olie en salf gereedgemaak, hulle wou dit later aan Jesus se liggaam smeer. Maar op die Sabbatdag het hulle eers gerus, soos die Wette van Moses sê.

Tans Gekies:

Lukas 23: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid