LUKAS 10

10
Jesus stuur twee en sewentig ander dissipels uit
1Die Here het nou 72#10:1, 17 Sommige manuskripte 70. ander dissipels gekies en hulle in pare vooruit gestuur na al die dorpe en plekkies wat Hy wou besoek. 2Dít was sy instruksies aan hulle: “Die oes is só groot, maar die werkers is so min. Bid tot die Here wat in beheer is van die oes, en vra dat Hy meer werkers in die veld sal stuur. 3Gaan nou, en onthou dat Ek julle soos lammers tussen wolwe instuur. 4Moenie enige geld saamvat nie, of ’n reissak of selfs ’n ekstra paar sandale nie. En moenie enigiemand langs die pad groet nie.
5“Elke keer wanneer julle ’n huis binnegaan, spreek die vredesgroet daaroor uit. 6As dié wat daar bly, dit waardig is, sal die seën bly; as hulle dit nie is nie, sal die seën na julle toe terugkom. 7Wanneer julle in ’n dorp aankom, moenie van huis tot huis gaan nie. Bly op een plek, eet en drink wat hulle aan julle voorsit. Moenie huiwer om gasvryheid te aanvaar nie, want dié wat werk, verdien hulle loon.
8“As ’n dorp julle verwelkom, eet wat ook al aan julle voorgesit word. 9Genees die siekes wat daar woon, en sê vir hulle: ‘Die koningsheerskappy van God is nou naby julle.’ 10Maar as ’n dorp weier om julle te ontvang, gaan uit in die strate en sê: 11‘Ons vee die stof van julle dorp van ons voete af as ’n openbare aankondiging van julle oordeel. Maar dit moet julle weet: die koningsheerskappy van God is naby!’ 12Ek verseker julle, selfs die bose Sodom sal in die oordeelsdag beter daaraan toe wees as só ’n dorp.
13“Ellende wag vir julle, Gorasin en Betsaida! Want as die wonders wat Ek in julle gedoen het in die bose Tirus en Sidon gedoen was, sou hulle inwoners lankal in sakke geklee gewees het, met as op hulle koppe as teken van hulle berou. En hulle sou tot inkeer gekom het. 14Ja, Tirus en Sidon sal in die oordeelsdag beter daaraan toe wees as julle. 15En julle, mense van Kapernaum,
sal julle tot die hemel verhoog
word?
Nee, julle sal afdaal
tot in die doderyk#10:15 Grondteks na Hades..”
16Toe sê Hy vir die dissipels: “Enigeen wat julle boodskap ontvang, ontvang My ook. En enigeen wat julle verwerp, verwerp My. En enigeen wat My verwerp, verwerp God wat My gestuur het.”
17Toe die 72#10:1, 17 Sommige manuskripte 70. dissipels terugkom, het hulle met vreugde gesê: “Here, selfs die bose geeste gehoorsaam ons wanneer ons u Naam gebruik!”
18“Ja,” het Hy hulle vertel. “Ek het Satan uit die hemel sien val soos ’n weerligstraal! 19En Ek het julle gesag gegee oor alle mag van die vyand, en julle kan oor slange en skerpioene loop en hulle vermorsel. Niks sal julle beseer nie. 20Maar moenie bly wees net omdat bose geeste julle gehoorsaam nie; wees bly omdat julle name opgeteken is as burgers van die hemel.”
Jesus se dissipels is hoogs bevoorregte mense
21Toe is Jesus vervul met die blydskap van die Heilige Gees en het gesê: “O Vader, Here van hemel en aarde, dankie dat U die waarheid verberg het vir dié wat in hulle eie oë so wys en slim is, en dit aan die kindertjies bekendgemaak het. Ja, Vader, dit het U behaag om dit só te doen.
22“My Vader het My gesag oor alles gegee. Niemand ken werklik die Seun nie, behalwe die Vader, en niemand ken werklik die Vader nie, behalwe die Seun en hulle aan wie die Seun Hom wil openbaar.”
23Toe hulle alleen was, het Hy na die dissipels gedraai en gesê: “Hoe bevoorreg is julle om te sien wat julle sien! 24Ek sê vir julle, baie profete en konings het begeer om te sien en te hoor wat julle sien en hoor, maar hulle kon nie.”
’n Samaritaan word die voorbeeld van naasteliefde
25Eendag het ’n wetskenner na vore gekom om Jesus te toets deur Hom hierdie vraag te vra: “Leermeester, wat moet ek doen om die ewige lewe te ontvang?”
26Jesus het geantwoord: “Wat sê die wet van Moses? Wat lees jy daarin?”
27Die man het geantwoord: “‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart, jou hele siel, al jou krag en jou hele verstand.’#10:27a Deut 6:5. En: ‘Jy moet jou medemens liefhê soos jouself.’#10:27b Lev 19:18.
28“Reg!” het Jesus vir hom gesê. “Doen dit en jy sal lewe!”
29Maar die man wou homself regverdig en vra toe vir Jesus: “En wie is my medemens?”
30En Jesus antwoord: “’n Joodse man was op reis van Jerusalem na Jerigo toe hy deur rowers aangeval is. Hulle het sy klere uitgetrek, hom aangerand en halfdood langs die pad laat lê. En toe is hulle vort.
31“Toevallig kom daar ’n Joodse priester verby, maar toe hy die man daar sien lê, het hy aan die ander kant by hom verbygegaan.
32“So het ook ’n Leviet#10:32 Die Leviete was tempelassistente. daar aangekom, die man een kyk gegee en ook aan die ander kant verbygegaan.
33“Toe het ’n Samaritaan verbygekom, en toe hy die man sien, het hy hom innig jammer gekry. 34Die Samaritaan kniel toe langs hom, behandel sy wonde met medisyne, en verbind dit. Toe het hy die man op sy eie donkie gehelp en hom na ’n herberg geneem en daar verder versorg. 35Die volgende dag gee hy vir die herbergier twee silwermuntstukke#10:35 Grondteks twee denarii, die ekwivalent van twee dae se arbeidersalaris. en vra hom om die man te versorg. ‘As die rekening meer as dit is,’ het hy gesê, ‘sal ek die verskil betaal wanneer ek weer hierlangs kom.’
36“Nou, watter van hierdie drie sou jy sê, was ’n naaste vir die man wat deur die rowers aangeval is?” het Jesus gevra.
37Die man het geantwoord: “Die een wat aan hom medelye bewys het.” Toe het Jesus gesê: “Gaan nou, en doen jy dieselfde.”
Maria se prioriteite reg
38Toe Jesus en sy dissipels hulle reis na Jerusalem voortsit, het hulle in ’n dorpie gekom waar ’n vrou, Marta, hulle in haar huis verwelkom het. 39Haar suster, Maria, het aan die Here se voete gesit en luister na wat Hy hulle leer. 40Maar Marta was bekommerd oor die groot ete wat sy besig was om voor te berei. Sy kom toe na Jesus en sê: “Here, lyk dit darem nie vir U onregverdig dat my suster net hier sit terwyl ek al die werk doen nie? Sê sy moet my kom help.”
41Maar die Here het geantwoord: “Marta, Marta, jy kwel jou tog oor so baie dinge! 42Daar is regtig net een ding wat nodig is om oor besorg te wees. Maria het dit ontdek – en Ek gaan dit nie van haar af wegneem nie.”

Tans Gekies:

LUKAS 10: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid