JOHANNES 20:19-31

JOHANNES 20:19-31 Bybel vir almal (ABA)

Daardie selfde Sondagaand was die dissipels bymekaar. Al die deure was gesluit, want hulle was bang vir die Jode. Jesus het gekom en Hy het tussen hulle gaan staan. Hy het vir hulle gesê: “Ek gee vir julle my vrede!” Nadat Jesus dit gesê het, het Hy vir hulle gewys hoe lyk sy hande en hoe lyk dit waar die soldaat Hom met die spies gesteek het. Die dissipels was baie bly toe hulle die Here sien. Jesus het weer vir hulle gesê: “Ek gee vir julle my vrede. Die Vader het My gestuur. Nou stuur Ek julle ook.” Nadat Jesus dit gesê het, het Hy op hulle geblaas en gesê: “Ek gee vir julle die Heilige Gees. As julle ander mense se sondes vergewe, dan vergewe God ook hulle sondes. As julle nie hulle sondes vergewe nie, dan vergewe God ook nie hulle sondes nie.” Tomas was een van die twaalf dissipels. Die mense het hom “Tweeling” genoem. Hy was nie by die ander dissipels toe Jesus aan hulle verskyn het nie. Hulle het vir Tomas gesê: “Ons het die Here gesien.” Tomas het vir hulle gesê: “Nee, ek glo dit nie. Ek sal dit net glo as ek die plekke in sy hande sien waar die spykers was en as ek my vinger daar kan indruk. Ek sal dit net glo as ek my hand kan indruk in die gat in Jesus se sy.” 'n Week later was die dissipels weer bymekaar. Tomas was ook by hulle. Die deure was gesluit, maar Jesus het gekom en Hy het tussen hulle gaan staan. Hy het vir hulle gesê: “Ek gee vir julle my vrede!” Toe sê Hy vir Tomas: “Kom, druk jou vinger hier in my hande en kyk, en kom druk jou hand in die gat in my sy. Jy moenie ongelowig wees nie, jy moet glo!” Tomas het vir Jesus gesê: “U is my Here en my God!” Jesus sê toe vir hom: “Jy het My nou gesien, daarom glo jy. Maar die mense wat My nie sien nie en wat in My glo, hulle sal regtig gelukkig wees.” Jesus het nog baie ander wondertekens gedoen wat die dissipels gesien het, maar julle lees nie van daardie wondertekens in hierdie boek nie. Maar die wondertekens waarvan julle in hierdie boek lees, is geskryf sodat julle kan glo Jesus is die Christus, die Seun van God. Dit is geskryf sodat julle die ewige lewe kan kry omdat julle aan Hom behoort.

JOHANNES 20:19-31 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN toe dit aand was op daardie eerste dag van die week en die deure waar die dissipels vergader het uit vrees vir die Jode, gesluit was, het Jesus gekom en in hul midde gestaan en aan hulle gesê: Vrede vir julle! En nadat Hy dit gesê het, wys Hy hulle sy hande en sy sy. En die dissipels was bly toe hulle die Here sien. Jesus sê toe weer vir hulle: Vrede vir julle! Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook. En nadat Hy dit gesê het, blaas Hy op hulle en sê vir hulle: Ontvang die Heilige Gees. As julle die mense hulle sondes vergewe, dan word dit hulle vergewe; as julle die mense hulle sondes hou, dan is dit gehou. En Thomas wat genoem word Dídimus, een van die twaalf, was nie saam met hulle toe Jesus gekom het nie. Die ander dissipels sê toe vir hom: Ons het die Here gesien! Maar hy het vir hulle gesê: As ek nie in sy hande die merk van die spykers sien en my vinger steek in die merk van die spykers en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie. En agt dae daarna was sy dissipels weer binne, en Thomas saam met hulle. En Jesus het gekom terwyl die deure gesluit was, en het in hul midde gestaan en gesê: Vrede vir julle! Daarna sê Hy vir Thomas: Bring jou vinger hier, en kyk na my hande; en bring jou hand en steek dit in my sy; en moenie ongelowig wees nie, maar gelowig. En Thomas antwoord en sê vir Hom: My Here en my God! Jesus sê vir hom: Omdat jy My gesien het, Thomas, het jy geglo; salig is die wat nie gesien het nie en tog geglo het. Nog baie ander tekens het Jesus voor sy dissipels gedoen wat in hierdie boek nie beskrywe is nie; maar hierdie is beskrywe, dat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God; en dat julle deur te glo die lewe kan hê in sy Naam.

JOHANNES 20:19-31 Afrikaans 1983 (AFR83)

Daardie Sondagaand was die dissipels bymekaar. Alhoewel die deure gesluit was omdat hulle bang was vir die Jode, het Jesus gekom en tussen hulle gaan staan en vir hulle gesê: “Vrede vir julle!” Nadat Hy dit gesê het, wys Hy sy hande en sy sy vir hulle. Die dissipels was baie bly toe hulle die Here sien. “Vrede vir julle!” sê Hy weer vir hulle. “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.” Nadat Hy dit gesê het, blaas Hy oor hulle en sê: “Ontvang die Heilige Gees! As julle vir mense hulle sondes vergewe, word dit hulle deur God vergewe; as julle dit nie vergewe nie, word dit nie deur God vergewe nie.” Tomas, wat ook Didimus genoem is, een van die twaalf, was nie by die dissipels toe Jesus gekom het nie. Die ander dissipels sê toe vir hom: “Ons het die Here gesien!” Maar hy sê vir hulle: “As ek nie die merke van die spykers in sy hande sien en my vinger in die merke van die spykers steek en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie.” Ag dae later was Jesus se dissipels weer bymekaar, en Tomas was by hulle. Hoewel die deure gesluit was, het Jesus gekom en tussen hulle gaan staan en gesê: “Vrede vir julle!” Daarna sê Hy vir Tomas: “Bring jou vinger hier en kyk na my hande; en bring jou hand en steek hom in my sy; en moenie langer ongelowig wees nie, maar wees gelowig.” En Tomas sê vir Hom: “My Here en my God!” Toe sê Jesus vir hom: “Glo jy nou omdat jy My sien? Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo.” Jesus het nog baie ander wondertekens, wat nie in hierdie boek beskrywe is nie, voor sy dissipels gedoen. Maar hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê.

JOHANNES 20:19-31 Die Boodskap (DB)

Laat daardie Sondagaand was Jesus se volgelinge nog bymekaar. Hulle was egter bang vir die Joodse leiers en het al die deure van die huis gesluit. Al was die deure gesluit, het Jesus skielik daar tussen hulle gestaan. “Vrede vir julle,” sê Hy. Met dié woorde wys Hy vir hulle sy hande en sy sy. Die dissipels was buite hulleself van blydskap om die Here te sien. Jesus praat toe verder: “Vrede vir julle. Julle weet die Vader het My met ’n boodskap na die wêreld toe gestuur. Net so stuur Ek julle nou.” Toe blaas Jesus oor sy volgelinge met die woorde: “Ontvang die Heilige Gees! Wanneer julle mense help om hulle verhouding met God reg te maak, sal hulle verhouding met God reg wees. God sal hulle sondes nie teen hulle hou nie. Maar as mense nie luister wanneer julle met hulle oor hulle sondes praat nie, kan julle maar hulle sondes teen hulle hou. God sal dit ook doen.” Tomas was een van Jesus se twaalf getrouste volgelinge. (Party het hom “Tweeling” genoem.) Hy was nie by die ander toe Jesus na hulle toe gekom het nie. Die ander sê toe vir hom: “Ons het die Here lewendig gesien!” “Nee wat, ek glo dit nie,” was Tomas se reaksie. “As ek nie self die seerplekke in sy hande kan sien waar hulle die spykers ingeslaan het en met my vinger daaroor kan streel en my hand op die wond in sy sy kan sit nie, glo ek eenvoudig nie wat julle vir my sê nie.” Omtrent ’n week later was Jesus se getrouste vriende weer almal bymekaar. Hierdie keer was Tomas ook daar. Hulle het weer seker gemaak dat al die deure gesluit was. Skielik was Jesus weer daar by hulle. Net soos die vorige keer groet Hy hulle: “Vrede vir julle.” Hy sê toe vir Tomas: “Bring jou vinger. Kyk na my hande. Kom, sit jou hand hier op die wond in my sy. Moenie twyfel dat dit regtig Ek is nie. Aanvaar dit!” Oorweldig sê Tomas: “My Here en my God!” Jesus sê vir hom: “Is jy oortuig omdat jy My gesien het? Wel, die mense wat My nie soos jy sal sien nie, maar My tog met oorgawe sal aanvaar, gaan van geluk oorloop.” Nie alles wat Jesus gedoen het, is hier neergeskryf nie. Hy het nog baie ander en verskillende wonderlike dinge gedoen om te wys wie Hy regtig is. Sy volgelinge het dit alles gesien. Dit wat in hierdie boek geskryf is, is met ’n spesifieke doel gedoen. Dit is geskryf sodat julle geen oomblik hoef te twyfel dat Jesus die Redder, ja, die Seun van God is nie. Julle kan dit maar volledig aanvaar. En hierdie woorde wil julle ook oortuig dat julle vir ewig gaan leef omdat Jesus dit vir julle moontlik gaan maak.

JOHANNES 20:19-31 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Gedurende die vroeë aand, op daardie Sondag, terwyl die deure uit vrees vir die Jode gesluit was, het Jesus se dissipels bymekaargekom. Jesus het tussen hulle gaan staan en vir hulle gesê: “Vrede vir julle!” Nadat Hy dit gesê het, wys Hy sy hande en sy sy aan hulle. Die dissipels was baie opgewonde om die Here te sien. “Vrede vir julle!” sê Jesus weer ’n keer. “Net soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.” Nadat Jesus dit gesê het, het Hy oor hulle geblaas en vir hulle gesê: “Ontvang die Heilige Gees! Wie se sondes julle ook al vergewe, God vergewe hulle dit; wie s’n julle ook al handhaaf, God handhaaf dit.” Tomas, ook genoem Didimus, een van die twaalf, was nie saam met die ander dissipels toe Jesus daar aangekom het nie. Die ander dissipels sê toe vir hom: “Ons het die Here gesien!” Maar hy het vir hulle gesê: “As ek nie die merk van die spykers in sy hande sien en my vinger in die spykermerke steek en my hand in sy sy steek nie, sal ek nóóit glo nie.” Agt dae later was Jesus se dissipels weer saam, en Tomas was by hulle. Die deure was op slot en grendel, maar Jesus het tussen hulle kom staan en aan hulle gesê: “Vrede vir julle!” Daarna sê Hy vir Tomas: “Bring jou vinger hier en kyk na my hande, en bring jou hand en steek dit in my sy; en hou op ongelowig wees, maar word gelowig!” Tomas het vir Jesus gesê: “My Here en my God!” Jesus se reaksie daarop was: “Glo jy nou nadat jy klaar gesien het? Geseënd is hulle wat nie sien nie, en tog geglo het.” Jesus het nog baie ander wondertekens voor sy dissipels gedoen. Daardie tekens is nie opgeskryf in hierdie boek nie. Hierdie tekens is wel opgeskryf sodat julle tot die geloof kan kom dat Jesus die Messias is, die Seun van God, en sodat julle deur aan te hou glo, in sy Naam die lewe kan hê.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid