Johannes 20:19-31

Johannes 20:19-31 DB

Laat daardie Sondagaand was Jesus se volgelinge nog bymekaar. Hulle was egter bang vir die Joodse leiers en het al die deure van die huis gesluit. Al was die deure gesluit, het Jesus skielik daar tussen hulle gestaan. “Vrede vir julle,” sê Hy. Met dié woorde wys Hy vir hulle sy hande en sy sy. Die dissipels was buite hulleself van blydskap om die Here te sien. Jesus praat toe verder: “Vrede vir julle. Julle weet die Vader het My met ’n boodskap na die wêreld toe gestuur. Net so stuur Ek julle nou.” Toe blaas Jesus oor sy volgelinge met die woorde: “Ontvang die Heilige Gees! Wanneer julle mense help om hulle verhouding met God reg te maak, sal hulle verhouding met God reg wees. God sal hulle sondes nie teen hulle hou nie. Maar as mense nie luister wanneer julle met hulle oor hulle sondes praat nie, kan julle maar hulle sondes teen hulle hou. God sal dit ook doen.” Tomas was een van Jesus se twaalf getrouste volgelinge. (Party het hom “Tweeling” genoem.) Hy was nie by die ander toe Jesus na hulle toe gekom het nie. Die ander sê toe vir hom: “Ons het die Here lewendig gesien!” “Nee wat, ek glo dit nie,” was Tomas se reaksie. “As ek nie self die seerplekke in sy hande kan sien waar hulle die spykers ingeslaan het en met my vinger daaroor kan streel en my hand op die wond in sy sy kan sit nie, glo ek eenvoudig nie wat julle vir my sê nie.” Omtrent ’n week later was Jesus se getrouste vriende weer almal bymekaar. Hierdie keer was Tomas ook daar. Hulle het weer seker gemaak dat al die deure gesluit was. Skielik was Jesus weer daar by hulle. Net soos die vorige keer groet Hy hulle: “Vrede vir julle.” Hy sê toe vir Tomas: “Bring jou vinger. Kyk na my hande. Kom, sit jou hand hier op die wond in my sy. Moenie twyfel dat dit regtig Ek is nie. Aanvaar dit!” Oorweldig sê Tomas: “My Here en my God!” Jesus sê vir hom: “Is jy oortuig omdat jy My gesien het? Wel, die mense wat My nie soos jy sal sien nie, maar My tog met oorgawe sal aanvaar, gaan van geluk oorloop.” Nie alles wat Jesus gedoen het, is hier neergeskryf nie. Hy het nog baie ander en verskillende wonderlike dinge gedoen om te wys wie Hy regtig is. Sy volgelinge het dit alles gesien. Dit wat in hierdie boek geskryf is, is met ’n spesifieke doel gedoen. Dit is geskryf sodat julle geen oomblik hoef te twyfel dat Jesus die Redder, ja, die Seun van God is nie. Julle kan dit maar volledig aanvaar. En hierdie woorde wil julle ook oortuig dat julle vir ewig gaan leef omdat Jesus dit vir julle moontlik gaan maak.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid