JESAJA 1:1-20

JESAJA 1:1-20 Bybel vir almal (ABA)

Die Here het vir Jesaja gewys wat sal gebeur met Juda en Jerusalem. Dit was in die tyd toe vier konings ná mekaar koning van Juda was. Die konings was Ussia, Jotam, Agas en Hiskia. Jesaja was die seun van Amos. Die Here het gesê: “Die hemel en die aarde moet luister en hoor wat Ek sê: Ek het kinders grootgemaak en Ek het vir hulle geleer hoe om te lewe, maar hulle wou nie luister na My nie. 'n Bees weet aan wie hy behoort, en 'n donkie weet waar sy eienaar vir hom kos gee, maar die Israeliete wil nie naby My wees nie. My volk wil nie aan My behoort nie.” Israeliete, dit sal sleg gaan met julle. Julle is almal sondaars. Julle het baie verkeerd gedoen, julle doen net slegte dinge. Julle verwoes alles, julle wil nie naby die Here bly nie. Die Heilige God van Israel was nie belangrik vir julle nie, julle het weggegaan van Hom. Wil julle hê Ek moet julle nog meer straf? Julle hou aan om ongehoorsaam te wees aan My. Dit is soos wanneer 'n mens iemand baie geslaan het: sy hele kop is stukkend en sy liggaam is baie swak. Van sy kop tot by sy tone is sy hele lyf vol seerplekke, vol kneusplekke waar die persoon hom geslaan het. Niemand het die seerplekke skoongemaak en toegedraai en met olyf-olie sag gemaak nie. So het die vyande julle land verwoes en julle stede afgebrand. Mense van ander lande eet julle kos en hulle verwoes alles, en julle moet staan en kyk. Jerusalem het alleen oorgebly, en die vyande is rondom die stad. Die stad is soos 'n afdak in 'n wingerd, soos 'n huisie van takke in 'n komkommer-tuin. Julle sê: Die Here wat oor alles regeer, het ons nie almal laat sterf nie, Hy het 'n paar van ons laat oorbly. As Hy dit nie gedoen het nie, dan het die vyande ons verwoes, en dan was ons soos Sodom en Gomorra. Maar júlle is soos Sodom en Gomorra, julle, die leiers en die volk. Julle moet luister na wat die Here nou vir julle sê, julle moet hoor wat Hy vir julle wil leer. Die Here sê: “Hoekom bring julle vir My so baie offers? Ek is moeg vir die ramme en die vet beeste wat julle offer, Ek hou nie van bulle en lammers en bokke se bloed nie. Ek het nie gesê julle moet na my tempel kom en die plek stukkend trap wanneer julle offers bring nie. Die presente wat julle vir My bring, beteken niks, en die wierook ruik nie lekker vir My nie. Julle moet ophou om dit te offer. Julle vier feeste op die Nuwemaan-dag en die Sabbatdag, julle kom by die tempel bymekaar. Julle hou gewyde feesdae maar dan doen julle slegte dinge. Ek hou nie daarvan nie. Ek haat julle Nuwemaan-feeste en julle ander feeste. Hulle is vir My soos swaar goed wat Ek moet dra, en Ek is moeg om dit te dra. Ek sal nie luister wanneer julle bid en julle hande na My toe uitsteek nie. Ook wanneer julle baie bid, sal Ek nie luister nie, want julle is moordenaars. Julle moet julle was en julle skoonmaak, dit is wat julle moet doen. Julle moenie aanhou om slegte dinge te doen nie, julle moet ophou om verkeerd te doen. Julle moet leer om goed te doen, julle moet reg doen aan ander mense. Julle moet die mense help wat swaarkry, julle moet seker maak dat mense reg doen aan weeskinders en weduwees.” Die Here sê: “Kom ons praat met mekaar. Iets wat so rooi soos bloed is, kan nie wit word soos sneeu of wol nie. Mense wat groot sondaars is soos julle, kan nie rein word nie. Maar Ék sál julle rein maak. As julle luister na My, dan sal dit goed gaan met julle hier in die land. Maar as julle nie wil luister nie, dan sal die vyande julle doodmaak.” Dit is wat die Here gesê het.

JESAJA 1:1-20 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

DIE gesig van Jesaja, die seun van Amos, wat hy gesien het met betrekking tot Juda en Jerusalem, in die dae van Ussía, Jotam, Agas en Hiskía, die konings van Juda. Hoor, o hemele, en luister, o aarde, want die HERE spreek: Ek het kinders grootgemaak en verhoog, maar húlle het teen My oortree. 'n Os ken sy besitter en 'n esel die krip van sy eienaar, maar Israel het geen kennis nie, my volk verstaan nie. Wee die sondige nasie, die volk swaar van skuld, die geslag van kwaaddoeners, die kinders wat verderflik handel! Hulle het die HERE verlaat, die Heilige van Israel verag, hulle het agtertoe weggedraai. Waar wil julle nog geslaan word, dat julle voortgaan met af te wyk? Die hele hoof is siek, en die hele hart is krank. Van die voetsool af tot die hoof toe is daar geen heel plek aan nie, maar wonde en kwesplekke en vars houe! Hulle is nie uitgedruk of verbind of met olie versag nie. Julle land is 'n wildernis, julle stede is met vuur verbrand, vreemdes verteer julle landerye in jul teenwoordigheid, en dit is 'n wildernis soos by 'n omkering deur vreemdes. En die dogter van Sion het oorgebly soos 'n skermpie in 'n wingerd, soos 'n slaapplekkie in 'n komkommertuin, soos 'n beleërde stad. As die HERE van die leërskare vir ons nie 'n klein oorblyfsel oorgelaat het nie — soos Sodom sou ons geword het, ons sou net soos Gomorra gewees het. Hoor die woord van die HERE, owerstes van Sodom! Luister na die wet van onse God, volk van Gomorra! Wat het Ek aan die menigte van julle slagoffers? sê die HERE. Ek is sat van die brandoffers van ramme en die vet van vetgemaakte kalwers; en Ek het geen behae in die bloed van stiere of lammers of bokke nie. As julle kom om voor my aangesig te verskyn, wie het dit van julle hand geëis — om my voorhowe te vertrap? Bring nie meer skynheilige offergawes nie; gruwelike reukwerk is dit vir My. Nuwemane en sabbatte, die uitroep van samekomste — Ek verdra geen ongeregtigheid en feestyd nie! Julle nuwemane en julle feestye haat my siel; hulle is My 'n oorlas. Ek is moeg om dit te dra. En as julle jul hande uitbrei, bedek Ek my oë vir julle; ook as julle die gebed vermenigvuldig, luister Ek nie: julle hande is vol bloed. Was julle, reinig julle, neem die boosheid van julle handelinge voor my oë weg, hou op om kwaad te doen, leer om goed te doen, soek die reg, beteuel die verdrukker, doen reg aan die wees, verdedig die saak van die weduwee. Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die HERE: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol. As julle gewillig is en luister, sal julle die goeie van die land eet. Maar as julle weier en wederstrewig is, sal julle deur die swaard geëet word; want die mond van die HERE het dit gespreek.

JESAJA 1:1-20 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die openbaring wat Jesaja seun van Amos ontvang het aangaande Juda en Jerusalem. Dit was in die regeringstyd van Ussia, Jotam, Agas en Hiskia, konings van Juda. Luister, hemele, gee aandag, aarde, want die Here het gesê: Ek het kinders grootgemaak en opgevoed, maar hulle het teen My in opstand gekom. 'n Bees ken sy eienaar en 'n donkie die krip van sy baas, maar Israel ken My nie, my volk het geen begrip van wat Ek doen nie. Ellende wag vir julle, sondige nasie, volk met skuld belaai, geslag wat verkeerd handel, julle wat net afbreek, wat My, die Here, verlaat het, My, die Heilige van Israel, verag en vir My die rug gedraai het. Daar is nie meer plek waar nog aan julle geslaan kan word nie, en tog hou julle aan om van My af weg te draai. Die hele kop is vol seerplekke en die hele gestel is verswak. Van kop tot tone is daar nie een plek heel nie: dit is die ene kneusplekke, hale en rou wonde! Hulle is nie skoongemaak of verbind of met salf behandel nie. Julle land is verwoes, julle stede is verbrand, voor julle oë verteer vreemdes julle landerye. Hulle het dit 'n verlate wêreld gemaak. Soos 'n skerm in 'n wingerd het Sion alleen oorgebly, soos die hut van 'n wagter in 'n komkommertuin. Sion is 'n beleërde stad. As die Here die Almagtige nie 'n klompie van ons laat oorbly het nie, sou ons soos Sodom geword het, ons sou net soos Gomorra gewees het. Luister na die woord van die Here, julle Sodomsleiers! Gee ag op wat ons God julle leer, julle Gomorrasvolk! Wat het Ek aan julle baie offers? vra die Here. Ek is sat van die brandoffers van ramme en die vet van voerbeeste; die bloed van bulle en lammers en bokke staan My nie aan nie. As julle kom om voor My te verskyn, wie het julle gevra om my voorhowe te kom vertrap? Moenie langer julle nuttelose offergawes bring nie: Ek het 'n afsku van julle wierookoffers. Nuwemaansfeeste, sabbatsvierings, die uitroep van feesdae: Ek verdra nie feesviering met onreg saam nie. Julle nuwemaansfeeste en feesgetye haat Ek. Hulle is vir My 'n las, Ek is moeg daarvoor. As julle julle hande in gebed uitstrek, sal Ek my oë vir julle toemaak. Selfs al bid julle hoe baie, sal Ek nie luister nie, want julle hande is met bloed bevlek. Was julle, reinig julle. Moenie voor My verskyn as julle verkeerd doen nie. Hou op met kwaad doen. Leer om weer goed te doen, sorg dat daar reg geskied, gaan die verdrukker teë. Laat reg geskied aan die weeskinders, behartig die regsake van die weduwees. Kom tog, laat ons die saak met mekaar uitmaak, sê die Here: Al was julle skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu. Al was julle purperrooi, julle sal wit word soos wol. As julle gehoorsaam wil wees, sal julle die goeie van die land eet, maar as julle weier en opstandig bly, sal die swaard júlle eet, want dit is die Here wat dit gesê het.

JESAJA 1:1-20 Die Boodskap (DB)

Hierdie is ’n aantal boodskappe in verband met Juda en Jerusalem wat God vir Jesaja die seun van Amos in die vorm van visioene gegee het. Hy het hierdie visioene gesien in die tyd toe Ussia, Jotam, Agas en Hiskia die konings van Juda was. Hemel en aarde, julle moet getuies wees van wat die Here gesê het: Die kinders wat Ek grootgemaak en versorg het, het nou teen My in opstand gekom. ’n Dier soos ’n bees ken sy baas se stem en selfs ’n donkie weet goed waarheen om te gaan om kos te kry, maar nie my volk Israel nie. Dit maak nie saak wat Ek doen nie, hulle verstaan niks. Daar wag baie swaarkry op julle, julle sondige volk, want julle almal is skuldig. Julle is ’n klomp korrupte, nikswerd kwaaddoeners! Julle het My, die Here, die heilige God van Israel, verwerp en die neus vir My opgetrek. Dit maak nie saak wat Ek probeer doen het nie, julle het die rug vir My gedraai en julle eie rigting ingeslaan. Wat gaan aan met julle, hoekom hou julle aan om in opstand te kom? Hou julle daarvan om gestraf te word? Kyk hoe lyk julle al, julle is al siek na liggaam en gees. Van kop tot tone is daar nie meer ’n gesonde plek aan julle nie. Julle is die ene kneusplekke, slaanmerke en rou wonde. En hulle is nie skoongemaak of verbind of selfs met salf behandel nie. Kyk hoe lyk julle land, dis verwoes. En julle stede is afgebrand. Julle kan maar net sit en kyk hoe vreemde mense julle lande kaalstroop en verwoes sonder dat julle iets daaromtrent kan doen. Dit is nog net Jerusalem wat oor is. Nie dat dit baie beteken nie, want die stad is so weerloos soos ’n oppasser se hutjie in ’n wingerd of ’n skerm in ’n groentetuin. Jy kan maar sê die stad is klaar omsingel, dit moet nog net ingeneem word. As die Here die Almagtige nie ’n klompie van ons laat oorbly het nie, sou ons net soos Sodom en Gomorra totaal verwoes gewees het. Julle is eintlik net so skuldig soos daardie twee dorpe. So, luister nou na die Here, julle leiers van Sodom. Let op, mense van Gomorra, want God wil julle iets leer. Wat het Ek met hierdie klomp offers van julle te doen? wil die Here weet. Watter betekenis het skape wat geoffer word of die vet van voerbeeste? Ek steur My doodeenvoudig nie meer daaraan nie. Selfs die bloed van beeste, skape en bokke is nie meer vir My aanvaarbaar nie. Wie het julle gevra om die voorportale van my tempel so te kom vertrap met hierdie waardelose offers? Julle trap net die plek vuil met al hierdie diere. Hou op om hier aan te kom met julle offers. Ek sien reg deur julle skynheiligheid! Julle wierookoffers stink vir My! Ek kan dit nie vat dat julle aanhou sonde doen en dan nog steeds ewe vroom hier na die tempel toe kom vir die nuwemaansfeeste en sabbatvierings nie. Ek haat julle rusdae en feeste. Ek is moeg daarvoor, Ek kan dit nie meer verdra nie. Al steek julle julle hande uit na My toe as julle bid, Ek kyk nie eens na julle nie. Julle kan soveel bid as wat julle wil, Ek sal nie na julle luister nie, want julle is almal ’n klomp moordenaars. Gaan kry eers julle lewens reg. Hou op om al hierdie verkeerde goed te doen. Los die slegte goed waarmee julle besig is! Leer eerder hoe om weer goed te doen en sorg dat mense billik en onpartydig behandel word. Help dié wat misbruik word en beskerm die regte van dié wat nie vir hulleself kan sorg en nie al die geleenthede in die lewe het nie. Kom ons handel dié saak nou af, sê die Here. Dit maak nie saak hoe diep die vlekke van julle sonde is nie, Ek kan dit skoonmaak. Al was julle bloedrooi gevlek van die sonde, kan Ek dit wegwas en julle so wit laat word soos sneeu wat nou net geval het. Selfs al is die vlekke van julle sonde purperrooi, sal Ek julle skoonmaak sodat julle so wit soos splinternuwe wol sal lyk. As julle na My wil luister en My toelaat om julle te help, sal julle ’n goeie bestaan in hierdie land kan maak, maar as julle weier en aanhou rebelleer, staar julle oorlog in die gesig. Dit is wat die Here gesê het.

JESAJA 1:1-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Hier is die visioene wat Jesaja seun van Amos oor Juda en Jerusalem gesien het. Dit was in die tyd dat Ussia, Jotam, Agas en Hiskia konings van Juda was. Luister, hemele! Luister, aarde! Dit is wat die HERE sê: “Die kinders wat Ek grootgemaak en versorg het, het teen My gerebelleer. Selfs die bees ken sy eienaar en die donkie die krip van sy baas, maar my volk Israel weet nie, my volk verstaan niks.” Voorwaar, hulle is ’n sondige klomp, met skuld belaai. Hulle is mense wat totaal en al korrup is. Hulle het van die HERE af weggedraai. Hulle het Israel se Heilige Een geminag en hulle rug op Hom gedraai. Hoekom wil julle nog verder gestraf word? Hoekom hou julle aan om in opstand te kom? Julle koppe is stukkend geslaan en julle harte is siek. Julle is stukkend, van kop tot tone – vol kneusplekke, hale en ontsteekte wonde! Julle beserings is nie behandel of verbind nie. Daaraan is nie salf gesmeer nie. Julle land lê in puin en julle stede is afgebrand. Terwyl julle staan en kyk, plunder vreemdelinge julle velde en vernietig alles wat voorkom. Hulle los alles verlate agter. Sion in Jerusalem staan verlate soos die opsigter se skerm in ’n wingerd of landery nadat die oes af is. Die stad is hulpeloos soos ’n stad onder beleg. As die HERE, die Almagtige, nie ’n handjievol van ons gespaar het nie, sou ons uitgewis gewees het net soos Sodom en Gomorra. Luister na die woord van die HERE, julle regeerders van Sodom! Luister na die bepalings van ons God, julle mense van Gomorra! “Ek is siek van julle baie offers,” sê die HERE. “Moenie nog meer brandoffers vir My bring nie! Die vet van julle ramme of ander diere wil Ek nie hê nie. Ek kry geen genot in die bloed van julle bulle én ramme én bokke nie. Wie het julle beveel om voor My te verskyn, om my voorhowe te vertrap? Hou op om huigelagtige offers te bring. Julle wierook is vir My afstootlik. Julle feesvierings op Nuwemaanfees en Sabbatte, julle spesiale vasdae, ook julle vroomste byeenkomste kan Ek nie verdra nie, want dis vol boosheid! “Ek haat julle Nuwemaanfeeste en ander feeste. Dit het ’n las vir My geword en Ek kan dit nie meer verdra nie! Ek sal nie meer kyk wanneer julle julle hande in gebed na My toe uitsteek nie. Selfs al bid julle hoe baie, sal Ek nie luister nie. Want julle hande is vol van die bloed van onskuldige slagoffers. Was julleself en word skoon! Moenie dat Ek verder sien hoe boos julle optree nie. Sien af van julle weë. Leer eers om goed te doen. Sorg dat mense regverdig behandel word. Help mense wat verdruk word. Verdedig die weeskind. Pleit vir die regte van die weduwee. “Kom nou, laat ons die saak uitpraat,” sê die HERE. “Maak nie saak hoe diep die vlek van julle sonde is nie, Ek kan dit verwyder. Ek kan julle so skoon maak soos sneeu wat pas geval het. Selfs al is die vlek so rooi soos purper, Ek kan julle wit maak soos wol. As julle gewillig is en My maar net gehoorsaam, sal julle die goeie gawes van die aarde eet. Maar as julle weier en rebelleer, sal julle deur julle vyande vernietig word. Ek, die HERE, sê so!”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid