JESAJA 1:1-20

JESAJA 1:1-20 NLV

Hier is die visioene wat Jesaja seun van Amos oor Juda en Jerusalem gesien het. Dit was in die tyd dat Ussia, Jotam, Agas en Hiskia konings van Juda was. Luister, hemele! Luister, aarde! Dit is wat die HERE sê: “Die kinders wat Ek grootgemaak en versorg het, het teen My gerebelleer. Selfs die bees ken sy eienaar en die donkie die krip van sy baas, maar my volk Israel weet nie, my volk verstaan niks.” Voorwaar, hulle is ’n sondige klomp, met skuld belaai. Hulle is mense wat totaal en al korrup is. Hulle het van die HERE af weggedraai. Hulle het Israel se Heilige Een geminag en hulle rug op Hom gedraai. Hoekom wil julle nog verder gestraf word? Hoekom hou julle aan om in opstand te kom? Julle koppe is stukkend geslaan en julle harte is siek. Julle is stukkend, van kop tot tone – vol kneusplekke, hale en ontsteekte wonde! Julle beserings is nie behandel of verbind nie. Daaraan is nie salf gesmeer nie. Julle land lê in puin en julle stede is afgebrand. Terwyl julle staan en kyk, plunder vreemdelinge julle velde en vernietig alles wat voorkom. Hulle los alles verlate agter. Sion in Jerusalem staan verlate soos die opsigter se skerm in ’n wingerd of landery nadat die oes af is. Die stad is hulpeloos soos ’n stad onder beleg. As die HERE, die Almagtige, nie ’n handjievol van ons gespaar het nie, sou ons uitgewis gewees het net soos Sodom en Gomorra. Luister na die woord van die HERE, julle regeerders van Sodom! Luister na die bepalings van ons God, julle mense van Gomorra! “Ek is siek van julle baie offers,” sê die HERE. “Moenie nog meer brandoffers vir My bring nie! Die vet van julle ramme of ander diere wil Ek nie hê nie. Ek kry geen genot in die bloed van julle bulle én ramme én bokke nie. Wie het julle beveel om voor My te verskyn, om my voorhowe te vertrap? Hou op om huigelagtige offers te bring. Julle wierook is vir My afstootlik. Julle feesvierings op Nuwemaanfees en Sabbatte, julle spesiale vasdae, ook julle vroomste byeenkomste kan Ek nie verdra nie, want dis vol boosheid! “Ek haat julle Nuwemaanfeeste en ander feeste. Dit het ’n las vir My geword en Ek kan dit nie meer verdra nie! Ek sal nie meer kyk wanneer julle julle hande in gebed na My toe uitsteek nie. Selfs al bid julle hoe baie, sal Ek nie luister nie. Want julle hande is vol van die bloed van onskuldige slagoffers. Was julleself en word skoon! Moenie dat Ek verder sien hoe boos julle optree nie. Sien af van julle weë. Leer eers om goed te doen. Sorg dat mense regverdig behandel word. Help mense wat verdruk word. Verdedig die weeskind. Pleit vir die regte van die weduwee. “Kom nou, laat ons die saak uitpraat,” sê die HERE. “Maak nie saak hoe diep die vlek van julle sonde is nie, Ek kan dit verwyder. Ek kan julle so skoon maak soos sneeu wat pas geval het. Selfs al is die vlek so rooi soos purper, Ek kan julle wit maak soos wol. As julle gewillig is en My maar net gehoorsaam, sal julle die goeie gawes van die aarde eet. Maar as julle weier en rebelleer, sal julle deur julle vyande vernietig word. Ek, die HERE, sê so!”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid