GENESIS 46:1-7
GENESIS 46:1-7 Bybel vir almal (ABA)
Jakob het weggegaan uit Kanaän saam met al sy mense. Hy het by die stad Berseba gekom en hy het offers gebring vir die God van sy pa Isak. Jakob het in die nag gedroom dat God hom roep en sê: “Jakob!” En Jakob het geantwoord: “Hier is ek!” Toe sê God: “Ek is God, die God van jou pa Isak. Gaan na die land Egipte en moenie bang wees nie. Ek sal jou nageslag in Egipte baie maak. Hulle sal 'n groot volk word. Ek sal saam met jou gaan na Egipte en Ek sal jou ook later weer laat terugkom hiernatoe. Wanneer jy sterf, sal Josef jou oë toemaak.” Jakob het toe weggegaan uit Berseba. Sy seuns het hulle pa en hulle kinders en hulle vroue op die waens laat ry wat die farao vir hulle gestuur het. Hulle het hulle diere saamgeneem en al die goed wat hulle in Kanaän bymekaargemaak het. Jakob en sy hele nageslag saam met hom het na Egipte gegaan en hulle het daar aangekom. Jakob het sy hele familie saamgeneem na Egipte: sy seuns, sy kleinseuns, sy dogters en sy kleindogters.
GENESIS 46:1-7 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN Israel het weggetrek met alles wat aan hom behoort het, en in Berséba gekom; en hy het offerandes gebring aan die God van sy vader Isak. En God het tot Israel gespreek in naggesigte en gesê: Jakob, Jakob! En hy antwoord: Hier is ek! Toe sê Hy: Ek is God, die God van jou vader. Moenie bevrees wees om na Egipte af te trek nie, want Ek sal jou daar 'n groot nasie maak. Ek sal saam met jou aftrek na Egipte, en Ek sal jou gewis ook weer laat optrek; en Josef sal jou oë toedruk. Daarna het Jakob weggetrek van Berséba af. En die seuns van Israel het hulle vader Jakob met hulle kinders en hulle vroue op die waens gelaai wat Farao gestuur het om hom te vervoer. En hulle het hul vee en besittings geneem wat hulle in die land Kanaän verwerf het, en in Egipte gekom, Jakob en sy hele geslag saam met hom: sy seuns en sy kleinseuns saam met hom; sy dogters en kleindogters en sy hele geslag het hy saam met hom in Egipte gebring.
GENESIS 46:1-7 Afrikaans 1983 (AFR83)
Israel en almal by hom het vertrek. Hy het by Berseba gekom en daar 'n offer gebring aan die God van sy pa Isak. God het dié nag met Israel gepraat in 'n visioen en geroep: “Jakob, Jakob!” Hy het geantwoord: “Hier is ek!” Toe sê God: “Ek is God, die God van jou vader. Moenie bang wees om na Egipte toe te gaan nie, want Ek sal jou daar 'n groot nasie maak. Ek gaan saam met jou Egipte toe, en Ek sal jou beslis weer hierheen laat terugkom. Wanneer jy sterf, sal Josef jou oë toedruk.” Toe Jakob uit Berseba wou vertrek, het die seuns van Israel hulle pa Jakob en hulle kinders en vrouens op die waens laat klim wat deur die farao gestuur is om op te ry. Hulle het hulle vee saamgevat en ook die ander besittings wat hulle in Kanaän bymekaargemaak het. So is Jakob en sy hele nageslag weg Egipte toe: sy seuns en kleinseuns was by hom, ook sy dogters en kleindogters. Hy het sy hele familie saamgevat Egipte toe.
GENESIS 46:1-7 Die Boodskap (DB)
So het dit dan gebeur dat Israel en al sy mense met hulle besittings Kanaän verlaat en Egipte toe getrek het. Op pad het hy by Berseba verbygetrek, waar hy eers stilgehou en geoffer het. Hy het ’n offer gebring vir dieselfde God wat sy pa, Isak, aanbid het. Daardie nag by Berseba het God in ’n visioen met Israel gepraat. Hy het hom geroep: “Jakob, Jakob,” en Israel het geantwoord: “Hier is ek, Here.” God sê toe vir hom: “Ek is God, die God van jou pa, Isak. Moenie bang wees om Egipte toe te gaan nie, want Ek sal jou daar ’n groot nasie maak. Ek trek saam met jou Egipte toe en eendag sal Ek jou weer laat terugkom. Josef sal vir jou sorg en wanneer jy die dag doodgaan, sal hy jou oë toedruk.” Jakob-hulle is ’n dag of wat later uit Berseba weg. Die seuns het Jakob, asook al die vroue en kinders, in die mooi Egiptiese waens van die farao gelaai. Hulle het ook die veekuddes en al die besittings saamgevat wat hulle oor die jare in Kanaän bymekaargemaak het. Na ’n lang ruk het Jakob en al sy mense in Egipte aangekom. Saam met hom was nie net sy seuns nie, maar ook sy kleinseuns. So ook al sy dogters en kleindogters. Ja, Jakob het al sy kinders en sy hele familie Egipte toe geneem.
GENESIS 46:1-7 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Jakob het met al sy besittings die reis na Egipte aangepak. Toe hy Berseba bereik, bring hy offers aan die God van Isak, sy pa. In die nag het God in ’n visioen met hom gepraat. “Jakob! Jakob!” het Hy geroep. “Ek luister,” antwoord Jakob. Toe sê God: “Ek is God, die God van jou pa. Moenie bang wees om Egipte toe te gaan nie, want Ek sal jou daar tot ’n groot nasie maak. Ek gaan saam met jou Egipte toe, maar Ek sal julle weer terugbring. Wanneer jy sterf, sal Josef by jou wees om jou oë toe te druk.” Jakob het gereedgemaak om vanaf Berseba te vertrek, en sy seuns het hom na Egipte toe gebring. Hulle het hulle pa, hulle kinders en hulle vroue op die waens laat klim wat die farao saamgestuur het. Hulle het ook hulle lewende hawe en al die ander besittings wat hulle in Kanaän bymekaargemaak het, saamgeneem. So het Jakob en sy hele nageslag in Egipte aangekom: sy seuns en kleinseuns, sy dogters en kleindogters – sy hele familie.