Genesis 46:1-7

Genesis 46:1-7 DB

So het dit dan gebeur dat Israel en al sy mense met hulle besittings Kanaän verlaat en Egipte toe getrek het. Op pad het hy by Berseba verbygetrek, waar hy eers stilgehou en geoffer het. Hy het ’n offer gebring vir dieselfde God wat sy pa, Isak, aanbid het. Daardie nag by Berseba het God in ’n visioen met Israel gepraat. Hy het hom geroep: “Jakob, Jakob,” en Israel het geantwoord: “Hier is ek, Here.” God sê toe vir hom: “Ek is God, die God van jou pa, Isak. Moenie bang wees om Egipte toe te gaan nie, want Ek sal jou daar ’n groot nasie maak. Ek trek saam met jou Egipte toe en eendag sal Ek jou weer laat terugkom. Josef sal vir jou sorg en wanneer jy die dag doodgaan, sal hy jou oë toedruk.” Jakob-hulle is ’n dag of wat later uit Berseba weg. Die seuns het Jakob, asook al die vroue en kinders, in die mooi Egiptiese waens van die farao gelaai. Hulle het ook die veekuddes en al die besittings saamgevat wat hulle oor die jare in Kanaän bymekaargemaak het. Na ’n lang ruk het Jakob en al sy mense in Egipte aangekom. Saam met hom was nie net sy seuns nie, maar ook sy kleinseuns. So ook al sy dogters en kleindogters. Ja, Jakob het al sy kinders en sy hele familie Egipte toe geneem.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid