GENESIS 4:17-24
GENESIS 4:17-24 Bybel vir almal (ABA)
Kain het seks gehad met sy vrou. Sy het swanger geword en 'n seun gekry. Die seun se naam was Henog. Kain het toe 'n stad gebou en hy het die stad ook Henog genoem. Henog en sy vrou het 'n seun gekry. Sy naam was Irad. Irad se seun was Megujael, en Megujael se seun was Metusael. Metusael se seun was Lameg. Lameg het met twee vroue getrou – die een vrou se naam was Ada, en die ander vrou se naam was Silla. Ada se seun was Jabal. Jabal was die voorvader van die mense wat in tente by hulle skape en bokke gewoon het. Sy broer se naam was Jubal. Hy was die voorvader van die mense wat musiek gemaak het met liere en fluite. Silla se seun was Tubal-Kain. Hy het met koper en yster gewerk. Tubal-Kain se suster was Naäma. Lameg het vir sy vroue gesê: “Ada en Silla, luister na wat ek sê. Ek sal die man doodmaak wat my aanval. Ja, God het gesê as iemand vir Kain doodmaak, dan sal hy baie swaar gestraf word. Maar ek sê: As iemand my doodmaak, dan sal hy nog baie swaarder gestraf word.”
GENESIS 4:17-24 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En Kain het sy vrou beken, en sy het swanger geword en Henog gebaar. Daarna bou hy 'n stad en noem die stad na die naam van sy seun Henog. En vir Henog is Irad gebore; en Irad was die vader van Mehújael; en Mehújael was die vader van Metúsael; en Metúsael die vader van Lameg. En Lameg het vir hom twee vroue geneem. Die naam van die eerste was Ada, en die naam van die tweede Silla. En Ada het Jabal gebaar. Hy was die vader van die tentbewoners en die veeboere. Die naam van sy broer was Jubal. Hy was die vader van almal wat op siters en fluite speel. En Silla het ook gebaar, naamlik Tubal-Kain, 'n smid wat allerhande koper- en ysterinstrumente gemaak het. En die suster van Tubal-Kain was Naéma. En Lameg het aan sy vroue gesê: Ada en Silla, hoor na my stem! Vroue van Lameg, luister na my woord! Voorwaar, ek slaan 'n man dood wat my wond en 'n seun wat my kwes. Want Kain sal sewe maal gewreek word, maar Lameg sewen-en-sewentig maal.
GENESIS 4:17-24 Afrikaans 1983 (AFR83)
Kain het met sy vrou gemeenskap gehad, en sy het swanger geword en vir Henog in die wêreld gebring. Kain het daarna 'n stad begin bou en hy het die stad na sy seun Henog vernoem. Vir Henog is 'n seun Irad gebore, en Irad was die vader van Megujael, en dié was die vader van Metusael, en dié was die vader van Lameg. Lameg was met twee vrouens getroud. Die een was Ada en die ander Silla. Ada het vir Jabal in die wêreld gebring. Hy was die stamvader van dié wat in tente by hulle kuddes woon. Die naam van sy broer was Jubal en hy was die stamvader van dié wat op die lier en die fluit speel. Silla weer het vir Tubal-Kain in die wêreld gebring, en hy was 'n smid, 'n vakman in koper en yster. Sy suster was Naäma. Lameg het vir sy vrouens gesê: “Ada en Silla, luister na my! Vrouens van Lameg, let op my woorde! Ek maak 'n man dood as hy my wond, 'n seun as hy my seermaak. Kain sal sewe maal gewreek word, Lameg sewe en sewentig maal!”
GENESIS 4:17-24 Die Boodskap (DB)
Kain se vrou het verwag en hulle seun Henog is gebore. Kain het intussen ’n groot stad gebou. Hy het dit na sy seun Henog vernoem. Henog se oudste seun was Irad. Irad se seun was Mehujael. Mehujael het ’n seun met die naam Metusael gehad. Metusael was die pa van Lameg. Lameg het twee vroue gehad. Een se naam was Ada en die ander een was Silla. Ada was die ma van Jabal. Hy was die voorouer van die nomades, wat met hulle vee rondtrek en in tente bly. Sy broer se naam was Jubal, en hy was die voorouer van al die musikante. Tubal-Kain was Silla se seun. Hy was die voorouer van die vakmanne wat die allermooiste dinge van koper en yster gemaak het. Tubal-Kain se suster was Naäma. Op ’n dag het Lameg vir sy twee vroue gesê: “Ada en Silla, luister baie mooi en spits julle ore: ek, Lameg, ek duld niks van niemand nie. Ek sal ’n man doodmaak wat my wil wond en ’n seun wat my wil beseer. Kain is sewe keer gewreek, maar ek, Lameg, sal 77 keer gewreek word.”
GENESIS 4:17-24 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Kain het by sy vrou geslaap, sy het swanger geword en geboorte gegee aan Henog. Kain het ’n stad gebou en dit vernoem na sy seun Henog. Henog was die pa van Irad. Irad was die pa van Megujael. Megujael was die pa van Metusael. Metusael was die pa van Lameg. Lameg het met twee vroue, Ada en Silla, getrou. Ada was die ma van Jabal. Hy was die voorvader van die veeboere wat in tente gewoon het. Die naam van sy broer was Jubal. Hy was die voorvader van die musikante wat op die harp en die fluit gespeel het. Tubal-Kain was die seun van Silla. Hy was die voorvader van die metaalwerkers wat instrumente uit koper en yster gemaak het. Sy suster se naam was Naäma. Op ’n dag sê Lameg vir sy twee vroue Ada en Silla: “Vroue van Lameg, hoor wat ek vir julle sê! Luister na wat ek sê. ’n Man wat my wond, maak ek dood, ja, selfs ’n jong man wat my aanval. Kain se dood sal sewe maal gewreek word, maar Lameg s’n 77 maal!”