GÉNESIS 4

4
Kain en Abel. Die afstammelinge van Kain. Set.
1EN die mens het sy vrou Eva beken, en sy het swanger geword en Kain gebaar en gesê: Ek het 'n man verkry met die hulp van die Here.
2Daarna het sy ook sy broer Abel gebaar. En Abel het 'n skaapherder geword, en Kain 'n landbouer.
3En ná verloop van tyd het Kain van die vrugte van die land aan die Here 'n offer gebring.
4En Abel het ook van die eersgeborenes van sy kleinvee gebring, naamlik van hulle vet. En die Here het Abel en sy offer genadig aangesien,
5maar Kain en sy offer nie aangesien nie. Toe word Kain baie kwaad, en hy het sy hoof laat hang.
6En die Here sê vir Kain: Waarom is jy kwaad, en waarom laat jy jou hoof hang?
7Is daar nie verheffing as jy goed doen nie? En as jy nie goed doen nie — die sonde lê en loer voor die deur, en sy begeerte is na jou; maar jy moet daaroor heers.
8En Kain het met sy broer Abel gepraat; en toe hulle in die veld was, het Kain teen sy broer Abel opgestaan en hom doodgeslaan.
9Toe sê die Here vir Kain: Waar is jou broer Abel? En hy antwoord: Ek weet nie. Is ek my broer se wagter?
10En Hy sê: Wat het jy gedoen? Die stem van die bloed van jou broer roep na My van die aarde af.
11Daarom sal jy vervloek wees, ver van die grond wat sy mond oopgemaak het om die bloed van jou broer uit jou hand te ontvang.
12As jy die grond bewerk, sal dit sy vermoë aan jou nie meer gee nie; 'n swerwer en vlugteling sal jy wees op die aarde.
13Daarop sê Kain vir die Here: My skuld is te groot om dit te dra.
14Kyk, U verdryf my nou uit die land uit, en ek moet my verberg vir u aangesig: 'n swerwer en vlugteling sal ek op die aarde wees, en elkeen wat my kry, sal my doodslaan.
15Maar die Here sê vir hom: Daarom, as enigeen Kain doodslaan, sal dit sewevoudig gewreek word. En die Here het 'n teken gegee aan Kain, sodat enigeen wat hom kry, hom nie sou doodslaan nie.
16Toe gaan Kain weg van die aangesig van die Here, en hy het gewoon in die land Nod, aan die oostekant van Eden.
17En Kain het sy vrou beken, en sy het swanger geword en Henog gebaar. Daarna bou hy 'n stad en noem die stad na die naam van sy seun Henog.
18En vir Henog is Irad gebore; en Irad was die vader van Mehújael; en Mehújael was die vader van Metúsael; en Metúsael die vader van Lameg.
19En Lameg het vir hom twee vroue geneem. Die naam van die eerste was Ada, en die naam van die tweede Silla.
20En Ada het Jabal gebaar. Hy was die vader van die tentbewoners en die veeboere.
21Die naam van sy broer was Jubal. Hy was die vader van almal wat op siters en fluite speel.
22En Silla het ook gebaar, naamlik Tubal-Kain, 'n smid wat allerhande koper- en ysterinstrumente gemaak het. En die suster van Tubal-Kain was Naéma.
23En Lameg het aan sy vroue gesê: Ada en Silla, hoor na my stem! Vroue van Lameg, luister na my woord! Voorwaar, ek slaan 'n man dood wat my wond en 'n seun wat my kwes.
24 Want Kain sal sewe maal gewreek word, maar Lameg sewen-en-sewentig maal.
25En Adam het sy vrou weer beken, en sy het 'n seun gebaar en hom Set genoem. Want, het sy gesê, God het my 'n ander kind geskenk in die plek van Abel, omdat Kain hom doodgeslaan het.
26En ook vir Set is 'n seun gebore, wat hy Enos genoem het. Toe het hulle die Naam van die Here begin aanroep.

Tans Gekies:

GÉNESIS 4: AFR53

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid