GENESIS 33:1-12

GENESIS 33:1-12 Bybel vir almal (ABA)

Jakob het gekyk en hy het vir Esau gesien wat na hom toe aankom. Daar was 400 manne by Esau. Jakob het toe die kinders verdeel tussen Lea en Ragel en die twee slavinne. Hy het die slavinne en hulle kinders voor laat loop. Agter hulle het Lea en haar kinders geloop, en Ragel en Josef was laaste. Jakob het voor hulle geloop en hy het sewe maal laag gebuig, tot hy by sy broer gekom het. Esau het na hom toe gehardloop en hy het vir Jakob omhels. Hy het sy arms om Jakob se nek gesit en hom gesoen, en hulle het gehuil. Toe Esau kyk, sien hy die vroue en die kinders en hy vra: “Wie is hierdie mense by jou?” Jakob het geantwoord: “Dit is die kinders wat God vir my gegee het. God was baie goed vir my.” Toe kom die slavinne en hulle kinders nader en hulle buig voor Esau, en ná hulle kom ook Lea en haar kinders nader en hulle buig. Laaste het Josef en Ragel nader gekom en hulle het gebuig. Toe vra Esau: “Hoekom het jy al daardie goed vir my gegee?” En Jakob antwoord: “Dit is 'n present sodat Meneer vriendelik sal wees met my.” Toe sê Esau: “My broer, ek het self baie goed. Hou dit alles, dit moet joune bly.” Maar Jakob het gesê: “Nee, as Meneer vriendelik wil wees met my, dan moet jy asseblief my present aanvaar, want ek het dit vir jou gegee soos 'n mens iets vir God gee. En jy was vriendelik met my. Neem asseblief die present wat ek vir jou gebring het, want God was goed vir my, en ek het alles wat ek moet hê.” So het Jakob aangehou, en Esau het toe die present geneem. Esau het vir Jakob gesê: “Kom ons gaan verder. Ek sal voor jou gaan.”

GENESIS 33:1-12 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN Jakob het sy oë opgeslaan, en toe hy meteens Esau sien aankom en vierhonderd man saam met hom, het hy die kinders onder Lea en Ragel en onder die twee slavinne verdeel. En hy het die slavinne met hulle kinders eerste, en Lea met haar kinders daaragter, en Ragel en Josef laaste opgestel; maar hy self het voor hulle uit gegaan en hom sewe maal na die aarde gebuig, totdat hy by sy broer gekom het. Toe loop Esau hom tegemoet en omhels hom en val hom om die hals en soen hom; en hulle het geween. Daarna het hy sy oë opgeslaan en die vroue en kinders gesien en gesê: Wie het jy daar by jou? En hy antwoord: Die kinders wat God uit genade aan u dienaar geskenk het. En die slavinne het nader gekom, hulle en hulle kinders, en hul neergebuig. En Lea het ook nader gekom met haar kinders en hul neergebuig; en daarna het Josef nader gekom en Ragel en hul neergebuig. Daarop sê hy: Wat is jou bedoeling met daardie hele laer wat ek teëgekom het? En hy antwoord: Om guns te vind in die oë van my heer. Maar Esau sê: Ek het baie, my broer! Wat joue is, laat dit joue bly! Toe antwoord Jakob: Ag nee, as ek nou guns in u oë gevind het, neem dan my geskenk uit my hand aan. Want juis daarom het ek u aangesig te sien gekry soos 'n mens die aangesig van God sien, en u het behae in my gehad. Neem tog my begroetingsgeskenk wat u aangebied is, want God het my genade bewys, en ek het volop. En hy het by hom aangehou, sodat hy dit aangeneem het. Daarop sê hy: Laat ons opbreek en verder trek, en ek sal langs jou trek.

GENESIS 33:1-12 Afrikaans 1983 (AFR83)

Toe Jakob deur die spruit was, het hy vir Esau in die verte sien aankom met vier honderd man by hom. Jakob het die kinders onder Lea en Ragel en die twee persoonlike slavinne verdeel en die slavinne met hulle kinders op die voorpunt gesit. Lea met haar kinders was agter hulle en Ragel en Josef heel agter. Hy self het verbygegaan tot heel voor en toe hy nader na sy broer toe kom, het hy sewe keer diep gebuig. Esau het hom tegemoet gehardloop en hom omhels. Esau het sy arms om Jakob se nek gesit en hom gesoen, en hulle het gehuil. Esau het opgekyk en die vrouens en kinders gesien en toe sê hy: “Wie is al hierdie mense by jou?” Jakob het geantwoord: “Dit is die kinders wat God in sy liefde aan my gegee het.” Die persoonlike slavinne het met hulle kinders nader gekom en gebuig en toe het ook Lea met haar kinders nader gekom en gebuig. Josef en Ragel was heel agter en ook hulle het nader gekom en gebuig. Toe vra Esau: “En wat is jou bedoeling met al daardie goed wat ek gekry het?” en Jakob antwoord: “Dit is om u vriendskap te wen.” Maar Esau sê vir hom: “Broer, ek besit self baie. Wat joune is, moet joune bly.” Toe sê Jakob: “Nee, as u my goedgesind is, moet u my geskenk aanvaar. Ek het na u toe gekom om u goedgesindheid te wen net soos wanneer 'n mens in die teenwoordigheid van God verskyn. En u het my vriendelik ontvang. Aanvaar tog my geskenk wat vir u gebring is, want God was goed vir my en ek het oorgenoeg.” Jakob het by Esau daarop aangedring, en toe aanvaar hy die geskenk. Hy het vir Jakob gesê: “Breek kamp op dat ons verder kan trek. Ek sal vooruit trek om jou te beskerm.”

GENESIS 33:1-12 Die Boodskap (DB)

Jakob het opgekyk en Esau met 400 man in die verte sien aankom. Jakob was bang en het vinnig die kinders en hulle ma’s bymekaargemaak. Hy het hulle in vier groepe opgestel. Vooraan was Silpa en Bilha met hulle kinders. Toe Lea en haar seuns. Heel agter was Ragel en Josef. Jakob het reg voor gaan staan. Stadig maar seker het hulle begin loop. Hy het telkens sewe keer grond toe gebuig totdat hy naby Esau was. Esau het skielik begin hardloop, reguit op Jakob af. Toe hy by hom kom, het hy Jakob omhels. Hy het hom vasgehou, sy kop in sy nek gesit en hom begin soen. Albei broers het gehuil. Esau het die vroue en die kinders gesien en gevra: “En al dié mense? Wie is hulle?” Jakob het na die kinders gewys en gesê: “God het hulle vir my gegee.” Silpa en Bilha het toe hulle kinders gevat en laag voor Esau gebuig. Daarna het Lea en haar kinders vorentoe gestap en gebuig. Die laaste twee was Josef en Ragel. Hulle het ook voor Esau gebuig. Esau het weer gepraat: “Jakob, wat is jou bedoeling met al die troppe vee wat vroeër hier verbygekom het?” “Dit is u s’n, Meneer. Alles is u s’n. Ek het gehoop dit sal u sag maak,” het Jakob gesê. Esau het geantwoord: “Dankie, my broer, maar ek het werklik genoeg diere van my eie. Hou dit liewer vir jouself.” Jakob het vinnig teruggeantwoord: “Nee, asseblief, neem dit. Dit is my geskenk aan jou. As jy dit vat, sal jy my baie gelukkig maak.” En toe voeg hy by: “Ai, Esau, om jou gesig weer te sien is soos om God se gesig te sien. Jy was so goed vir my. Neem dan nou my geskenk. God was goed vir my en ek het meer as genoeg. So, neem dit, asseblief.” Esau het die geskenk toe aanvaar. Esau het gesê: “Ek gaan saam met julle. So, kom ons ry.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid