GENESIS 33:1-12

GENESIS 33:1-12 NLV

Toe Jakob opkyk, sien hy vir Esau en sy 400 man aankom. Jakob verdeel toe die kinders tussen Lea, Ragel en die twee slavinvroue. Hy plaas sy twee slavinvroue met hulle kinders heel voor, Lea en haar kinders agter hulle en heel laaste Ragel en Josef. Jakob self het heel voor gaan staan en sewe keer laag voor Esau gebuig. Maar Esau het aangehardloop gekom, hom om die nek geval en hom gesoen. Albei was in trane. Esau kyk toe na die vroue en kinders en vra: “Wie is hierdie mense saam met jou?” “Dit is die kinders wat God in sy goedheid aan u dienaar gegee het,” antwoord Jakob. Eers kom die slavinvroue en hulle kinders nader en buig voor hom. Toe kom Lea met haar kinders en buig ook voor hom. Laaste kom Ragel en Josef en doen dieselfde. “En wat is jou bedoeling met al daardie goed wat ek gekry het?” vra Esau. “Dit is geskenke om u goeie guns te wen, my heer,” antwoord Jakob. “My broer, ek besit self baie,” sê Esau. “Laat wat aan jou behoort, joune bly.” “Nee, asseblief! Neem dit terwyl u my so goedgesind is,” sê Jakob. “Dis asof ek die glimlag van God sien. Neem asseblief die geskenke, want God was baie goed vir my. Ek het meer as genoeg vir myself.” Jakob het só daarop aangedring dat hy dit moes neem, dat Esau dit uiteindelik aanvaar het. “Nou moet ons gaan,” sê Esau. “Ek sal julle vergesel.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid