EKSODUS 4:27-31
EKSODUS 4:27-31 Bybel vir almal (ABA)
Die Here het vir Aäron gesê: “Gaan ontmoet vir Moses in die woestyn.” Aäron het gegaan en hy het Moses by die berg van God gekry en hom gesoen. Moses het vir Aäron alles vertel wat die Here vir hom gesê het om te doen. Hy het vir hom ook vertel van al die tekens wat hy moes doen. Moses en Aäron het al die leiers van die Israeliete bymekaar laat kom. Aäron het vir hulle alles vertel wat die Here vir Moses gesê het, en Moses het die tekens voor hulle gedoen. Die leiers het dit geglo. Hulle het gehoor dat die Here gedink het aan die Israeliete en dat Hy jammer is vir hulle. Toe het hulle gekniel en gebid.
EKSODUS 4:27-31 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Die HERE het ook aan Aäron gesê: Loop Moses tegemoet in die woestyn. En hy het geloop en hom by die berg van God aangetref en hom gesoen. Daarop vertel Moses aan Aäron al die woorde van die HERE waarmee Hy hom gestuur het, en al die tekens wat Hy hom beveel het. En Moses en Aäron het vertrek en al die oudstes van die kinders van Israel bymekaar laat kom; en Aäron het al die woorde gespreek wat die HERE aan Moses gesê het, en die tekens gedoen voor die oë van die volk. En die volk het geglo. En toe hulle hoor dat die HERE op die kinders van Israel ag gegee en hulle ellende aangesien het, het hulle in aanbidding neergebuig.
EKSODUS 4:27-31 Afrikaans 1983 (AFR83)
Intussen het die Here vir Aäron opdrag gegee om Moses in die woestyn tegemoet te gaan. Hy het gegaan en hom by die berg van God aangetref en met 'n soen gegroet. Moses vertel toe vir Aäron van alles waarvoor die Here hom gestuur het, ook van al die tekens wat Hy hom beveel het om te doen. Moses en Aäron het gegaan en al die leiers van die Israeliete bymekaargeroep. Aäron het hulle alles vertel wat die Here vir Moses gesê het, en daarna het Moses die tekens voor die volk gedoen. Hulle het hom geglo. Toe hulle hoor dat die Here die nood van die Israeliete gesien het en Hom hulle lot aangetrek het, het hulle in aanbidding gebuig.
EKSODUS 4:27-31 Die Boodskap (DB)
Die Here het vir Aäron gesê hy moet vir Moses in die woestyn gaan ontmoet. Hy het toe by die berg van God op hom afgekom. Hy het hom gegroet en hom teen die wang gesoen. Moses vertel toe vir Aäron alles, van hoe die Here hom gestuur het en die wondertekens wat Hy hom gegee het om te doen. Moses en Aäron het toe gegaan en die leiers van Israel bymekaar laat kom. Aäron het vir hulle al die dinge verduidelik wat die Here vir Moses gesê het. Moses het die wondertekens vir hulle gedoen. Die volk het hulle toe geglo. Toe hulle hoor dat die Here die Israeliete gaan help omdat Hy hulle nood raakgesien het, het hulle op hulle knieë geval en tot die Here gebid.
EKSODUS 4:27-31 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die HERE het vir Aäron gesê: “Gaan ontmoet Moses in die woestyn.” Aäron het gegaan en Moses by die berg van God teëgekom. Hy het hom omhels. Moses het vir Aäron alles vertel van die opdrag wat die HERE hom gegee het en die tekens wat hy moes doen. Moses en Aäron is toe terug na Egipte waar hulle al die leiers van die Israeliete bymekaargeroep het. Aäron het vir hulle van alles vertel wat die HERE vir Moses gesê het. Terwyl hulle toekyk, het Moses die tekens gedoen. Die leiers was dadelik oortuig dat die HERE Moses en Aäron gestuur het. Hulle het almal hulle koppe gebuig en op hulle knieë gegaan toe hulle hoor dat die HERE bekommerd is oor Israel en hulle ellende raakgesien het.