Eksodus 4

4
Drie tekens om Israel te oorreed
1Moses vra toe vir die Here: “Wat gebeur as hulle my nie glo nie en nie aanvaar wat ek sê nie? Wat gebeur as hulle sê: ‘Jy het nie regtig die Here ontmoet nie’?”
2Die Here vra hom toe: “Wat het jy daar in jou hand?”
Hy antwoord: “Dis ’n stok.”
3Die Here sê toe: “Gooi dit op die grond neer.” Toe Moses dit op die grond gooi, verander dit in ’n slang. Moses wou weghardloop, 4maar die Here sê vir hom: “Vang die slang aan sy stert.” Toe Moses die slang aan die stert gryp, het dit weer ’n stok in sy hand geword. 5Die Here sê: “Hierdie teken sal hulle oortuig dat jy regtig die Here, die God van hulle voorouers, die God van Abraham, Isak en Jakob, ontmoet het.”
6Die Here het vir Moses ook nog ’n tweede teken gegee. Hy het vir hom gesê: “Steek jou hand in jou klere.” Hy het dit gedoen. Toe hy sy hand uithaal, was dit vol spierwit sere. 7Die Here sê toe: “Steek weer jou hand in jou klere.” Toe hy dit doen en sy hand weer uittrek, was sy vel soos dit voor die tyd was.
8Die Here sê toe: “As die eerste teken hulle nie oortuig om jou woord te aanvaar nie, sal hierdie tweede teken dit doen. 9As hulle selfs na die tweede teken weier om jou te glo en nog steeds nie jou woord wil aanvaar nie, moet jy water uit die Nyl skep en dit op die droë grond uitgooi. Dit sal op die grond in bloed verander.”
Moses soek ’n verskoning
10“Verskoon my, Here,” sê Moses toe vir die Here, “ek was nog nooit goed met woorde nie. Selfs hier waar ons met mekaar praat haak my tong vas as ek iets moet sê.”
11“Wie,” vra die Here hom toe, “dink jy maak dit vir mense moontlik om te praat? Wat maak dat party mense stom en ander doof is, dat party blind is en ander weer kan sien? Is dit nie Ek, die Here, nie? 12Gaan tog nou Egipte toe. Ek sal jou mond laat praat. Ek sal die regte woorde in jou mond laat kom.”
13“Asseblief, Here,” sê Moses weer, “stuur liewer iemand anders.”
14Die Here het toe kwaad geword vir Moses. “Wat van jou broer Aäron wat uit die familie van die Leviete is?” vra die Here. “Ek weet dat hy flink is met die mond. Hy is al klaar op pad om jou te ontmoet. Hy gaan baie bly wees om jou weer te sien. 15Beduie vir hom wat hy moet sê. Ek sal julle help om te praat en Ek sal vir julle wys wat julle moet doen. 16Hy sal in jou plek met die volk praat. Hy sal vir hulle sê wat jy wil hê hulle moet hoor. 17Hou hierdie stok by jou dat jy daarmee die tekens kan doen wat Ek vir jou gewys het om die volk te oorreed.”
Moses vertrek met sy gesin
18Moses het eers teruggegaan na sy skoonpa, Jetro, toe. Hy het vir hom gevra: “Ek wil asseblief teruggaan na my mense in Egipte om te kyk of hulle ooit nog lewe.”
“Sekerlik,” het hy gesê, “jy kan gerus maar gaan.”
19Die Here het reeds in Midian vir Moses die versekering gegee: “Jy kan maar teruggaan Egipte toe. Die mense wat na jou gesoek het om jou dood te maak, leef lankal nie meer nie.” 20Moses het sy vrou en sy seun bymekaargemaak. Hulle is op donkies daar weg, terug Egipte toe. Hy het die stok waaroor God met hom gepraat het, in sy hand vasgehou.
’n Vooruitskouing op gebeure
21Die Here het vir Moses ’n opdrag gegee: “Wanneer jy terug is in Egipte, moet jy na die farao van die land toe gaan. Jy moet voor hom al die wondertekens doen wat Ek vir jou gegee het om te doen. Ek sal die farao egter hardkoppig maak. Hy sal weier om die volk te laat trek. 22Jy moet dan vir hom sê: ‘Die Here sê: Israel is my oudste seun, my seun wat eerste gebore is. 23Ek het jou laat weet dat jy my seun moet toelaat om te gaan om My in die woestyn te aanbid. Jy het geweier om hom te laat gaan. Ek gaan daarom nou jóú oudste en eerste seun laat doodgaan.’”
’n Vreemde gebeurtenis
24Die Here het op Moses afgekom waar hy die nag langs die pad geslaap het. Die Here wou hom doodmaak. 25Sy vrou Sippora vat toe ’n mes wat van klip gemaak was en besny haar seun. Sy gooi toe die velletjie wat sy van haar seun afgesny het voor Moses se voete neer met die woorde: “Jy is my bruidegom. Jy word met bloed beskerm.” 26Toe sy sê “bruidegom wat met bloed beskerm word” het sy na die besnydenis verwys. Die Here het Moses toe laat staan.
Moses en Aäron ontmoet die leiers
27Die Here het vir Aäron gesê hy moet vir Moses in die woestyn gaan ontmoet. Hy het toe by die berg van God op hom afgekom. Hy het hom gegroet en hom teen die wang gesoen. 28Moses vertel toe vir Aäron alles, van hoe die Here hom gestuur het en die wondertekens wat Hy hom gegee het om te doen. 29Moses en Aäron het toe gegaan en die leiers van Israel bymekaar laat kom. 30Aäron het vir hulle al die dinge verduidelik wat die Here vir Moses gesê het. Moses het die wondertekens vir hulle gedoen. 31Die volk het hulle toe geglo. Toe hulle hoor dat die Here die Israeliete gaan help omdat Hy hulle nood raakgesien het, het hulle op hulle knieë geval en tot die Here gebid.

Tans Gekies:

Eksodus 4: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid