Eksodus 34

34
Moses gaan weer teen die berg uit
1Die Here sê toe vir Moses: “Gaan kap vir jou twee plat klippe wat net so lyk soos die twee wat jy stukkend gegooi het. Ek sal weer alles daarop skryf wat op die eerste twee was. 2Jy moet dit teen môreoggend reg hê sodat jy in die oggend teen die berg kan uitklim en by My bo-op die berg kan kom staan. 3Daar mag nie nog iemand anders saam met jou teen die berg uitklim nie. Daar mag nêrens op die berg enigiemand anders te siene wees nie. Daar mag ook nie enige vee of beeste teen die hang van die berg wei nie.”
4Moses het toe twee plat klippe uitgekap wat net soos die eerstes gelyk het. Hy het gemaak soos die Here vir hom gesê het en die oggend vroeg opgestaan. Hy het teen Sinaiberg uitgeklim met die klippe in sy hand.
Moses pleit by God om saam te gaan
5Die Here het in ’n wolk afgekom en by Moses gaan staan. Hy het sy Naam “Die Here” uitgeroep. 6Terwyl die Here by Moses verbygaan, roep Hy uit: “Ek is die Here. Ek is die God wat mense help. Ek is jammer vir mense en geduldig met hulle. Ek bly altyd getrou. Jy kan op My reken. 7Ek bly getrou aan derduisende mense. Ek vergeet alles wat hulle verkeerd gedoen het. Maar Ek laat nie met My mors nie. Ek straf die kinders en die agterkleinkinders vir oortredings van die ouers wat nie na My wou luister nie. Ek onthou wat hulle verkeerd gedoen het vir ’n hele paar geslagte daarna.”
8Moses het dadelik op sy knieë gegaan en tot die Here begin bid. 9Hy het gevra: “Here, as U dan van my hou, gaan dan tog asseblief saam met ons. Ons is regtig ’n hardkoppige volk. Vergeef tog ons sonde en ons oortreding. Aanvaar ons as u eie volk.”
Die Here sluit ’n nuwe ooreenkoms met sy volk
10Die Here antwoord toe: “Kyk, Ek sal ’n nuwe ooreenkoms met julle maak. Ek sal voor die hele volk wonderlike dinge laat gebeur. Sulke dinge het nog nêrens op die aarde gebeur nie. Geen volk het so iets gesien nie. Al die volke rondom julle sal sien wat die Here kan doen. Ek sal groot dinge met jou laat gebeur. 11Besluit nou om alles te doen wat Ek vandag van jou vra. Dan sal Ek die Amoriete, Kanaäniete, Hetiete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete voor julle uit die land uit verdryf.
12“Wees versigtig dat jy nie ’n ooreenkoms sluit met hierdie mense wat in die land bly waarheen jy gaan nie. Jy gaan in ’n strik trap as jy dit doen. 13Jy moet hulle aanbiddingsplekke afbreek. Maak hulle klippilare gelyk met die grond. Kap die pale af wat hulle vir hulle godin Asjera geplant het. 14Moenie ’n ander god aanbid nie. Ek verdra dit nie dat jy ander gode aanbid nie. Ek verwag van jou dat jy in alles net aan My getrou sal wees. 15Moenie ooreenkomste maak met die mense wat reeds in die land woon nie. Wanneer hulle agter hulle gode aandraf en vir hulle offers bring, sal hulle julle uitnooi om saam met hulle aan hulle offermaaltye deel te neem. 16Wanneer julle met hulle begin ondertrou en van hulle meisies vir julle seuns as vroue vat, sal julle dogters en julle seuns agter hulle gode begin aangaan en hulle godsdiens volg. 17Jy mag nie vir jou ’n beeld maak wat uit metaal gegiet is om dit te aanbid nie.”
Die reëls vir die godsdienstige byeenkomste
18“Onthou om die fees van die brood sonder suurdeeg te hou. Soos Ek vir julle gesê het, moet julle sewe dae lank kos eet wat nie suurdeeg in het nie. Julle moet dit gedurende die maand Abib doen. Dit is die maand waarin julle uit Egipte weg is.
19“Al die eerste manlikes wat ’n ma in die wêreld bring, behoort aan My. Dit is jou seun, maar ook die bees of die skaap wat eerste gebore word. 20As dit ’n donkie is, moet jy dit omruil met ’n skaap. As jy dit nie wil omruil nie, moet jy die donkie doodmaak. Jou oudste seun moet jy met geld uitkoop. Niemand mag sonder ’n offer voor My kom nie.
21“Hou ses dae lank aan met jou werk. Op die sewende dag moet jy daarmee ophou. Op daardie dag moet jy rus. Dit maak nie saak of dit ploegtyd of oestyd is nie. 22Hou die oesfees wanneer jy begin oes en die eerste graan van die land af begin kom. Hou ook die fees aan die einde van die oestyd. 23By al drie hierdie feeste moet al jou mansmense die Here, die God van Israel, by sy woonplek kom aanbid. 24Niemand sal julle grond probeer afneem wanneer julle vir hierdie drie feeste weg is van die huis om tot die Here te gaan bid nie. Ek sal die nasies voor jou uit wegjaag. Ek sal die grond wat aan jou behoort, al meer maak. 25Jy mag nooit brood waarin daar suurdeeg is, saam met diere offer nie. Die paaslam by die paasfees mag ook nie oorstaan tot die volgende oggend nie. 26Jy moet die beste deel van die eerste oes wat jy uit die grond haal, vir die Here na sy blyplek toe bring. Jy mag nie ’n boklam offer wat so pas gespeen is nie.”
Moses kom terug
27Die Here het vir Moses gesê: “Skryf hierdie woorde neer. Hulle is die reëls vir my ooreenkoms met jou en Israel.”
28Moses was 40 dae lank daar by die Here op die berg. Hy het niks geëet of gedrink in daardie tyd nie. Die Here het die tien reëls vir sy ooreenkoms met Israel op die plat klippe geskryf wat Moses gekap en saamgebring het.
29Toe Moses van die berg Sinai afkom met die plat klippe in sy hand - die bewys van hulle ooreenkoms met God - het Moses nie geweet dat die vel op sy gesig geblink het nadat hy met God gepraat het nie. 30Toe Aäron en al die Israeliete Moses sien, en hulle sien ook hoe sy gesig blink, het hulle bang geword om naby hom te kom. 31Moses het hulle egter nader geroep. Toe Aäron en al die mans nader kom, het Moses met hulle begin praat. 32Toe al die Israeliete by hom was, het Moses alles wat die Here vir hom op die berg Sinai gesê het, aan hulle oorgedra. 33Toe Moses klaar met hulle gepraat het, het hy ’n doek oor sy gesig gesit. 34-35Wanneer Moses met die Here in die tent gaan praat het, het hy die doek afgehaal totdat hy weer terugkom. As hy weer by hulle terugkom, kon die Israeliete aan sy gesig wat so blink sien dat Moses met die Here gepraat het. Hy sê dan vir hulle alles wat die Here vir hom gesê het. Dan sit hy weer die doek terug oor sy gesig totdat hy weer ’n volgende keer met die Here gaan praat.

Tans Gekies:

Eksodus 34: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid