AMOS 5:1-27

AMOS 5:1-27 Bybel vir almal (ABA)

Mense van Israel, luister na wat ek sê. Ek huil en treur oor julle soos 'n mens treur oor iemand wat dood is: Die mense van Israel het geval, hulle sal nie weer opstaan nie. Hulle het op hulle eie grond geval, en niemand help hulle om op te staan nie. Ja, die Here sê: “Wanneer 1 000 mense van Israel uit 'n stad gaan om oorlog te gaan maak, dan sal 900 sterf. Wanneer 100 manne gaan, dan sal 90 sterf.” Ja, die Here sê vir die mense van Israel: “Julle moet vra wat Ek wil hê julle moet doen, dan sal julle lewe! Julle moenie in die stad Bet-El gaan vra nie, en julle moet ook nie na die stad Gilgal gaan nie. Julle moenie verder gaan na die stad Berseba nie. Die vyande sal die mense van Gilgal vang en na 'n ander land vat en hulle sal Bet-El verwoes.” Vra wat die Here wil hê, dan sal julle lewe! As julle dit nie doen nie, dan sal Hy 'n vuur na julle toe stuur om die Israeliete te brand. Daar sal niemand in Bet-El wees wat die vuur kan doodmaak nie. Julle doen nie reg aan mense nie, julle laat hulle baie swaar kry. Dit is die Here wat die sterre gemaak het, Orion en die Sewe-ster. Hy laat dit lig word ná die nag, Hy laat dit donker word ná die dag. Dit is Hy wat die wolke uit die see bring en wat dit laat reën op die land. Sy Naam is die Here. Die Here maak sterk mense vinnig dood. Hy laat sterk mure omval. Julle haat 'n man wat in die poort praat teen iemand wat verkeerd gedoen het, julle hou nie van 'n man wat die waarheid praat nie. Julle trap op die arm mens, julle vat sy koring. Daarom sal julle nie woon in die huise wat julle gebou het met die klippe wat julle so mooi gekap het nie. Julle sal nie die wyn drink van die mooi wingerde wat julle geplant het nie. Ek weet hoe baie en hoe groot julle sonde is. Julle is vyande van iemand wat reg doen. Julle vat die geld wanneer mense julle wil betaal om verkeerd te doen. In die poort is julle onregverdig met die arm mense. Dit is hoekom verstandige mense stilbly in hierdie tyd. Dit is 'n slegte tyd. Julle sê die Here is by julle. Maar julle moet probeer om goed te doen, moenie doen wat sleg is nie. Dan sal julle lewe, en dan sal die Here, die God wat oor alles regeer, by julle wees. Julle moet haat wat sleg is en julle moet lief wees vir wat goed is, julle moet in die hof reg doen aan mense. Miskien sal die Here, die God wat oor alles regeer, dan jammer wees vir julle, julle Israeliete wat nog lewe. Ja, die Here sê, die God wat oor alles regeer, die Here, sê: “Die mense sal huil en treur op al die oop plekke in die stad, hulle sal in al die strate sug. Hulle betaal mense om te treur, en hulle sal die boere roep om saam te kom treur oor almal wat dood is. Hulle sal in al die wingerde treur, want Ek gaan tussen julle deur om julle te straf.” Dit sê die Here. “Dit sal baie sleg gaan met mense wat wens die dag van die Here moet gou kom. Hoekom wens julle die dag van die Here moet gou kom? Daardie dag sal dit donker wees, daar sal nie lig wees nie. Dit sal wees soos wanneer iemand vir 'n leeu vlug en dan teen 'n beer vasloop, of wanneer iemand in sy huis kom en met sy hand teen die muur druk, en dan is daar 'n slang wat hom byt. Dit sal donker wees op die dag van die Here, dit sal nie lig wees nie. Daardie dag sal swart wees, daar sal niks lig wees nie.” “Ek haat julle feeste, Ek wil nie die feeste hê nie. Ek hou nie van julle gewyde feesdae nie. Julle bring vir My brand-offers en koring-offers, maar Ek wil dit nie hê nie en Ek wil glad nie kyk na die vet diere wat julle bring vir ete-offers nie. Wanneer julle sing, dan is dit nie vir My mooi nie, julle raas net. Hou op sing! Ek wil nie luister wanneer julle musiek maak met 'n harp nie. Ek wil hê julle moet reg doen aan mense. Julle moet aanhou om dit te doen, aanhou soos 'n rivier wat altyd vol is. Mense van Israel, toe julle 40 jaar lank in die woestyn was, het julle nie diere of koring vir My ge-offer nie. Nou sal julle die gode wat julle gemaak het, saam met julle moet dra. Dit is julle ster-gode, julle koning Sikkut, julle afgod Kijun. Die vyande sal julle vang en hulle sal julle wegvat tot ver anderkant die stad Damaskus,” sê die Here. Sy Naam is die Here, God wat oor alles regeer.

AMOS 5:1-27 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

HOOR hierdie woord wat Ek oor julle as klaaglied aanhef, o huis van Israel! Die jonkvrou van Israel het geval, sy sal nie weer opstaan nie; neergewerp lê sy op haar land, niemand rig haar op nie. Want so sê die Here HERE: Die stad wat met duisend uitgetrek het, hou honderd oor; en die wat met honderd uitgetrek het, hou tien oor vir die huis van Israel. Want so sê die HERE aan die huis van Israel: Soek My, dan sal julle lewe! Maar soek Bet-el nie, en kom nie na Gilgal nie en trek nie deur na Berséba nie. Want Gilgal sal gewis in ballingskap gaan, en Bet-el sal tot niks word nie. Soek die HERE, dan sal julle lewe, sodat Hy nie teen die huis van Josef uitbreek soos 'n vuur wat verteer sonder dat iemand dit vir Bet-el kan blus nie. Julle wat die reg in wildeals verander en die geregtigheid teen die grond gooi! Hy wat die Sewe-ster en die Oríon gemaak het en die duisternis in môrelig verander en die dag tot nag verduister, wat die waters van die see roep en dit uitgiet oor die oppervlakte van die aarde — HERE is sy Naam! Hy wat verwoesting laat aanblits oor die sterke, en verwoesting kom oor die vesting! Hulle haat die man wat in die poort die reg handhaaf, en hulle het 'n afsku van hom wat in opregtheid spreek. Daarom, omdat julle die arm man vertrap en van hom 'n heffing van koring neem, het julle huise van gekapte klippe gebou, maar julle sal nie daarin woon nie; julle het pragtige wingerde geplant, maar julle sal die wyn daarvan nie drink nie. Want Ek weet dat julle oortreding menigvuldig en julle sondes geweldig is, julle wat die vyande is van die regverdige, wat omkoopgeld aanneem en die behoeftiges wegstoot in die poort. Daarom swyg die verstandige in so 'n tyd, want dit is 'n onheilspellende tyd. Soek wat goed is, en nie wat sleg is nie, sodat julle kan lewe en die HERE, die God van die leërskare, só met julle kan wees soos julle sê. Julle moet haat wat sleg is en liefhê wat goed is, en handhaaf die reg in die poort — miskien sal die HERE, die God van die leërskare, Hom ontferm oor die oorblyfsel van Josef. Daarom, so sê die HERE, die God van die leërskare, die Here: Op al die pleine weeklag! En op al die strate sal hulle sê: Ag, ag! En hulle sal na die landbouer roep om te treur, en te weeklaag na die wat verstaan om treurliedere te sing. Ook sal daar in al die wingerde weeklag wees wanneer Ek in jou midde deurtrek, sê die HERE. Wee die wat na die dag van die HERE verlang! Wat sal tog die dag van die HERE vir julle wees? Dit sal duisternis wees en geen lig nie. Soos wanneer iemand vlug vir 'n leeu, maar 'n beer loop hom raak; of hy kom in die huis en leun met sy hand teen die muur, en 'n slang byt hom! Is die dag van die HERE nie duisternis en geen lig nie, ja, donkerheid sonder 'n ligstraal? Ek haat, Ek versmaad julle feeste en het geen welgevalle aan julle feestye nie. Want al bring julle vir My brandoffers saam met julle spysoffers, Ek het daar geen welbehae in nie, en die dankoffer van julle vetgemaakte kalwers sien Ek nie met welgevalle aan nie. Verwyder van My die geraas van jou liedere! En na die geluid van jou harpe wil Ek nie luister nie. Maar laat die reg aanrol soos watergolwe, en geregtigheid soos 'n standhoudende stroom. Het julle aan My slagoffers en spysoffers gebring veertig jaar lank in die woestyn, o huis van Israel, en ook gedra Sakkut, julle koning, en Kewan, julle beelde, julle stergod wat julle vir julle gemaak het? Daarom sal Ek julle anderkant Damaskus in ballingskap wegvoer, sê die HERE wie se Naam God van die leërskare is.

AMOS 5:1-27 Afrikaans 1983 (AFR83)

Hoor hierdie woord wat ek teen julle moet sê, hierdie treurlied, Israel: Israel het geval en hy sal nie weer opstaan nie; hy lê neergegooi op sy grond en niemand help hom op nie. So het die Here my God gesê: Die stad wat met duisend gaan aanval, hou net honderd oor, en dié een wat met honderd aanval, hou net tien oor vir Israel. So sê die Here vir Israel: Vra na my wil, dan sal julle lewe! Moenie in Bet-El gaan raad soek nie, moenie na Gilgal toe gaan of verbygaan Berseba toe nie. Gilgal sal in ballingskap weggevoer word, en Bet-El sal tot niet gaan. Vra na die wil van die Here, dan sal julle lewe! As julle dit nie doen nie, sal die Here vir Josef soos 'n vuur tref, 'n vuur wat vir Bet-El sal verteer sonder dat iemand dit kan blus. Julle maak van die regspraak 'n bitter saak, julle trap die reg in die grond in. Hy deur wie die Sewester en Orion gemaak is, Hy wat die donker in oggendlig verander en die dag donker nag laat word, Hy wat die water van die see roep en dit oor die aarde uitstort, sy Naam is die Here. Dit is Hy wat die magtige met vernietiging tref, wat vernietiging oor die vestingstad bring. Julle haat dié wat vir die reg opkom in die howe, julle verafsku dié wat die waarheid praat. Omdat julle die arm mens vertrap en van hom koring afpers, sal julle nie woon in die huise van gekapte klip wat julle bou nie en sal julle nie die wyn drink van die pragtige wingerde wat julle plant nie. Ek weet hoe baie julle oortredings is, hoe groot julle sondes is, julle wat die vyande is van dié wat reg doen, julle wat julle laat omkoop en nie aan die armes reg laat geskied nie. Dit is daarom dat 'n verstandige mens maar stilbly in hierdie tyd, want dit is 'n bose tyd. Probeer goed doen, nie verkeerd nie, dat julle kan lewe! Dan sal die Here die almagtige God so by julle wees soos julle sê dat Hy is. Julle moet haat wat verkeerd is, julle moet liefhê wat goed is, julle moet opkom vir die reg in die howe. Dan sal die Here die almagtige God Hom dalk ontferm oor wat daar van Josef oor is. So sê die Here, die almagtige God, die Here: Die mense sal treur op al die oop ruimtes, hulle sal op al die strate sê: “Ag tog, ag tog!” Hulle sal die boere en die treursangers roep om saam te kom treur. Daar sal ook in al die wingerde getreur word, want Ek gaan tussen julle deur om julle te straf, sê die Here. Ellende wag vir dié wat smag na die dag van die Here! Waarom verlang julle na die dag van die Here? Dit sal donker bring, nie lig nie; dit sal wees soos wanneer iemand vir 'n leeu vlug en 'n beer val hom aan, of soos wanneer iemand tuiskom en hy leun met sy hand teen die muur en 'n slang pik hom. Die dag van die Here bring donker, nie lig nie, net duisternis, nie 'n ligstraal nie. Ek haat, Ek verafsku julle feeste, Ek het niks aan julle feestye nie. Al bring julle vir My brandoffers en graanoffers, dit is nie vir My aanneemlik nie, en Ek kyk nie eens na julle maaltydoffers van vetgevoerde kalwers nie. Gee pad voor My met die rumoer van jou gesing; Ek wil nie jou harpmusiek hoor nie! Maar laat die reg en die geregtigheid te voorskyn kom, laat dit aanrol soos watergolwe, soos 'n standhoudende stroom. Moes julle vir My die veertig jaar in die woestyn diereoffers en graanoffers bring, Israel? Julle sal julle koning Sikkut en julle afgodsbeeld Kijun, dié stergode wat julle vir julle gemaak het, moet dra wanneer Ek julle in ballingskap laat wegvoer ver by Damaskus verby, sê die Here. Sy Naam is Almagtige God.

AMOS 5:1-27 Die Boodskap (DB)

Luister na die woorde van die lied wat op julle begrafnis gesing gaan word, Israel: “Israel was ’n jongmeisie. Sy het so diep in die sonde weggesak dat sy nooit weer daar kan uitkom nie. Sy het so diep in die moeras van verkeerde dinge weggesak dat niemand haar ooit weer daaruit kan trek nie.” Die Here sê oor Israel: “Van die stad waarvan daar 1 000 soldate weggegaan het om in die oorlog te gaan veg, het daar net 100 teruggekom wat nog lewe. “Van die dorp waaruit 100 man gaan veg het, het 10 by die huis teruggekom.” Dit is wat die Here vir Israel sê: “Kom terug na My toe, dan sal julle bly lewe. Moenie My gaan soek by die plek van aanbidding by Bet-El nie. Moenie na die altaar by Gilgal toe gaan nie. Moenie aftrek na Berseba om daar te gaan bid nie. Die pad waarlangs die vyand julle uit julle land sal wegvat, begin by Gilgal. Bet-El is die plek waar ’n ramp julle gaan tref. Soek na die Here self, dat julle kan bly leef. As julle nie by Hom uitkom nie, sal Hy soos ’n vuur wees wat Josef se nageslag gaan wegbrand. Dit sal Israel heeltemal laat verdwyn. By Bet-El sal dit so erg brand dat niks dit sal kan keer nie.” “Julle verdraai die wet en die dinge wat reg is, só dat alles eintlik bitter onregverdigheid word. Julle trap die dinge wat regverdig is, in die grond in weg.” “Hy wat tussen die sterre in die lug die Sewester en die Orion gemaak het, wat donker nag weer lig kan laat word in die oggend, die dag kan omdraai dat dit donker nag kan word, wat die waters van die see in ’n bondel bymekaarmaak in wolke wat reën uitgooi oor die aarde, sy Naam is ‘Die Here’. “Hy kan geweldige sterk mense in ’n oomblik op hulle knieë bring, Hy kan sterk vestingmure in ’n oomblik inmekaar laat stort.” “Julle haat mos mense wat regverdig wil wees. Julle is mos hatig op mense wat die waarheid praat in die hof. Omdat julle die armes onderdruk en hulle afpers, sal julle nooit self bly in die mooi huise wat julle vir julle van klip gebou het nie, en sal julle nooit die wyn drink wat uit die wingerde kom wat julle aangeplant het nie. Ek weet van alles wat julle verkeerd gedoen het. Ek weet van al die baie sondes wat julle doen. Julle vat omkoopgeld. Julle jaag die man weg wat reg is. In die hof kies julle kant teen die arm mense. In hierdie tyd met al sy onregverdige dinge is dit die verstandigste om maar liewer stil te bly.” “Probeer om eerder goed te doen as kwaad. Julle sal dan voorspoedig lewe. Dit sal dan regtig gebeur soos julle gehoop het. Die Here, die God wat baie sterk is, sal by julle bly. Verwerp alles wat lelik is. Slaan julle arms om alles wat goed is en druk dit teen julle vas. Sorg dat die uitsprake in julle hof altyd regverdig is. Miskien sal die Here, die God wat baie sterk is, goed wees vir dié wat nog van Josef se nageslag oorgebly het.” “Omdat dit gebeur het,” sê die Here, die God wat so sterk is, “sal daar gehuil word op die oop plekke in die stad waar die mense bymekaarkom. In die strate daarbuite sal hulle loop en roep: ‘Ai tog, ai tog!’ Hulle sal die boer van sy lande af roep en die mense wat betaal word om op begrafnisse te kom huil sodat hulle ook saam kan kom huil. Ek sal deur julle land gaan om julle te straf. By elke plek waar Ek kom, selfs in die wingerde waar die druiwe groei, sal daar gehuil word,” sê die Here. “Daar wag ’n verskriklike teleurstelling vir die mense wat nie meer kan wag dat die dag van die Here moet kom nie. Wat dink julle gaan op daardie dag met julle gebeur? Daardie dag gaan vir julle nag wees. Vergeet daarvan dat dit vir julle ’n dag gaan wees waarop julle gered sal word. Dit sal op daardie dag wees soos iemand wat weghardloop vir ’n leeu en hom dan vashardloop in ’n beer. As hy hardloop om in sy huis te gaan wegkruip en hy druk met sy hand teen die muur, pik ’n slang hom wat tussen die klippe van die muur bly. “Die dag van die Here bring nie vir julle enige uitkoms nie. Dis ’n donker dag van vrees. Daar sal nie enigiets op daardie dag gebeur waarop julle kan hoop nie.” “Ek hou glad nie van hierdie feeste wat julle vir My hou nie. Ek het hoegenaamd geen plesier daarin wanneer julle bymekaarkom om tot My te bid nie. “Ek het niks daaraan wanneer julle vir My offers op die altaar brand of graan vir My kom aanbied nie. Ek sien dit nie eens raak wanneer julle offers bring wat julle saam met My wil eet nie. Dit roer My nie eens as julle diere kom offer wat julle vir My vetgemaak het nie. Spaar My die lawaai wat julle maak as julle vir My sing. Ek wil nie luister na die harpmusiek wat julle vir My maak nie. “Wees eerder regverdig. Laat dit aangerol kom soos branders by die see. Laat eerder alles wat regverdig is deur julle lewe vloei soos ’n rivier wat nooit gaan staan nie. “Het julle toe julle 40 jaar lank in die woestyn was, vir My offers gebring van diere wat julle geslag het of offers waarvan julle julle deel saam met My geëet het daar by my tent, Israel? Was dit nie eerder die stergod koning Sikkut en julle afgodsbeeld Kijun wat julle in julle hart saamgedra het nie? “Ek gaan julle vyand laat kom en julle wegvat uit julle land tot ver anderkant Damaskus verby,” sê die Here. “Ek is God. Ek is verskriklik sterk.”

AMOS 5:1-27 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Volk van Israel, luister na die woorde van die treurlied wat ek oor julle sing: “Die jong meisie Israel het geval. Sy sal nie weer opstaan nie! Sy lê verlate op die grond met niemand om haar op te help nie.” So sê die oppermagtige HERE: “As ’n stad in Israel 1 000 manskappe uitstuur, sal net 100 oorleef. As ’n stad 100 manskappe uitstuur, sal net tien dit oorleef.” Verder sê die HERE vir die volk Israel: “Kom terug na My toe, en leef! Moenie afgode raadpleeg in Bet-El nie. Moet ook nie na Gilgal gaan of na Berseba toe nie. Die mense van Gilgal sal in ballingskap gaan. Niks sal oorbly van die mense van Bet-El nie.” Kom terug na die HERE toe en leef! As julle dit nie doen nie, sal Hy soos vuur deur die nageslag van Josef trek. Die vlamme sal Bet-El verteer sonder dat iemand dit blus. Julle verdraai die reg tot onreg, regverdigheid verwerp julle. Hy, die Skepper van die Sewester en Orion, sy Naam is HERE. Hy verander donkernag in môrelig en die dag in nag. Hy roep die water uit die see en giet dit weer oor die aarde. In ’n oogwink oorweldig Hy magtige mense en vernietig Hy vestings. Julle haat eerlike regters. Julle verafsku mense wat die waarheid praat. Julle vertrap die armes en eis ’n deel van hulle graan. Daarom, omdat julle dit doen, sal julle nooit kan woon in die deftige steenhuise wat julle bou nie. Julle het wingerde aangeplant, maar julle sal nooit drink van die wyn wat dit oplewer nie. Ek weet hoeveel oortredings julle het en hoe groot julle sondes is. Julle onderdruk goeie mense deur omkoopgeld te eis. Julle ontneem die armes van hulle reg in die howe. ’n Verstandige mens bly in hierdie tyd eerder stil omdat dit ’n tyd vol onreg is. Doen wat goed is en vlug vir die kwaad, dan sal julle lewe! Dan sal Hy, die HERE God, die Almagtige, by julle wees soos julle gesê het dat Hy is. Julle moet die bose haat en die goeie liefhê. Sorg dat regverdigheid in die howe seëvier. Miskien sal die HERE God, die Almagtige, nog genade hê vir dié wat oorgebly het van Josef se nageslag. Die HERE God, die Almagtige, die Here, sê: “Omdat dit gebeur het, sal mense op die pleine en op al die strate uitroep van smart. Roep die boere op om saam met julle te huil en die gehuurde rouklaers om te kla. Selfs in die wingerde sal mense huil, want Ek beweeg onder julle om julle te straf,” sê die HERE. HERE Daar wag ’n ontnugtering op julle wat uitsien na die Dag van die HERE. Waarom wens julle dat die Dag van die HERE moet kom? Dit gaan ’n donker dag wees, nie ’n dag van lig nie. Dit sal wees soos iemand wat weghardloop vir ’n leeu, maar hom vasloop teen ’n beer. En wanneer hy by die huis kom en met sy hand leun teen die muur, word hy deur ’n slang gepik. Die Dag van die HERE sal ’n donker dag wees, sonder enige lig van hoop. ’n Somber en uitsiglose dag! “Ek haat, Ek verafsku julle feeste. Ek vind geen plesier in julle samekomste nie. Ek sal nie julle brandoffers en graanoffers aanvaar nie. Ek sal My nie eers steur aan die vetgemaakte diere wat julle as offers bring nie. Hou op om lofliedere te sing, dit is net ’n geraas! Ek sal ook nie na die melodieë van julle harpe luister nie. Ek wil liewer ’n vloed van regverdigheid sien, ’n eerlike leefwyse soos ’n stroom water wat nie ophou vloei nie. “Israel, was dit vir My dat julle 40 jaar lank brandoffers en graanoffers in die woestyn gebring het? Nee, dit was eerder vir die koninggod Sikkut en die stergod Kijun wat julle self gemaak en saamgedra het. Daarom sal Ek julle wegstuur in ballingskap, na ’n land oos van Damaskus.” Dit sê Hy wat genoem word die HERE God, die Almagtige.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid