HANDELINGE 8:29-31
HANDELINGE 8:29-31 Bybel vir almal (ABA)
Die Heilige Gees het vir Filippus gesê: “Jy moet nader gaan tot by die wa.” Toe Filippus naby die wa kom, hoor hy dat die man lees uit die boek van die profeet Jesaja. Filippus vra toe vir hom: “Verstaan jy wat jy lees?” Die man sê: “Hoe kan ek dit verstaan? Iemand moet dit vir my verduidelik.” Toe sê hy Filippus moet op die wa klim en hy moet langs hom kom sit.
HANDELINGE 8:29-31 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe sê die Gees vir Filippus: Gaan nader en sluit aan by hierdie wa. En Filippus het daarheen na hom gehardloop en hom die profeet Jesaja hoor lees en gesê: Verstaan jy wat jy lees? En hy sê: Hoe kan ek as iemand my nie lei nie? En hy het Filippus gevra om op te kom en by hom te sit.
HANDELINGE 8:29-31 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Toe sê die Gees vir Filippus: Gaan daarheen en bly by daardie wa. En Filippus het daarheen gehardloop en hom die profeet Jesaja hoor lees; en hy sê: Verstaan u wel wat u lees? En hy antwoord: Hoe kan ek tog as niemand my die weg wys nie? Toe vra hy Filippus om op te klim en by hom te kom sit.
HANDELINGE 8:29-31 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe sê die Gees vir Filippus: “Gaan loop saam met daardie wa.” Filippus het daarheen gehardloop en gehoor dat die man uit die profeet Jesaja lees. Hy vra toe vir hom: “Verstaan u wat u lees?” Die Etiopiër antwoord: “Hoe sou ek kon as niemand dit vir my uitlê nie?” Hy het Filippus gevra om op te klim en by hom te kom sit.
HANDELINGE 8:29-31 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Toe sê die Gees vir Filippus: “Gaan nader en bly by daardie wa.” Filippus het nader gehardloop, hom die profeet Jesaja hoor lees, en gevra: “Verstaan u wat u lees?” Hy het geantwoord, “Hoe sou ek kon, as niemand dit vir my verduidelik nie?” en Filippus genooi om op die wa te klim en by hom te kom sit.
HANDELINGE 8:29-31 Die Boodskap (DB)
Die Heilige Gees sê toe vir Filippus: “Gaan na daardie man toe. Klim by hom op sy wa.” Filippus het vinnig nader gehardloop en gehoor hoe die amptenaar uit die profeet Jesaja sit en lees. “Verskoon tog, Meneer, maar verstaan jy wat jy daar lees?” het hy hom gevra. “Nee, want ek het niemand om vir my te verduidelik wat dit alles beteken nie,” het die Etiopiër geantwoord. “Maar wag, klim hier langs my op die wa. Dalk kan jy my help,” het hy vir Filippus gesê.
HANDELINGE 8:29-31 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Toe het die Gees vir Filippus gesê: “Gaan loop langs sy wa.” Filippus het nadergedraf en gehoor dat die man uit die profeet Jesaja lees. Hy vra hom toe: “Verstaan u wat u lees?” Die Etiopiër het geantwoord: “Hoe kan ek as niemand dit vir my verduidelik nie?” Hy het Filippus toe mooi gevra om op te klim en by hom te kom sit.