Handelinge 8

8
1Saulus het die moord op Stefanus goedgekeur.
Hewige vervolging
Op daardie dag het daar 'n hewige vervolging teen die •gemeente in Jerusalem ontstaan, en almal behalwe die •apostels is deur die streke van Judea en Samaria verstrooi. 2Vroom manne het Stefanus begrawe en uitermate oor hom gerou. 3 Maar Saulus het die gemeente probeer uitroei deur huis ná huis binne te dring, mans sowel as vroue na buite te sleep, en hulle in die tronk te laat gooi.
Filippus in Samaria
4 Dié wat verstrooi is, het rondgetrek en die evangeliewoord verkondig. 5En Filippus het na 'n stad in Samaria gegaan en die Christus aan hulle verkondig. 6Toe die skare Filippus se woorde hoor en die tekens sien wat hy doen, het hulle eenparig aandag gegee aan wat hy sê. 7Want die •onrein geeste in baie mense het met 'n groot geskreeu uit hulle uitgegaan, en talle verlamdes en kreupeles is genees. 8En daar het groot vreugde in daardie stad geheers.
9Voorheen was daar in die stad 'n man met die naam Simon, wat towery bedryf en die bevolking van Samaria verstom het, en beweer het dat hy iets besonders is. 10En almal, klein en groot, het hom aangehang en gesê: “Hy is die krag van God, bekend as die Groot Krag.” 11Hulle het hom aangehang, omdat hy hulle al vir 'n geruime tyd met sy magiese kunste verbyster het. 12Maar toe hulle Filippus se verkondiging van die evangelie van die •koninkryk van God en die Naam van Jesus Christus glo, is mans sowel as vroue gedoop. 13Simon self het ook tot geloof gekom, en nadat hy gedoop is, het hy heeltyd by Filippus gebly, en was verbaas om die tekens en kragtige dade te sien gebeur.
14Toe die •apostels in Jerusalem hoor dat Samaria die woord van God aangeneem het, het hulle •Petrus en Johannes daarheen gestuur. 15Hulle het gegaan en vir hulle gebid dat hulle die Heilige Gees mag ontvang, 16want Hy het toe nog op niemand van hulle neergedaal nie; hulle was net gedoop in die Naam van die Here Jesus. 17 Hierna het die apostels hulle die hande opgelê, en hulle het die Heilige Gees ontvang. 18Toe Simon sien dat die Gees deur die handoplegging van die apostels geskenk word, het hy hulle geld aangebied, 19met die woorde: “Gee vir my ook hierdie mag, sodat elkeen vir wie ek die hande oplê, die Heilige Gees ontvang.” 20Maar Petrus het vir hom gesê: “Mag jou geld saam met jou in die verderf beland, omdat jy gedink het om die gawe van God deur geld te verkry! 21Jy het geen aandeel of aanspraak in hierdie saak nie, want jou hart is nie opreg voor God nie. 22Bekeer jou van hierdie boosheid van jou, en bid die Here dat die bedoeling van jou hart vergewe mag word, 23want ek sien jy is galbitter en in ongeregtigheid verstrik. ” 24Maar Simon het geantwoord en gesê: “Bid julle tot die Here vir my dat niks van wat julle gesê het, my oorkom nie.”
25Nadat hulle kragtig getuig en die woord van die Here verkondig het, het hulle na Jerusalem teruggekeer en die evangelie in talle Samaritaanse dorpe verkondig.
Filippus en die hofdienaar van Ethiopië
26'n Engel van die Here het vir Filippus gesê: “Maak gereed en gaan na die suide, met die pad wat van Jerusalem afwaarts loop na Gasa. Dit is 'n verlate pad.” 27 Hy het toe gereedgemaak en vertrek. En kyk, daar was 'n man van Ethiopië, 'n eunug, 'n hoë amptenaar van die kandake, die koningin van die Ethiopiërs, wat in beheer van haar hele skatkis was en na Jerusalem gegaan het om te aanbid. 28Hy was op pad terug, en het op sy wa die profeet Jesaja gesit en lees. 29Toe sê die Gees vir Filippus: “Gaan nader en bly by daardie wa.” 30Filippus het nader gehardloop, hom die profeet Jesaja hoor lees, en gevra: “Verstaan u wat u lees?” 31Hy het geantwoord, “Hoe sou ek kon, as niemand dit vir my verduidelik nie?” en Filippus genooi om op die wa te klim en by hom te kom sit. 32Die Skrifgedeelte wat hy besig was om te lees, was:
“Soos 'n skaap is Hy ter slagting gelei,
en soos 'n lam wat stom is
voor sy skeerder,
so maak Hy sy mond nie oop nie.
33In sy vernedering is regspraak
Hom ontneem,
en wie sal sy nageslag kan opnoem?
Want sy lewe word van die aarde
weggeneem.”
34Die eunug sê toe vir Filippus: “Ek vra jou, van wie sê die profeet dit – van homself of van iemand anders?” 35Filippus het begin praat, en vanuit hierdie Skrifgedeelte die evangelie van Jesus aan hom verkondig. 36Langs die pad kom hulle by 'n plek waar daar water is. Die eunug sê toe: “Kyk, water! Wat verhoed dat ek gedoop word?” 38Hy het opdrag gegee dat die wa moet stilhou; en hulle het albei afgeklim tot in die water, Filippus sowel as die eunug, en hy het hom gedoop. 39Toe hulle uit die water opklim, het die Gees van die Here Filippus weggeneem; en die eunug het hom nie meer gesien nie, maar hy het sy reis met blydskap voortgesit. 40 Filippus, egter, is in Asdod gevind. En soos wat hy rondgereis het, het hy die evangelie in al die stede verkondig, totdat hy in Caesarea aangekom het.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid