HANDELINGE 8:12-13
HANDELINGE 8:12-13 Die Boodskap (DB)
Filippus het alles kom verander. Toe hy met die mense begin praat oor God se nuwe wêreld wat met Jesus se koms aangebreek het, het baie mense tot bekering gekom. Filippus moes omtrent bontstaan om almal te doop wat in Jesus begin glo het. Selfs Simon het tot geloof gekom en hom laat doop. Hy het oral agter Filippus aangestap, stom van verbasing oor al die groot dinge wat hy gedoen het.
HANDELINGE 8:12-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Nou het die mense egter Filippus se Goeie Nuus oor die koningsheerskappy van God en die Naam van Jesus Christus in die geloof aanvaar. Gevolglik is baie mans en vroue gedoop. Selfs Simon het gelowig geword, en is gedoop. Hy het Filippus oral begin vergesel, en hy was verstom oor die wondertekens en groot kragte wat hy sien gebeur het.
HANDELINGE 8:12-13 Bybel vir almal (ABA)
Maar toe het Filippus gekom en hy het die goeie boodskap gebring dat God Koning is, die boodskap oor die Naam van Jesus Christus. Toe het die mense vir Filippus begin glo, en hulle is gedoop, die mans én die vroue. Simon het self ook begin glo. Nadat hy gedoop is, het hy die hele tyd by Filippus gebly. Hy het die tekens en wonderwerke gesien wat gebeur het, en hy was baie verbaas.
HANDELINGE 8:12-13 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Maar toe hulle Filippus geglo het, wat die evangelie aangaande die koninkryk van God en die Naam van Jesus Christus verkondig het, is hulle gedoop, manne sowel as vroue. En Simon het ook self gelowig geword, en nadat hy gedoop was, gedurig by Filippus gebly; en hy was verbaas toe hy die tekens en groot kragte sien gebeur.
HANDELINGE 8:12-13 Afrikaans 1983 (AFR83)
Maar toe Filippus die evangelie van die koninkryk van God en die Naam van Jesus Christus aan hulle verkondig het, het hulle gelowig geword, en mans sowel as vrouens is gedoop. Selfs Simon het gelowig geword. Hy is gedoop en het Filippus oral vergesel. Hy was verstom oor die groot tekens en kragte wat hy sien gebeur het.
HANDELINGE 8:12-13 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Maar toe hulle Filippus se verkondiging van die evangelie van die •koninkryk van God en die Naam van Jesus Christus glo, is mans sowel as vroue gedoop. Simon self het ook tot geloof gekom, en nadat hy gedoop is, het hy heeltyd by Filippus gebly, en was verbaas om die tekens en kragtige dade te sien gebeur.
HANDELINGE 8:12-13 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Maar toe hulle Filippus geglo het wat die dinge verkondig aangaande die koninkryk van God en die Naam van Jesus Christus, is hulle gedoop, mans sowel as vroue. Toe het Simon self ook geglo, en toe hy gedoop is, het hy by Filippus gebly en hom verwonder toe hy die wonders en tekens aanskou wat gebeur het.